Alle Paaie lei na Jesus: Verskillende houdings teenoor die wet

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Verskillende houdings teenoor die wet – Adrio König

3.8 Verskillende houdings teenoor die wet

Wat kry ons nou as ons terugkyk? Onder Jesus en die gelowiges het ons vier verskillende reaksies op die wet gekry. Mense wat graag van die evangelie ’n bespotting wil maak, sal maklik na hierdie verskille kyk en beweer dat daar onversoenbare houdings onder die vroeë Christene was.

Maar kom ons kyk hierna. Dit gaan oor Jesus self, oor die Christen-Jode, oor Paulus en oor die Hebreërskrywer.

  • Jesus aanvaar die wet en bring die kern van die wet na vore.
  • Die Christen-Jode eis dat die wet by geloof in Christus moet bykom om in die heil te kan deel.
  • Paulus verwerp die wet as heilsmiddel.
  • Die Hebreërbrief verwerp die wet radikaal as volkome minderwaardig teenoor Christus.

 

Jesus Ons het van die begin af gesien dat Jesus die wet hoog geag het. Hy het selfs die doel van sy koms omskryf in terme van die wet. En dis duidelik dat Hy die doel van sy koms juis téénoor mense formuleer wat gedink het Hy gaan die wet afskaf: “Moenie dink Ek het gekom om die wet en die profete ongeldig te maak nie. Ek het gekom om … hulle hulle volle betekenis te laat kry” (Matt 5:17).

Wanneer Jesus dan een vir een op die Tien Gebooie ingaan, blyk dit dat Hy téénoor die letterlike uitvoering van die wet, die diep geestelike betekenis na vore bring: nie net letterlik iemand vermoor nie, maar iemand met jou woorde of jou kyk vermoor; nie net fisiek onrein wees nie, maar in jou gedagtes. ’n Kenmerk van Jesus se houding is dan ook om die hele wet in een of twee kerngebooie saam te vat en só tot die hart van die wet deur te dring. Ons het die paar opsommings onder mekaar

geskryf:

  • “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete” (Matt 7:12).
  • “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. En jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:37 ev).
  • “Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (Joh 13:34).
  • “Wat volgens die wet van God die swaarste weeg, is geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matt 23:23).

In Jesus se positiewe houding teenoor die wet het dit dus gegaan oor die hele wet in die sin van God se wil vir ons hele lewe. En Jesus het dit verinnerlik omdat dit vir Hom om ons verhouding met God en met mense gaan, en nie maar net om formele handelinge nie.

 

Die Christen-Jode Die Christene uit die Jode, en ook ’n apostel soos Petrus, het aan die begin van Handelinge skynbaar nog nie goed verstaan wat Jesus regtig bedoel het met die kern van die wet en die verinnerliking daarvan nie. Hulle het Jesus eerder nagevolg in die streng handhawing van kleiner besonderhede in die wet soos uiterlike reinheid en onreinheid. Daarom was die rein kossoorte nog belangrik, en ook die afsondering van heidene,  selfs heiden-Christene. Hierdie houding kon egter nie die toets van die tyd deurstaan nie. God het Petrus oortuig om na Kornelius te gaan, en wat ’n heerlike uitkoms was dit nie (Hand 10-11). En Paulus het Petrus skerp aangespreek toe hy weer teruggeval het (Gal 2:11 ev).

 

Paulus deel Jesus se nadruk op die kern van die wet. Hy som die wet selfs in net een gebod op: “Al die gebooie … word immers in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Die liefde doen die naaste geen kwaad nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet” (Rom 13:9-10). Paulus is dus volkome positief as die wet gebruik word vir sy oorspronklike doel: die manier waarop God wil hê dat sy kinders sal leef. Daarom gebruik hy die wet as basis vir sy vermanings aan gemeentes oor hoe hulle tot eer van God moet leef (Ef 4-5; Kol 3). Maar daar is by hom ’n negatiwiteit teenoor die wet wat ons nog nie by Jesus kry nie. Dit kom na vore wanneer die Christen-Jode net soos die Jode self, dit as heilsmiddel wil gebruik. Paulus se streng negatiewe houding kan dus nooit teenoor Jesus se positiewe houding afgespeel word nie omdat dit om twee totaal verskillende kante of betekenisse van die wet gegaan het. Paulus se verwerping van die wet as heilsmiddel kom voort uit sy siening van die oorweldigende betekenis van Jesus se kruisoffer. Dit is so onvergelyklik heerlik dat niks daarmee in kompetisie mag staan nie. Trouens Paulus gaan eintlik verder.  Dis meer as net dat die wet nie met Christus mag meeding nie. Dis ook die geval dat ons glad nie in staat is om die wet te hou en daar deur verdienste by God op te bou nie (Gal 2:15 ev). Ons kan net deur die krag van die Gees die wet hou (Rom 8:4), en daarvoor het ons juis die geloof in Jesus nodig.

 

Hebreërs Terwyl ons nog ’n mengsel van positiwiteit en negatiwiteit by Paulus kry, is Hebreërs eensydig negatief oor die wet. Maar “wet” beteken hier die tempelkultus. Die skrywer probeer Christene wat huiwer of hulle met Jesus moet voortgaan, oortuig dat hulle alles gaan verloor as hulle teruggaan na die Ou Testament se offersisteem. Daar is geen vergelyking tussen die betekenis van Jesus en die waarde van die tempel, priesters en offers nie. Dit is namaaksels, dit is kragteloos en selfs nutteloos, dit is op sy beste maar net ’n skadubeeld van wat in Christus gekom het, nie eens ’n werklike beeld nie. Dit kon in elk geval nie regtig die sonde versoen nie, en daarom moes daar ’n ander offer, ’n ander wet, en ’n ander verbond in die plek daarvan kom. Ons het in Jesus regtig iets totaal nuuts. Dit is nie maar net ’n aanpassing of verbetering van die oue nie. Dit vervang die oue. Van die oue mag niks oorbly nie. Maar onthou, die “wet” is hier die tempelkultus met sy priesters en offers. Christus het dit totaal vervang en versoening en vergifnis op ’n ander vlak gebring. Dit, nee Hy, is onvergelyklik. Hy het alles nuutgemaak. Alle paaie lei na Jesus!

 

In die laaste artikel in die gedeelte oor die wet gaan ons na die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...