Is Sondagskool belangrik?

image_pdfimage_print

Is Sondagskool belangrik? – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Ek wil graag uitvind in verband met die belangrikheid van Sondagskool. Beide ek en my man kom uit NG kerke. Ons was vir ‘n geruime tyd in ‘n NG gemeente, waar my kinders nie regtig aanklank gevind het by die preek nie, maar was wel mal gewees oor hulle Sondagskool!! Selfs ek en my man het soms gevoel die dominee praat bo mens se kop, en dit is deels hoekom dit nie die kinders vreeslik geïnteresseer het nie! Selfs die sang was dood!! Al wat my daar gehou het, was die feit dat die kinders die Sondagskool geniet het.

Ek en my man het so paar maande weer opnuut ons lewe vir die Here gegee, nadat onsself deur ‘n moeilike tyd was! Ons is een sondag saam vriende genooi na ’n ander NG gemeente, en my asem was weggeslaan – kon nie glo dat twee NG gemeentes soveel kan verskil nie. Hulle sang was fantasties, en dan praat ek nie eens van hulle preke nie. Elke preek is iets besonders, en daar word soveel moeite gedoen om dinge vir nie net die kinders nie, maar selfs ons as ouers te illustreer. Elke preek is vir my soos ‘n geskenk wat oopgemaak word – elke keer leer ons iets nuuts, en ek besef net weereens hoeveel ek self as Christen gemis het!!! Ek wil nie daardie “geskenk” van my kinders ontneem, deur eerder by die vorige gemeente te bly, net omdat die kinders die Sondagskool saam die maats geniet nie!! Tans voel dit of ek in ‘n tweestryd is met wat reg en verkeerd is, want ons het geskuif na die gemeente waar ons elke sondag kan “uitsien” na ‘n preek!! Die enigste nadeel is dat hulle Sondagskool weer nie die kinders vreeslik interesseer nie – die kinders neem nie regtig deel in die gesprekke nie, en hulle Sondagskool is ook glad nie verpligtend nie (behalwe die finale jaar). Dus, het die kind die keuse van Sondagskool of kerk saam die ouers. In my hart voel ek, dit is vir my belangrik dat my kinders eerder dan die preek saam ons bywoon, in plaas van die Sondagskool en ek voel hulle verstaan en ervaar die Here met elke diens. Is dit verkeerd omdat ons hulle nou weerhou van Sondagskool?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

Dit is belangrik dat julle as gesin om ‘n tafel sit en die saak uitpraat. Daar kan baie redes wees waarom die kinders meer van die Sondagskool hou. Dalk is die redes nie altyd so goed nie. Dit is belangrik dat die gesin saam kerk toe gaan en dat die kinders ‘n positiewe belewenis van kerkwees ervaar. Op die ou einde wil mens graag hê dat hulle by ‘n kerk sal aansluit as hulle eendag klaar is met Sondagskool. Miskien lê die antwoord in ‘n gebalanseerde kompromis. Laat die kinders Sondagskool toe gaan, en woon ‘n aand erediens by die nuwe kerk as gesin by. So kan almal se belange gedien word. 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 

image_pdfimage_print