Beskerm predikers hulle gemeentes?

image_pdfimage_print

The issue with prayer is not prayer. The issue of prayer is God – Abraham Heschel

 

Beskerm predikers hulle gemeentes?

Beskerm predikers hulle gemeentes teen die moeilike gesegdes en verhale in die Bybel? Tog sê hulle dat die hele Bybel die woord van God is. Mark Roncace (Raw Revelation: The Bible They Never Tell You About) sê dat die Bybel vir baie mense net te swaar is om te sluk. Daarom word dit afgewater om die smaak van die moderne gelowige te pas.

Al die onverteerbare gedeeltes word uitgefiltreer. Soos geprosesseerde kos weet ons nie meer wat die werklike bestanddele is nie. Maar die Bybel wat hulle voorhou, is nie die ware Bybel nie. Dit is soos ouers wat nie vir hulle kinders ertjies en boontjies gee nie, want hulle hou nie daarvan nie! Net so gee predikers vir ons lekkers en koekies, want hulle wil hê lidmate moet gelukkig wees en van hulle predikers hou! Die gevolg is wanvoeding.

 Predikers weet wat die problematiese gedeeltes in die Bybel is, maar preek nie daaroor nie. Hierdie stelling is ‘n veralgemening, maar vir baie predikers is dit die waarheid. Roncace noem dan die voorbeeld van Jeremia 29:11: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! Maar wat van Esegiël 5:8? “Daarom,” so sê die Here my God, “gaan  Ek nou jou teenstander word, Jerusalem, Ek gaan jou straf voor die oë van die nasies.” Pas ons dit op dieselfde manier as Jeremia 29 toe?

 Moet ons nie meer aandag aan die ongemaklike tekste in die Bybel gee nie? Moet gedeeltes oor verkragting, mishandeling en volksmoorde nie ook aandag kry nie? Sjoe! Dit klink logies, maar hieroor sal ek eers moet dink.

 

image_pdfimage_print