Amos(13) – Francois Malan

image_pdfimage_print

’n Skietlood (die derde gesig, Amos 7:7-9)


By die derde en vierde gesig gee die HERE ’n verduideliking van die gesig. By die eerste twee was dit nie nodig nie.


7:7 ‘So het Hy my laat sien: kyk! my Heer staan op ’n muur (gebou met) ’n skietlood, met ’n skietlood in sy
hand,’
(LXX i.p.v. skietlood ‘adamant’ baie harde yster – vanwaar die woord diamant kom
2020 stel vir die ‘muur van ’n skietlood’ voor: ‘loodregte muur’


’n Skietlood is ’n stuk lood onderaan ’n tou wat die bouers gebruik om te sien of die muur waaraan hulle bou loodreg
gebou word. En nou kom die inspekteur om met ’n skietlood die muur te ondersoek. Volgens vers 8 is die muur Israel
wat die HERE met ’n skietlood regop gebou het volgens sy wet en die profete wat Hy vir Israel gegee het. Maar in
Israel het onreg en ongeregtigheid hulle lewe skeef en krom laat groei. Hulle lewenswyse word nou deur die Here
inspekteer en beoordeel volgens die skietlood van sy wet. Hy wys hoe skeef hulle lewe geword het. Waar die HERE die
sprinkane en die vuur sou gestuur het, staan Hy self nou op die muur as die Here wat oor die aarde en oor sy volk
regeer. So bou die gesigte op tot ’n klimaks.


7:8 ‘Toe sê die HERE vir my, ‘Wat sien jy Amos?’ En ek antwoord ‘’n skietlood.’ Daarop sê my Heer vir my
‘Kyk! Ek lê ’n skietlood aan in die midde van my volk Israel. Ek gaan nie langer (verskonend) by hom
verbygaan nie.’


Die openbaring wat Amos gesien het, word nou deur die HERE met ’n woordopenbaring verduidelik in ’n gesprek
tussen die HERE en Amos. Die eerste twee gesigte het gebeure beskryf, sprinkane en vuur. Die skietlood is ’n simbool
vir die toetsing van die muur, van die lewenswyse van Israel. ’n Muur wat krom en skeef is, moet afgebreek word. Die
Heer van hemel en aarde noem Israel ‘my volk’ wat Hy vir Hom tussen die volke uitgekies het. Daarom gaan hulle
beoordeel word of hulle wel soos sy volk lewe. Waar die Here sy eerste twee besluite teruggetrek het, en dit deur die
eeue vir Israel gedoen het (vgl. 4:6-12), gaan dit nie weer gebeur nie (2:6-16). Hier kom nou ’n einde aan sy
lankmoedige ‘oorsien’ van Jakob se sonde. Dit word nou ’n ‘tussen julle deurgaan om julle te straf’ (5:17).


7:9 ‘En die hoë (kultiese) plekke van Isak sal met geweld verlate (sonder mense ) gemaak word, en die
heiligdomme (tempels) van Israel sal verwoes lê, en Ek sal teen die huis van Jerobeam optree met die swaard.
LXX noem die hoë plekke ‘altare van gelag (van vreugde)’ 2020: noem die hoë plekke ‘offerhoogtes.’


’n Hoogte (bāma) was gewoonlik ’n heilige plek op ’n heuwel met ’n altaar omring deur ’n heilige bos bome en
klippilare waarop die godin Astarte uitgekerf was. Die hoogtes waar Israel hulle onder groen bome op die armes se boklere
uitgestrek het langs die altare (Amos 2:8; 2 Kon 17:10) sal sonder mense wees. Dit suggereer hulle wegvoering in
ballingskap (Amos 5:27; 2 Kon 17:6), hoewel Amos nog nie weet watter volk die straf van die HERE oor Israel gaan
bring nie. Die tempels het hulle vir hulle afgode gebou by Bet-el, Gilgal en Dan met goue bulkalwers, in navolging van
die Baäldiens en Aäron se goue bulkalf (Eks 32:4). Israel noem die bulkalwers hulle God wat hulle uit Egipte uitgelei
het (1 Kon 12:28-32; Eks 32:4). Van die tempels gaan net ruïnes oorbly. Die koning moes reg en geregtigheid in Israel
handhaaf. In die huisgesin van Jerobeam is sy seun Sagaria, wat hom opgevolg het (2 Kon 14:29;15:8) voor die oë van
die volk doodgemaak (2 Kon 15:10). Die HERE sê die verlate maak van hulle altare, die verwoesting van hulle tempels
en die dood van Jerobeam II se nageslag is sy straf oor Israel wat hulle rug op Hom en sy wet gedraai het. Hy gaan self
hulle krom en verdraaide godsdienstige en staatkundige muur wat hulle gebou het, afbreek.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...