Bekering … en nou

image_pdfimage_print

 

If you see Jesus losing the infinite love of the Father out of His infinite love for you, it will infinitely melt your hardness – Tim Keller

 

Bekering … en nou

Een van die opwindendste gebeurtenisse in die gemeente is as iemand Jesus Christus as sy Verlosser leer ken. Is dit al? Lei ons hulle verder deur die veranderingsproses of los ons hulle net daar? Bekering is ‘n kragtige gebeurtenis in die lewe van gelowiges, maar dit is net die begin van die proses – hulle moet nou in dissipels verander word. Ons doel is dikwels om mense tot bekering te bring; God se doel is om mense se lewens te verander wat by hulle bekering begin.

 

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (Filippense 1:6). Bekering is baie belangrik: Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet (Kolossense 1:13). Daar is nou ‘n geestelike lewe teenwoordig wat nie vantevore daar was nie. Die Heilige Gees woon in hulle; in Christus is hulle nou ‘n nuwe skepping. Maar: geestelike groei moet op geestelike geboorte volg.

 

Die verantwoordelikheid vir geestelike groei is nou dié van die gemeente. Elke gemeente moet daarom mense hê wat mense in die geestelike groeiproses kan lei. Iemand moet saam met die nuwe gelowige deur hierdie geestelike groeiproses loop. Nuwe Christene het hulp nodig. Dan Morgan sê dat hulle drie tipes stabilisering nodig het.

 

  1. Persoonlike stabilisering

Baie mense kom na Christus as hulle ‘n lewenskrisis ondervind – hulle huwelik is in die moeilikheid, hulle het probleme met dwelms, ens. Hulle moet persoonlik gestabiliseer word. Hulle lewe is buite beheer en hulle maak dikwels dom besluite. Om persoonlik stabiel te word, is deel van geestelike transformasie.

 

  1. Stabilisering van verhoudings

Nadat hulle tot bekering gekom het, laat hulle mense agter wat nie met hulle nuwe leefwyse saamstem nie. Dit is gewoonlik die mense wat hulle in die moeilikheid gebring het – die moeilikheid wat God gebruik het om hulle te bereik. Dit is nie maklik om vriende agter te laat nie. Hulle het mense nodig om hulle verhoudings te stabiliseer.

 

  1. Stabilisering van hulle leer

Ongelowige mense dink nie altyd reg oor God, die lewe, die waarheid, ens nie. Deel van die dissipelskapproses is die vernuwing van hulle denke. Hulle moet dit wat hulle tans glo, verruil vir God se waarheid. Goeie leer sal hulle tydens ‘n krisis ondersteun.

 

Daar is egter meer as ‘n nuwe stel waarhede nodig – ons moet hulle leer groei en ons doen dit deur ‘n proses. Elke gemeente het ‘n dissipelskapsplan nodig. Die proses betrek mense. Die beste ding wat jy vir ‘n nuwe gelowige kan gee, is ‘n ouer gelowige – nie noodwendig ouer in ouderdom nie, maar iemand wat al langer die pad saam met Jesus Christus geloop het.

 

 

ROMAN BONNEFOY

image_pdfimage_print