Woorde uit die Bybel – Die Skrif

image_pdfimage_print

The man who has found nothing to die for is not fit to live – Marin Luther King Jr

 

Woorde uit die Bybel – Die Skrif

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan. J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 

 

Die Skrif

Op die webblad is daar baie artikels oor die Skrif/Bybel en die kanon. Ek gaan min sê oor hierdie woord.

Bybel = Grieks biblia = boeke. Skrif = Grieks graphe =  skrywes

Bybel is nie ‘n woord wat ons in die Bybel kry nie – daar word Skrif(te) gebruik. Die Bybel is in werklikheid ‘n biblioteek van 66 afsonderlike boeke. Dit is oorspronklik in drie tale geskryf – Hebreeus, Aramees (klein gedeeltes) en Grieks. Dit is oor ‘n tydperk van meer as ‘n duisend jaar geskryf. Daar is ‘n groot verskeidenheid boeke: geskiedenis, briewe, liedere en ‘n liefdeslied. Maar Christene beskou dit as ‘n enkele boek – ‘n eenheid.

 Die kerk het nog altyd die Bybel as gesaghebbend beskou. Maar wat beteken dit?

  • §Die Skrif is ‘n geskiedkundige rekord van God se openbaring.

 Dit vertel vir ons wat God gesê en gedoen het om Homself aan ons bekend te stel as ons Here, Regter en Verlosser. Die Bybel is ‘n geskrewe rekord van die drama van God se verlossing van die mens. Die Nuwe Testament is in wese net die voltooiing van die verhaal van die Ou Testament. Die boeke is ‘n eenheid, want hulle hanteer almal hierdie een onderwerp. Geen wonder die apostels het die Ou Testament gesien as ‘n boek geskryf vir Christengelowiges nie: Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4 – NAV). Om dit baie eenvoudig te stel: die Ou Testament sonder die evangelie is soos ‘n fondament sonder ‘n gebou; die evangelie sonder die Ou Testament is soos ‘n gebou sonder ‘n fondament.

 

  • §Die Skrif is ‘n openbaring in die vorm van ‘n geskiedkundige rekord.

Paulus sê dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het (Romeine 3:2). In 2 Timoteus 3:16 sê Paulus: Die hele Skrif is deur God geïnspireer. Hiermee sê hy dat die hele Skrif van God af kom en daarom moet dit as ‘n opdrag van God beskou word. Inspirasie beteken hier dat die Heilige Gees verseker het dat mense presies neergeskryf het wat God wou hê dat hulle moes skryf. Nee,  die Heilige Gees het presies vir hulle gewys wat hulle oor God moes sê. Hy het hulle aangevuur om oor Hom te praat (2 Petrus 1:21).

 Die Skrif is beide deur mense en deur God geskryf. Die skrywers was mense, maar die eintlike Skrywer was die Heilige Gees. Vir Jesus en die apostels was dit wat die Skrif (Ou Testament) sê deur God self gesê. Daarom is die Skrif heilig – dit skryf nie net oor heilige dinge nie, maar omdat die heilige God die ware Skrywer is. Dit beteken nie dat die skrywers wat God gebruik het nie feilbaar en onvolmaak was nie. God het egter verseker dat hulle nie feite vervals of God se doel en karakter verdraai het nie. Die geloofwaardigheid van God waarborg die getrouheid van die Skrif. Christus en die apostels het die waarheid van die Ou Testament aanvaar.

 Ons het ‘n behoefte aan die Skrif: U woord wys my presies hoe ek moet leef, soos ‘n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap (Psalm 119:105). Die lewe is ‘n reis; ons kan verlore raak tydens hierdie reis. Nou sê die psalmis dat ons ‘n lig het om te verseker dat ons kan sien waar ons gaan. Stap vir stap gaan ons vorentoe. Rondom ons, waar die lamp nie skyn nie, is dit steeds donker. Die vraag is egter of ons hierdie woord ken. Weet ons van die krag van die Skrif om mense se deurmekaar lewens te hervorm en te vernuwe? In ‘n nuwe rigting te stuur? Kom ons met verwagting na sy woord om te hoor wat Hy vir ons te sê het? Alles in my smag na U, sê my tog hoe ek moet lewe (Psalm 119:131).

 

Volgende keer gaan ons na die woord Here kyk.

 

image_pdfimage_print

You may also like...