Ons verhouding met God is weer reg (Redding)

image_pdfimage_print

Ons verhouding met God is weer reg (Redding)

In die kerk praat ons baie van redding. Wat beteken dit nou juis?

Redding in die Bybel beteken die regmaak van stukkende verhoudings… stukkende verhoudings tussen God en mense. Dit is interessant dat as die Bybelskrywers oor redding praat, hulle dit omtrent altyd in beelde doen. Feitlik al die beelde gaan oor die regstel van die verhouding tussen God en mense. Kom ons kyk na ʼn paar voorbeelde:

  • Loskoping: ons is slawe van die sonde en dan kom koop Jesus ons vir Hom. So kan ons nou as vry mense die Here dien.
  • Versoening: as twee persone kwaaivriende is, het ʼn derde persoon gewoonlik as tussenganger kom optree om die vrede weer te herstel. Hy of sy het dan met beide persone gepraat en ʼn manier uitgewerk om die dinge wat tussen die twee verkeerd geloop het, weer reg te maak. Uiteindelik, as alles uitwerk, word die twee weer vriende. Dan is hulle versoen, want die verhouding tussen die twee is weer reg. So is ons ook deur Jesus met God versoen.
  • Regverdigmaking: die beeld kom uit ʼn hofgeding waar iemand aangekla word vir wat hy of sy gedoen het. As die regter die persoon onskuldig bevind, is die persoon “regverdig”. Jesus is ons advokaat by God en Hy sorg dat as ons aangekla word ons nie skuldig bevind word nie, maar regverdig verklaar word. As daar “boetes” betaal moet word vir ons skuld, doen Hy dit namens ons. So word die verhouding tussen ons en God weer “reg gemaak”. Dit noem ons die proses van regverdigmaking.
  • Wedergeboorte: Johannes sê dat ons dood is in al ons sonde. Maar as ons in Jesus glo, word ons soos kinders geestelik gebore. As nuwe mense begin ons ʼn nuwe verhouding met God.

Elke keer gaan dit oor ʼn verhouding wat doodgegaan of opgehou het, maar wat weer herstel word. Redding beteken dus dat jou verhouding met die Here weer reg is.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr John Smith

Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskapppy

 

image_pdfimage_print

You may also like...