Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Afsluiting

image_pdfimage_print

In the Old Testament the New is concealed; in the New the Old is revealed – Augustinus

Bybelverse wat verkeerd gebruik word:  Afsluiting

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Paulus gee raad aan sy jong leerling, Timoteus: Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God (1 Timoteus 1:11). Paulus vertel hom van die inherente krag van die woord van God: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Paulus dring daarop aan dat Timoteus die woord versigtig moet hanteer, want dit is ‘n kragtige wapen.

Hebreërs 4:12 bevestig dit: Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Paulus verlang dat Timoteus vol ywer moet wees, wat hom nie vir sy werk hoef te skaam nie en wat die woord van die waarheid suiwer verkondig (2 Timoteus 2:15). Ons moet die woord van God reg lees, verstaan, interpreteer en toepas.

Daar is egter sekere foute wat lei tot wangebruik. Ons kan nie net oppervlakkig lees nie; ons kan nie net ‘n versie lees sonder om die konteks in ag te neem nie; ons moet die Skrif gebruik om die Skrif te interpreteer, want God se woord weerspreek hom nooit nie. ‘n Groot gevaar is dat ons graag wil hê ‘n gedeelte moet by ons siening inpas – al moet ons dit forseer.

Daar is net een regte interpretasie van die teks – daar mag wel verskeie toepassings wees. Voordat ons hierdie toepassings kan maak, moet ons eers seker maak presies wat die gedeelte beteken – wat wou die oorspronklike skrywer sê. Ongelukkig benader ons die Skrif met sekere aannames en vooroordele wat dien as filter as ons die teks interpreteer.

Daar is baie hulpmiddels om ons te help – studiebybels, woordeboeke, kommentare ens. Selfs op die Internet is daar uitstekende hulpmiddels. Maar die heel belangrikste is die Heilige Gees: Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die waarheid lei (Johannes 16:13). Ons nederige afhanklikheid van die Heilige Gees is ‘n noodsaaklike komponent om die Skrif reg te lees en te verstaan.

Luister na Jesus se wil vir ons: As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak (Johannes 8:31 – 32). Belangrik vir die verstaan van die woord is medegelowiges wat gereeld saam met ons die Skrif lees, bestudeer en toepas – die geloofsgemeenskap.

Jesus bid vir sy dissipels voor sy kruisdood. Hy bid onder andere: Laat hulle aan U toegewys wees deur die waarheid. U woord is die waarheid (Johannes 17:17)

image_pdfimage_print

You may also like...