Laat sy Liefde jou Lei: “Geduld o, geduld wat so baie kan dra ..”

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: “Geduld o, geduld wat so baie kan dra ..” – Milanie Vosloo

“Geduld o, geduld wat so baie kan dra ..”

Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: …geduld … Galasiёrs 5:22 

Geduld is ‘n omvangryke woord. HAT omskryf dit as die vermoë om veel te verdra; om moed te hou; die vermoё om te wag sonder om te kla; om rustig met iets om en voort te gaan; lydsaamheid; verdraagsaamheid en volharding. Sjoe, wat ‘n mondvol! Geen wonder ons sukkel so om hierdie vrug van die Gees  te leef nie. Hoe dikwels kan ons droogmaak-optrede nie toegeskryf word aan die gebrek van geduld nie!

Wanneer jy, soos ek, een van daardie mense is wat met ‘n streep van ongeduld gebore is, is die aanleer van hierdie eienskap slegs moontlik wanneer ons in totale afhanklikheid aan die Gees leef. Net Hy kan van ongeduldige mense wat dinge altyd vinnig gedoen wil hê, wat gou kwaad word en wat ‘n haastige geaardheid het, geduldige mense maak. Net die Gees kan die trots (wat dikwels die oorsaak van ongeduld is) vervang met ‘n nederige en sagte hart waarin ander én die werking van God ruimte het.

Bid vandag saam met my die gebed uit my boek, Woorde wat Leef*:

Here van tyd, leer my geduldig wag op u volryp tydsberekening en groter plan met my lewe, U maak my deurentyd ook gereed vir die oes, volrond en sterk, sodat ek die vol mandjies goedheid ook aan ander kan uitdeel. Leer my die seёn van die woord “wag”, en die genade van die woord “genade”.*

Ja, Here, ek wag op ontvangs van u soort geduld.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...