Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Is Jesus geskep?

image_pdfimage_print

It is far too easy for someone in my position to read the Bible only with an eye on a future sermon, overlooking the message God has for me through its pages.” – Billy Graham

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Is  Jesus geskep?

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Die Seun is die beeld van God, wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping (Kolossense 1:15).

Die Here sê vir Moses: Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie (Eksodus 33:20). Maar God het besluit om Homself aan die mens te openbaar: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14). Dwarsdeur die Nuwe Testament lees ons dat Jesus Christus volledig God is.

 

Wat het die mense wat destyds geleef het, gesien toe hulle Jesus gesien het? Ons kry verskillende antwoorde as ons verskillende mense vra om hierdie vraag te antwoord. Wat opvallend is, is dat almal dink dat Jesus min of meer soos hulle gelyk het. Maar Jesus was ‘n Jood uit die Midde-Ooste. Sy vel was waarskynlik olyfkleurig. Hy was waarskynlik sterk gebou soos ons sou verwag van iemand wat in die winkel van ‘n timmerman gewerk het. Daar was waarskynlik niks buitengewoon aan sy fisiese voorkoms nie – toe Judas Hom verraai het, moes Judas Hom met ‘n soen geïdentifiseer het. Hierdie is natuurlik spekulasie. Wat wel waar is, is dat die Nuwe Testament vir ons min van Jesus se voorkoms vertel. Dit is natuurlik nie belangrik dat ons dit weet nie. Wat wel belangrik is om te weet, is dat Jesus God in die vorm van ‘n mens was.

Daar is vandag steeds mense wat glo dat Jesus ‘n engel was wat deur God geskape is. Hy het aarde toe gekom en hier leef Hy tydelik as mens. Na sy dood is sy gees (nie sy liggaam nie) opgewek en het na die hemel opgevaar waar Hy weer ‘n engel geword het. Hy is beslis ‘n mindere God as God die Vader.

Om hierdie siening te bewys, gebruik die Jehova Getuies Kolossense 1:15. Hulle glo dat Paulus hier van Christus as ‘n geskape wese praat. Eerste mag na eersgeborene verwys, maar as ons na die konteks kyk, is dit nie wat hier bedoel word nie. Eerste mag na posisie, rang of voorrang verwys. So verwys die psalmis na Dawid: Ek stel hom eerste, die magtigste koning op aarde (Psalm 89:28). So sê die Here: Israel is my oudste seun (Eksodus 4:22). Israel beklee ‘n ereposisie as die volk wat die Here gekies het as sy eiendom.

Ons kan nie sê dat Jesus ‘n geskape wese is net omdat Hy Eerste genoem word nie. Wat leer ons uit die konteks van hierdie vers? Paulus begin hierdie vers met: Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is nie volgens die beeld van God gemaak nie – Hy is die beeld van God. Hy is die ewebeeld van die wese van God (Hebreërs 1:3). Kom ons kyk na die twee verse wat volg – Kolossense 1:16 – 17: God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Kyk weer: Voor alles was Hy al daar – voor die skepping was Hy al daar; Hy bestaan van altyd af. Paulus sê hier dat Jesus die God is wat alles geskep het, en dat die skepping deur Hom en vir Hom geskep  is.  Johannes sê presies dieselfde: Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie (Johannes 1:3). Jesus is nie gemaak nie – Hy is die Maker.

Ons weet nie hoe Jesus fisies gelyk het nie, maar ons kan ‘n duidelike teologiese beeld van Hom kry … as ons die Bybel korrek interpreteer.

Volgende keer gaan ons na 1 Timoteus 6:10 kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...