Dag 9: Hoeveel het Jesus ons lief?

image_pdfimage_print

 

 

Dag 9: Hoeveel het Jesus ons lief?

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Daar is ‘n verband tussen liefhê en om liefgehê te word. Johannes herinner ons daaraan: Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19). Ongelukkig twyfel ons as Christene dikwels aan God se liefde vir ons. Hierdie twyfel is nie voorop in my gedagtes nie, maar dit weerhou my tog om Jesus meer lief te hê.

 

Ons moet hierdie stryd erken en die versoeking weerstaan. Ek moet gereeld na die evangelie en God se woord teruggaan, want daar word ek van God se liefde verseker. Soek ons in sy woord vir bevestiging van sy liefde? Soek ek opreg in sy woord vir bevestiging van sy liefde? Advent is ‘n tyd waar ons soek vir bevestiging van God se liefde en om sy woord selfs dieper in ons harte te bêre. Jesus het in die wêreld ingekom as ‘n baba in ‘n krip; Hy het ons geleer om in gemeenskap met God te lewe; Hy het aan die kruis as offer vir ons sondes gesterf. Hiermee bewys Hy God se groot liefde vir ons.

 

God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16). God se Seun lewe, sterf en oorwin die dood vir ons. Dit is waarlik goeie nuus. Om sy liefde te ontvang, beteken ‘n hele nuwe lewe. Dit moet ons met ander mense deel. As God die diepste vrae van my hart met sy aansteeklike liefde antwoord, sal ander om my ook hierdie uitgesproke liefde van God leer ken.

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê (1 Johannes 4:7 – 9).

 

 

 

image_pdfimage_print