Demone uitdryf – Francois Malan

image_pdfimage_print

Hester vra:

My vraag is kan ‘n Pastoor wat werklik en opreg is in sy Bediening vir ‘n lidmaat se dat dit nie moontlik is om iemand te help wat ‘n duiwelaanbidder was nie. Moontlik dalk nog steeds is en wat kan ons dan ons familie doen om haar te help om die demone uit haar te kry en dan ons woning en wat nodig is daarna te salf.

Dit is nogal baie dringend asseblief ek sal enige hulp waardeer.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Geen mens kan ’n demoon of ’n duiwel uitdryf nie, slegs die Here kan dit doen. Daarvoor kan ons tot Hom bid en hom vra om ’n duiwel uit iemand te kry. Vergelyk Markus 9:28-29 Jesus se dissipels het Hom gevra: waarom kon ons nie die gees uitdryf nie? Hy het vir hulle gesê: Hierdie soort kan met niks anders as gebed uitgedryf word nie.’

Ons het nie seggenskap oor die Here om Hom rond te jaag om te doen wat ons wil nie. Hy doen wat Hy wil, en ons kan Hom slegs in ootmoed en nederigheid in gebed vra, in die geloof dat Hy alles kan doen, maar Hy weet wanneer en hoe Hy dit sal doen en of dit gedoen moet word. Daarom kan ons enige tyd na die Here toe gaan in gebed en ook aanhou met bid oor ’n saak. Maar altyd aan die einde sê: Laat nie my wil nie, maar U wil geskied. Hy weet wat die beste is vir elke mens en Hy wil elke mens verlos van sy sonde en sondige begeertes en gebruike. Maar Hy wil ook elke bidder verander om te lewe soos Hy van ons vra, om mekaar lief te hê en die Here lief te hê as ons Verlosser.   

Jesus het ons ook gewaarsku: Wanneer ’n onreine gees ’n mens verlaat, swerf hy deur waterlose streke op soek na rus sonder om dit te vind. Dan sê die onrein gees, ‘Ek sal teruggaan na my huis wat ek verlaat het’ En by sy terugkeer kry hy dit uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin (Lukas 11:24-26). As die Here nie self in ons bly deur sy Heilige Gees nie, kan ons nie die aanslae van die duiwel weerstaan nie. As ons onsself aan God onderwerp kan ons die duiwel weerstaan en hy sal van ons wegvlug (Jakobus 4:7).

Dit is nie nodig om die huis en ander goed te salf nie. Ons salf kan dit nie reinig of beskerm nie.  Ons lewe en ons goed word deur die woord van die Here gereinig. In Johannes 15:3 sê Jesus: ‘Julle is alreeds rein deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.’ Sy woord kry ons in die Bybel en deur dit daagliks te lees skep Hy ons telkens nuut deur sy woord.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...