NEHEMIA – BEPLANNING (2)

image_pdfimage_print

 “Only once did God choose a completely sinless preacher.” ~Alexander Whyte

 

Nehemia – Beplanning (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #5: Beplanning …fokus jou leierskap

 

 

 

Beplan of nie beplan nie.

Beplanning is deel van leierskap. Nehemia moes ‘n onderneming beplan wat niemand oor die vorige 90 jaar kon regkry nie. Beplanning is om vooruit te bepaal wat gedoen moet word; dit is hoe om van nou tot dan te beweeg; om dinge te verander van wat hulle nou is na wat hulle behoort te wees. Hoe meer tyd jy aan beplanning spandeer, hoe minder tyd het jy nodig om die werk te doen.

 

Nehemia was ‘n man van gebed. Tydens sy gebede besef hy sy persoonlike verantwoordelikheid. God lei Nehemia en antwoord sy gebede, maar Nehemia moet beplan en gereed wees. Vir vier maande steek Nehemia sy kommer en emosies oor die toestand in Jerusalem weg. Maar op ‘n dag sien die koning dat hy bedruk is (2:2). Nehemia was baie bang – ‘n dienaar wys tog nie negatiewe gevoelens in die teenwoordigheid van die koning nie. Nehemia het vier maande lank gebid en beplan; hy besef dat hy op een of ander stadium die koning vir hulp moet vra. Omdat hy gebid en beplan het, was hy gereed toe die koning hom vra. Toe die koning dus vra waarom hy so bedruk was, besef Nehemia dat dit sy groot geleentheid is – en hy was gereed daarvoor.

 

Wat is die eienskappe van ‘n doeltreffende beplanner?

  • Passie. As jy nie sterk voel oor iets wat jy voorstel nie, hoe kan jy verwag dat ander opgewonde moet wees oor jou voorstel. Nehemia was bereid om sy werk te verloor om Jerusalem te help. Watter idees/drome laat jou op jou knieë in gebed staan? Watter projekte hou jou snags wakker, want jy is opgewonde oor die toekoms?  Bid vir passie; beplan met passie.
  • Ondersteuning. Om ‘n plan uit te voer, benodig die ondersteuning van ander mense – mense met ondervinding en hulpbronne. Nehemia het dit besef. Hy besef ook dat ondersteuning van die Jode nie voldoende sal wees nie – hy het ook die koning se ondersteuning nodig. Hy was die een persoon in die ryk wat kon help. Maar die koning is onvoorspelbaar. Hoe sou hy op Nehemia se versoek reageer? Daar is ‘n tyd om te bid; daar is ‘n tyd om te beplan; daar is ‘n tyd om op te tree.
  • ‘n Duidelike doelwit. Jy moet ‘n doelwit hê wat maklik verstaanbaar is. As hy nie ‘n doelwit het nie, gaan niemand die projek ondersteun nie. Nehemia se doelwit was eenvoudig: Stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou (2:5). ‘n Eenvoudige versoek waarin sy doelwit duidelik uitgespel word.
  • ‘n Tydraamwerk. As jy nie ‘n begin en einddatum het nie, sal jou projek waarskynlik misluk. Mense wil weet wat van hulle verwag word en vir hoe lank. Geen wonder die koning vra: Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terug wees? (2:6) Omdat hy beplan het, kon Nehemia vir hom ‘n tyd aandui. Later vind ons uit dat die projek 12 jaar geduur het (5:14). Beplan altyd met ‘n kalender in jou hand.
  • Toestemming. ‘n Doeltreffende beplanner vra toestemming. Elke plan moet deur iemand goedgekeur word. Nehemia besef dat hy aanbevelingsbriewe van die koning sou benodig (2:7). Nehemia slaag, want hy doen dinge op die regte manier. ‘n Leier volg die reëls. Moenie kortpaaie neem nie. Doen jou huiswerk.
  • Verkryging. ‘n Doeltreffende beplanner  verkry wat nodig is om sy doelwit te bereik. Nehemia het materiaal vir die herbouproses nodig – soos hout. Hy vra die koning vir ‘n brief aan Asaf, die opsigter van die staatsbos, om hom van hout te voorsien (2:8). Oppas vir die besonderhede – dit is waar planne dikwels vashaak.

 

Jesus self leer vir ons hierdie beginsel: Wie van julle wat ‘n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie. Anders as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot dryf (Lukas 14:28 – 29). Beplan jou projekte.

 

Nehemia se afspraak met die koning was ‘n groot sukses, maar hy besef terdeë Wie sy bron van krag en sukses was: My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan (2:8). Nehemia het besef dat hy van God afhanklik is. Nooit aanvaar hy krediet vir iets wat gebeur het nie, want hy weet dat God agter hom was. Nehemia se nederigheid was opreg.  Ons mag nie spog oor dinge wat God deur ons doen nie – so asof dit in ons eie krag  en wysheid vermag het. God laat die planne slaag – nie jou beplanning nie. Kom ons kyk weer na die Spreuke-skrywer: ‘n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die Here af (16:1); ‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (16:9).

 

Volgende keer kyk ons na die beginsels van beplanning.

image_pdfimage_print

You may also like...