Wil jy jou bediening uitbrei? Erken jou swakhede

image_pdfimage_print

 

Public faith means going public with what’s in your heart, with humility and respect for others, as we speak of the truth of the gospel – Tim Keller

 

Wil jy jou bediening uitbrei? Erken jou swakhede

Rick Warren sê daar is twee groot belydenisse in die Bybel. Die eerste is Petrus se belydenis: U is die Christus! (Markus 8:29). Ons geloof is op hierdie belydenis gegrond. In Handeling 14:15 kry ons ‘n belydenis van Paulus: Ons is maar net sulke mense soos julle. Baie kerkleiers stem saam met die eerste belydenis, maar is versigtig vir Paulus se belydenis. Kerkleiers is dikwels meer geneë om hulle geestelikheid as hulle menslikheid te erken.

 

Maar as jy jou menslikheid ontken is jy oneerlik, maar jy bewys ook ‘n ondiens aan jouself en aan diegene wat jy dien. God hou daarvan om swakhede te gebruik en hulle in sterkpunte te verander. Ons het almal beperkings; almal van ons dra die evangelie in kleipotte. Maar die beperkinge wat God in jou lewe toelaat, kan, as ons eerlik is daaroor, in werklikheid ‘n seën wees. Hoe?

 

  1. Jy sal meer afhanklik van God wees

Gewoonlik weerstaan ons enige beperking op ons bediening – ons vra vir God om dit te verwyder. Maar as God wys dat Hy sterk is onder hierdie omstandighede, hoekom moet Hy die beperking verwyder? God werk soms deur ons menslike swakhede, eerder as om hulle te verwyder. Lees net weer die storie van God wat vir Gideon gebruik om die Midianiete te verslaan. Hy kies die jongste kind in die armste familie in Israel. Voordat Gideon teen 135 000 Midianiete kan optrek, verminder God sy leër tot net 300 man. Hoekom doen God dit? Hy wou gehad het dat Gideon Hom alleen vir sy sukses vertrou. As ek ‘n beperking in my bediening of persoonlike lewe het, is dit ‘n geleentheid om God meer te vertrou.

 

  1. Dit verhoed trots

Paulus het ‘n doring gehad. Ons weet nie presies wat dit was nie, maar ons weet dit het pyn veroorsaak en sy bediening beperk. Ons weet ook dat dit Paulus nederig gehou het. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee … Drie maal het ek vir die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘ My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Korintiërs 12:7 – 9). Paulus het geweet dat hy nie trots kan wees nie, want hy het sekere beperkinge gehad.

 

  1. Dit beteken ons is meer van ander Christene afhanklik

Een van die groot gevare van sterkpunte is dat dit tot onafhanklikheid lei. God laat swakhede toe sodat ons sal besef dat ons medegelowiges nodig het. Nie een van ons kan alleen staan nie. Ons menslikheid vereis interafhanklikheid. Snowflakes are frail, but if enough of them stick together they can stop traffic (Vance Havner).

 

  1. Dit brei ons vermoë vir bediening uit

Mense gaan dikwels genesing uit jou wonde kry. Warren glo dat van ons grootste boodskappe uit ons diepste seerkry kom. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig (2 Korintiërs 1:4). Pyn maak ons sensitief vir die seerkry van ander. As jy nog nooit met jou swakhede gestry het nie, is jy waarskynlik uit voeling met diegene wat jy bedien.

 

Jy kry hierdie voordele slegs as jy gewillig is om jou swakhede te deel. As jy jou swakhede, pyn en foute probeer wegsteek, is jy van geen voordeel vir diegene wat jy moontlik kon bedien het nie.

 

 

 

image_pdfimage_print