Vergifnis en genade – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

In hierdie aanbieding sal jy leer:

  • Ons is diep in die skuld by God;
  • God vergewe omdat Hy genadig is, en omdat sy Seun uit liefde die straf op ons sonde gedra het

Die gelykenis van die arbeiders op verskillende ure gehuur (Matteus 20:1-16) dien as goeie illustrasie van God se genade.

  1. Ons is diep in die skuld by God

Ons is van nature mense wat nie beantwoord aan die doel waarvoor God ons gemaak het nie. Ons is diep in die skuld by God; dis ons status voor God. Ons bly weliswaar beeld van God, maar dit is ‘n geskende beeld vanweë die sonde.

Natuurlik is bogenoemde nie ‘n vanselfsprekende insig nie. Dis ‘n insig wat jy slegs bekom as jy jouself bekyk in die lig van God se wil, wanneer jy naak en eerlik voor Hom staan. En veral wanneer jy gevoelig gemaak is vir God se wil deur sy Gees wat in jou woon en werk. Dis dan dat die skrikwekkende besef by ‘n mens daag oor die enormiteit van ons skuld voor God en ons naaste. Wanneer ons kyk na onsself (persoonlike sonde) en na die toestand van die wêreld (kollektiewe sonde), krimp mens ineen oor wat ons gemaak het met die gawes en geleenthede wat God gee. Hoe het ons dit nie verniel en opgemors nie – persoonlik en kollektief. Wat doen ons aan mekaar, hoe pynig ons mekaar, hoe maak ons God seer. Nie net die slegte wat ons mekaar aandoen nie, maar veral die goeie wat ons nalaat om te doen. Ons verkies om ander pad te kyk en eenkant verby te hou by alles wat ‘n appèl maak op ons liefde, soos die priester en Leviet in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, toe hulle die verwonde man langs die pad sien. Ons sien dit nie raak nie, want die liefde ontbreek. Daarenteen, hoe treffend is Jesus se optrede: Toe Hy die skare sien wat soos skape sonder ‘n herder is, het sy hart ineengekrimp van medelye (letterlik: sy ingewande het in beweging gekom). En ten spyte van sy eie vermoeidheid het Hy gehelp (Matteus 14:14). Hierdie ingesteldheid ontbreek dikwels so klaaglik by ons.

Wanneer die enormiteit van hierdie sonde/skuld tot jou deurdring, jou tussen die oë soos ‘n voorhamer tref, wil jy uitroep: “Berge val op ons, heuwels bedek ons” (Hosea 10:8); of: “dit is klaar met my; ek is verlore; elke woord oor my lippe is onrein; ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is” (Jesaja 6); of: “gaan weg van my Here, want ek is ‘n sondige man” (Petrus aan Jesus; Lukas 5:8). Dis dan dat ons maar net kan uitroep: mea culpa; Here, ek is skuldig; vergeef ons ons sonde/skuld. ‘n Mens besef dat daar niks anders is wat jy God kan vra nie. Ek kan nie aanspraak maak op my eie meriete nie; ek kan nie my voortreflike CV voorhou nie; niks kan my sonde bedek nie; daar’s niks wat ek kan doen om dit te laat verdwyn nie; daar’s net een ding wat daarmee kan gebeur: God moet dit vergewe. En dan ontdek ons die verrassende – nie ‘n veroordelende God nie, maar ‘n genadige God; Een wat barmhartig, genadig, lankmoedig en vol liefde is (Ps 103:8).

  1. God vergewe omdat Hy genadig is, en omdat sy Seun uit liefde die straf op ons sonde gedra het

Dis belangrik om goed te verstaan waarom God vergewe, want ‘n teks soos Lukas 11:4 kan nogal daarop dui dat ons wel iets het om God aan te bied. Daar staan: “… vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree.” Dit lyk al asof ons ons voortreflike gedrag vir God aanbied as grond of rede waarom Hy ons moet vergewe: Here, ek is darem nie so sleg nie; ek vergewe darem ook my naaste so af en toe; dus: vergewe my asseblief op grond van goeie gedrag. Nee, die grond van God se vergifnis is nie ons goeie gedrag of voortreflike lewe nie. Die grond vir sy vergifnis is enkel en alleen omdat Hy goed is. Hierdie gedagte word treffend geïllustreer in die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is (Matteus 20), wat ons in afdeling 3 aan die orde stel.

Nog meer: Ek ontdek dat God my eintlik klaar vergewe het nog voordat ek my skuld kon bely. Ek ontdek dat God nog die heeltyd vir my gewag het, soos die pa in Lukas 15 op die verlore seun gewag het. Hy sien die seun van ver af kom, hardloop hom tegemoet en soen as ‘t ware sy seun se skuldbelydenis weg. Hy oorlaai hom met sy goedheid en herstel hom as seun in sy huis. Paulus verwoord dieselfde gedagte in Romeine 5:8 so: “God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” In Christus versoen God Homself met die sondige wêreld. Die vergifnis is dáár, beskikbaar; die genade-fees is gereed gemaak in Christus. Nou wag God met ‘n oop hart en uitgestrekte arms vir die wêreld om die uitnodiging te aanvaar en die genade-fees te kom geniet.

God sien nie sonde oor nie

Ons moet egter ook verstaan dat die genade-fees wat gereedgemaak is in Christus nie beteken dat God soos ‘n goedige oupatjie sy kinders en kleinkinders se “foutjies” bloot oorsien nie. Hy kyk nie ander pad en maak asof Hy die ongeregtighede van sy skepsels nie raaksien nie. Nee, sonde grief God; Hy hou nie daarvan nie; Hy straf sonde; dis ‘n vreemde kanker in sy goeie skepping. God skep daarom ‘n regsbasis op grond waarvan Hy sonde vergewe. Hierdie regsbasis word geskep deurdat God die sonde van die wêreld – en daarmee elkeen van ons s’n – gestraf het aan sy Seun, Jesus Christus. Omdat Christus in ons plek die straf op die sonde gedra het, kan ons vrygespreek word van ons skuld. Soos 2 Korintiërs 5:21 sê: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons … deur God vrygespreek kan word”.

God is nie wraakgierig nie

Maar let wel, dis nie asof God se wraaklus eers bevredig moes word voordat Hy kon vergewe nie. God se hart word nie vermurwe of omgebuig omdat iemand se bloed gevloei het nie. God was nie eers kwaad en nou het sy woede afgekoel omdat iemand geboet het nie. Soos die Duitsers sê: daar vind nie ‘n Umstimmung by God plaas nie; dit was nie nodig om God se gemoedstemming te verander, Hom te oorreed of om te praat om ons te vergewe nie. Nee, God was nog altyd genadig, barmhartig en vol liefde. Wanneer Hy vergewe, doen Hy dit juis uit genade en liefde; dis die bron van vergifnis. En Hy skenk die soenoffer – Jesus Christus – uit genade en liefde.

Dit is natuurlik ‘n vraag waarom daar ‘n bloedoffer moet wees om sondevergifnis te bewerkstellig. Kon God nie maar net vanuit sy wese en aard vergewe het nie? Verskillende antwoorde word gewoonlik gegee, soos dat God se geregtigheid vereis dat die sonde gestraf moet word, of dat God se heiligheid en eer aangetas is en so herstel moes word, of om die ernstige gevolge wat sonde inhou, te beklemtoon. Maar die interessante is dat ons geen van hierdie antwoorde in die Skrif aantref nie. Al wat ons kan sê, is dat die Bybel die weg van die offer as noodsaaklik aandui, dat die mens nie die offer kan bring nie, en dat God Self die offer voorsien het, soos Hy dit gedoen het met die ram wat in die plek van Isak geoffer is (Genesis 22). Maar dit maak nie van God ‘n bloeddorstige, wraaksugtige God wat eers bloed wil sien voordat Hy vergewe nie. Inteendeel, die feit dat Hy Self die offer voorsien – boonop sy eie Seun – wys juis hoe lief Hy sy skepsels het. Die punt is, die offer van Jesus lê die liefdeshart van God bloot, nie sy wreedheid nie.

Vergifnis verander ons status voor God

Die feit dat God ons sonde om Christus ontwil vergewe, verander ons status voor God van geskende beeld van God na herstelde beeld van God. In Christus het ons klaar opgestaan uit die dood en kan ons nou begin beantwoord aan die doel waarvoor God ons gemaak het – om tot eer van sy Naam te lewe en ‘n seën vir ander te wees.

God se vergifnis beteken dat Hy ons slegte skuld by Hom afgeskryf en daarvan vergeet het; Hy dink nie meer daaraan nie (Jesaja 43:25; Jeremia 31:34); Hy het die lei skoongevee. Ons kan nou van vooraf begin leef asof die slegte, die onreg nooit gebeur het nie. In “rekenaartaal” kan ons dit so stel: Vergifnis is soos om ‘n rekenaar wat vashaak te herstel tot ‘n punt voordat die probleem begin het. So word die probleem uitgewis, asof dit nooit bestaan het nie. Dít is hoe God vergewe. Daarom staan daar in Psalm 103:8-13: “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.”

Hierdie aard en ingesteldheid van God – genadig en barmhartig – is die bron van hoekom God ons vergewe. Die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is (Matteus 20:1-16), illustreer God se genade by uitstek.

  1. Die gelykenis van die arbeiders op verskillende ure gehuur dien as illustrasie van God se genade

Die eintlike punt van die gelykenis is dat God se geregtigheid/regverdigheid anders werk as ons gevoel van regverdigheid. In die koninkryk van God is daar nie bevoorregting van die eerstes en benadeling van die laastes nie; almal word gelyk behandel. Die dissipels was waarskynlik die eerstes, en dié wat later in die koninkryk kom werk het, die laastes. Die dissipels het gedink dat hulle bevoordeel sal word (vgl 19:27: “Ons het alles verlaat; wat sal ons daarvoor kry?”). In die koninkryk van God gaan dit egter oor die soewereiniteit/vrymag en genade van God, soos dit in hierdie gelykenis veral in die eienaar se vreemde optrede teenoor die werkers aan die lig tree. (Die eienaar slaan kennelik op God.)

Let wel: Hoewel die woord genade nie in die gelykenis voorkom nie, is die saak deurgaans teenwoordig, veral soos dit blyk uit die eienaar se goedheid en vrymag. En hieruit vloei al God se handelinge met die mens voort, ook wanneer Hy gekonfronteer word met die mens se sonde.

God se vrymag en genade

Waaruit blyk die soewereiniteit/vrymag en genade van God?

  1. Die eienaar begin by die laastes, en betaal hulle dieselfde loon as die eerstes.

Dit dui op die vrymag van God wat met sy besittings kan maak soos Hy wil (v15): As die eienaar die laastes ewe veel wil betaal as die eerstes – wie kan daarmee stry? In elk geval, hy kul niemand nie, want hy het met almal ooreengekom op ‘n dagloon.

  1. Die eienaar tree op uit goedheid.

Die eienaar maak wel soos hy wil met sy goed, maar hy gooi nie sy gewig rond net omdat hy die mag het nie; sy mag lei nie tot arbitrêre en willekeurige optrede nie. Hy maak so omdat hy goed is (v15); hy tree vrymagtig en soewerein op omdat hy almal wil laat deel in sy oorvloed en goedheid. Hy weet dat iemand nie met minder as ‘n dagloon ‘n gesin kan onderhou nie. Daarom gee hy ‘n volle dagloon ook aan hulle wat slegs een uur gewerk het. Dus, soewereine optrede, enersyds, en liefdevolle optrede, andersyds, staan nie teenoor mekaar nie, maar vul mekaar aan, interpreteer mekaar, is twee kante van dieselfde muntstuk.

Die mentaliteit van die klaers

Watter beeld word hier van God geteken, die Eienaar van hemel en aarde? Wat wil God omtrent Homself meedeel in hierdie gelykenis? Om by die antwoord uit te kom, moet ons iets verstaan van die mentaliteit van die klaers, die sogenaamde verontregtes. Want dis hoe ons almal se koppe werk (en hoekom ons dikwels nie kan vergewe nie).

Ons dink vanuit die skema van verdienste en loon: Soveel werk, soveel betaling. Alles moet netjies balanseer in terme van prestasie gelewer: Geen werk, geen betaling; min werk, min betaling; baie werk, baie betaling. Dis so deel van ons denke dat ons nie buite daardie kassie kan dink nie. Ons projekteer dit ook op ons verhouding met God en met mekaar: Soos dit in die daaglikse arbeidspraktyk werk, so ook met God en mense. Daarom, ons kyk met ‘n “slegte oog” (v15: “afgunstig” se letterlike betekenis) wanneer ons God se goedheid in werking sien; dit wil sê, ons kyk met afgunstigheid, nydigheid, jaloesie en verontwaardiging; ons voel verontreg. Dieselfde houding is teenwoordig by die oudste seun in die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15): “hierdie seun van pa wat pa se goed met prostitute deurgebring het, vir hóm slag pa die vetgemaakte kalf”. Vir hóm, van alle mense. Dit druis in teen alle gevoel van regverdigheid. So kon die Joodse geestelikes dit in Jesus se tyd ook nie vat dat die tollenaars en sondaars deel vorm van Jesus se gehoor nie. En toe moes die leiers ook nog hoor dat hierdie veragtes, hierdie laastes vóór hulle in die koninkryk van God sal ingaan (Matteus 21:31).

Ons lewe almal uit die genade van God – laastes én eerstes

Maar ons moet begryp dat daar ‘n ander werklikheid is waaruit ons almal lewe, naamlik God se onbegryplike goedheid wat aan die laastes dieselfde wil gee as aan die eerstes. Die laastes is hulle wat niks verdien nie, wat ledig op die mark rondstaan, deur ander verag word, nie goed genoeg geag word om te deel in die loon van die eienaar nie. En die eienaar/God tree so op nie omdat hy onregverdig is nie, maar omdat hy/Hy goed is.

Ons vergeet so maklik, ook die eerstes deel in die genade en goedheid van God. Ook aan die eerstes het Hy genade bewys deur hulle toe te laat om in sy wingerd te werk. Om eerste te wees, is nie te danke aan ons prestasie nie, maar ook aan God se goedheid. Almal, of ons eerste of laaste is, kry dieselfde loon: ‘n genadeloon! Die genade van God is die groot gelykmaker, ons het almal dieselfde status en waardigheid in God se oë: begenadigde sondaars.

Dít is die wet van die koninkryk van God. Dít is die hart van die evangelie, God se goeie nuus wat ons van harte moet omhels. Dít is die vreemde geregtigheid van God. God se geregtigheid gaan nie in die eerste plek oor vergelding of straf nie, of, aan die ander kant, om ons te beloon vir ons goeie werke nie, maar om aan almal van ons – die eerstes én die laastes – sy onbegryplike genade te skenk. Dit keer ons hele idee van geregtigheid op sy kop, dit verander die hele manier waarop ons oor God, onsself en ander mense dink en na hulle kyk. Maar dit is hoe die koninkryk van God se geregtigheid werk. Raar, maar waar.

God se “oop einde”-genade

Die gelykenis sê nie hoe die eerstes wat gekla het, gereageer het nie. Hierdie gelykenis, soos die meeste ander, het ‘n “oop einde”, sodat mens kan nadink oor wat die soewereiniteit en goedheid, ja, die genade van God beteken. God se uitsonderlike vrymag en genade sit mens altyd aan die dink, ten minste as jy iets verstaan van die wonder, die vreemdheid en die impak daarvan. Elkeen moet antwoord op hierdie vreemde geregtigheid. Dit móét ‘n impak hê op ons daaglikse lewe – hoe ons na God, onsself en ander mense kyk, wat ons doen of nie doen nie. As hierdie vreemde geregtigheid van God ons nie aanraak en in beweging bring nie, dan verloor ons kontak met God se werklikheid – die koninkryk van God – waar die eerstes laaste is en die laastes eerste.

Samevatting oor vergifnis en genade

Wat sê hierdie gelykenis vir ons onderwerp van vergifnis en genade?

  1. Die grond of bron van vergifnis is God se liefde, genade, barmhartigheid en goedheid. As mens dít nie verstaan nie, verstaan jy nie hoe God se verhouding met ons, en mense s’n met mekaar werk nie. Verhoudings bestaan nie net uit harde wette, ooreenkomste en regulasies nie, maar uit die sagte bindweefsel van genade.
  2. Genade (en daarmee vergifnis) is die groot gelykmaker. Almal is ewe skuldig en sondig, verdien niks, en kan op geen voorkeurbehandeling aanspraak maak nie. Ons mag ons daarom nie aanstel teenoor mekaar asof die een skuldiger of beter is as die ander nie. Daar is nie eerstes en laastes by God nie; ons leef almal van sy genade.
  3. Hierdie insig het ‘n impak op hoe ons na mekaar kyk en teenoor mekaar optree. As God so met ons maak, mag ons ook maar sagter, meer begrypend, sensitiewer, minder veroordelend, milder, ruimhartiger teenoor mekaar optree.
  4. Uit hierdie ruimhartige kyk na mekaar vloei vergifnis van mekaar se oortredings Vergifnis is daarom nie ‘n oppervlakkige en lighartige afskud van die verlede en bloot ‘n “aanbeweeg” nie. Nee, dit vloei voort uit ‘n hartgrondige kyk in die genadige en ruimhartige hart van God, ‘n empatiese kyk na ander, en ‘n indringende kyk na my eie hovaardige en aanstellerige hart. Dis om te besef, geregtigheid werk anders in die koninkryk van God as waaraan ek gewoond is. En ek is ‘n draer van daardie vreemde geregtigheid. God se geregtigheid kom juis na vore wanneer ek nie my regte opeis as die verontregte nie, maar oënskynlik die onderspit delf deur die ander te vergewe. Dit het niks aan God se Godheid afgedoen deur ons te vergewe nie; dit sal niks aan ons menswees afdoen om ook te vergewe nie – inteendeel.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...