Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou

image_pdfimage_print

Without the freedom to criticize, there is no true praise. -Pierre Beaumarchais (1732-1799)

Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou

As ek glo dat die tien gebooie as norm vir Christene moet dien, moet ek dit in sy geheel aanvaar – dit is ‘n totale pakket. Die beginsels is absolute opdragte – ongekwalifiseerd. Maar wat dan van die sabbatsgebod? Kan ons hierdie gebod sien as ‘n uitsondering en dit sommer verwyder? Kan ons dit as deel van die seremoniële wette wat in Christus tot ‘n einde gekom het, beskou? Hierdie benadering is onverdedigbaar:

 

  • Die sabbatgebod is ingebed in die tien gebooie as ‘n fundamentele beginsel van die verbondverhouding – soos al die ander gebooie. Ons kan dit dus nie anders as die ander gebooie hanteer nie.
  • In die Eksodus weergawe is die ses plus een ritme fundamenteel tot die kosmiese orde. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as ‘n gereelde rusdag geheilig (Eksodus 20:11).
  • Die oorsprong van hierdie gebod is anders as dié van Israel se  seremoniële wette. Reeds in Eksodus 16:23 – voor die Israeliete by Sinai gekom het – lees ons: Môre is ‘n rusdag, ‘n gewyde sabbat van die Here.
  • Die sabbatgebod is nie primêr ‘n kultiese ordinansie nie. Dit was beide humanitêr (‘n gawe wat aan mense  rus en verfrissing bied van werk) en teologies – dit gee aan Israeliete die geleentheid om hulle teologiese perspektief op die lewe te verklaar (God is die Skepper van alles). Hulle betuig ook hulle vertroue in Hom om op die sewende dag te voorsien en aanvaar die verbondsverhouding. Hulle spreek ook hulle dankbaarheid vir die verlossing uit slawerny en hulle deernis vir die armes uit.
  • Nêrens verklaar die Nuwe Testament dat die sabbatdag in Christus tot ‘n einde gekom het nie. Jesus en die vroeë dissipels het dit onderhou.

Teen die helfte van die tweede eeu het Christene toenemend op die Sondag vir aanbidding bymekaar gekom. Wat hulle gedoen het, was om die sabbat – ‘n dag van rus – te verander in ‘n Sondag waartydens die opstanding en die nuwe lewe gevier is. Soos die sabbat op die sewende dag ‘n teken van die verbond vir Israel was, is die eerste dag die teken van die nuwe verbond vir Christene.

As ons die Sondag onderhou, verklaar ons ook:

  • Ons fundamentele teologiese perspektief op die lewe – God is die Skepper van alle dinge.
  • Ons vertroue in God dat Hy sal voorsien vir hierdie dag.
  • Ons aanvaar dat ons in ‘n verbondsverhouding met Hom staan.
  • Ons betuig ons dankbaarheid dat Hy ons van slawerny bevry het – ons slawerny van sonde.
  • Ons betuig ons deernis vir die armes.

Die Sondag is nie die Sabbat met al sy reëls en regulasies nie, maar die Sondag is ook nie ‘n gewone werksdag nie. Dit is immers die dag waarop ons Jesus Christus se opstanding vier.

image_pdfimage_print