McDonaldifikasie van die kerk

image_pdfimage_print

The Gospel does not call us to receive Christ as an addition to our life, but as our life. —Paul Washer

McDonaldifikasie van die kerk

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

‘n McDonalds kitskos restaurant het vier kenmerke wat sommige kerke probeer naboots:

  1. 1.Doeltreffendheid

Om doeltreffendheid na te streef word alles by al die restaurante op presies dieselfde manier bestuur – die spyskaart en uitleg is oral dieselfde. Sommige gemeentes bied geluk, ‘n dieper gebedslewe, intimiteit met God aan – alles in vyf maklike stappe. Dissipelskap word oorvereenvoudig. Die pad van dissipelskap is egter een wat ons saam met ander loop. Soms is dit loop, soms is dit hardloop; soms is dit wag.

Die pad loop op en af – nie altyd gelyk nie. Soms sien ons lig; soms is dit donker. Dit gaan dus nie oor doeltreffendheid nie – dit gaan oor ‘n gesprek met Jesus Christus en jou medegelowiges. Soms voel dit of jy alleen is, maar jy is nie, want God en jou medegelowiges is by jou.

  1. 2.Getalle

Die klem val op resultate en getalle is die maatstaf vir sukses. Ons word slawe van spoed en vyande van tyd. Ja, een grootte pas almal. Daar is geen tyd om bates, behoeftes, die geskiedenis, diversiteit, tradisies en waardes van die gemeenskap te ontdek nie. Hierdie modelle beklemtoon kwantiteit en nie kwaliteit nie.

Die Stadige Kerk het ‘n ander perspektief van tyd. Jy moet doelgerig, maar nie haastig wees nie. Ons word nie deur tyd gebind nie. Jy kan bekostig om in jou gemeente en gemeenskap te gaan en te luister. Geestelike vorming is ‘n lang proses waarin jy tyd moet maak vir God, jouself en ander mense.

  1. 3.Voorspelbaarheid

Almal moet alles doen op ‘n manier wat vir hulle voorgeskryf is. Daarom weet jy presies wat jy gaan kry as jy iets bestel. Dit vereis uiteraard dissipline, orde, formalisering van prosesse en roetine – dit is wat jou veilig laat voel. Daarom kom kliënte weer terug, want hulle verwag voorspelbare resultate.

Natuurlik kan ons leer van sukses en mislukking van ander gemeentes, maar jy kan hulle nie slaafs naboots nie. Die kontekste verskil. Daarom moet ons altyd besluit wat ons in ons eie unieke toestande moet doen. Dikwels is ons so beïndruk met wat God elders gedoen het dat ons nie kan sien wat Hy hier en nou kan doen nie.

  1. 4.Beheer

Beheer word gebruik om ondoeltreffendheid, onsekerheid en onvoorspelbaarheid te beheer. Alles moet rigied gehou word; vrywilligers veral moet streng beheer word. En in die Stadige Kerk? Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! (Psalm 24:9). In die Stadige Kerk word geëksperimenteer. Ons vind langs die pad uit wie Jesus Christus is, want ons loop saam met Hom. In die proses besef ons dat Hy die weg en die bestemming is. Ons word geroep tot ‘n vakleerlingskap.

Volgende keer gaan ons na die evangelie van die koffieboontjie kyk.

image_pdfimage_print