Die Evangelie volgens Lukas: Die lamp van die liggaam (Luk 11:33-36) – Francois Malan

image_pdfimage_print

11:33 Hierdie spreuk van Jesus is reeds in Luk 8:16 in ’n ander verband gebruik, ná die verduideliking van die saad wat op goeie grond gesaai is. Daar gaan dit oor die lig wat verborge dinge lig te maak. Soos in Markus 4:21-25 is dit  ’n waarskuwing dat niks verborge bly nie; In Matteus 5:14-15 word dit gebruik as ’n metafoor vir die volgelinge van Jesus wat hulle lig moet laat skyn in die wêreld.

Hier gaan dit oor die lig wat deur ’n gesonde oog raakgesien word, terwyl ’n siek oog blind bly vir die lig. Die spreuk word gebruik as ’n inleiding tot ’n paar segginge oor lig wat in die wêreld skyn sodat mense die lig kan sien. Dit volg op Lukas 11:29-32 waar die Seun van die Mens, wat ’n teken is van God se teenwoordigheid, baie meer is as Jona of Salomo. As die teken van God se teenwoordigheid, is Jesus die Lig vir die mensdom. Hy kan nie in ’n versteekte hoekie geplaas word nie, maar is bestem om die mense wat in die huis inkom met sy glans te verlig. Israel was geroep om God se lig te wees wat die wêreld moes verlig (vgl. die Here se woord aan Abraham in Gen 12:3: In jou sal al die volke van die aarde geseën wees; Jes 60:1-3 nasies kom na jou lig toe). Maar in plaas daarvan om hulle lamp te laat skyn, het hulle die lig toegemaak sodat die vlammetjie nie kan doodwaai nie. En nou het hulle by die punt gekom waar hulle vergeet het hoe God se lig lyk. Hulle het geword soos iemand wat nie bewus is dat sy sig belemmer is nie en vrolik in ‘n ramp in loop onder die indruk dat hy kan sien waar hy loop (vgl. Joh 9:40-41).

11:34 Die tweede spreuk is ’n wysheidswoord en sluit aan by die Joodse opvatting dat een lid die hele liggaam verteenwoordig. As jou oog gesond is (haplous gesond, suiwer, vrygewig) naamlik om reg te kyk, is die hele liggaam verlig. As jou oog boos is en verkeerd kyk, is jou hele liggaam in die duister. Hier gaan dit veral oor wat die mense in Jesus sien. Die mense wat Hom as die Lig van die wêreld sien (Joh 1:4-5), se hele lewe word verlig, en so word Jesus se volgelinge die lig vir die wêreld (Hand 13:47; Matt 5:14). As die lamp op ’n staander gesit word, beteken dit nog nie dat alle mense dit raaksien nie. Dié wat blind is kom nie agter dat daar ’n lamp skyn nie. So het meeste van die Jode in Jesus se tyd nie agtergekom dat die Lig van God, sy Seun, by hulle is nie, omdat hulle oë boos is.

11:35 Daarom word die mense wat na Jesus luister, aangesê om te sorg dat niks in hulle die lig verdonker nie. Hulle word tot selfondersoek geroep om deur Jesus verlig te word, om tot die Vader te bid om aan hulle die Heilige Gees te gee om hulle te verlig (Luk 11:13), die Gees van wysheid en openbaring, wat die mens se ‘oë van die hart’ verlig (Ef 1:17-18). Hoe is dit moontlik dat die heidene van Nineve die woord van God in die eenvoudige oordeelsboodskap van Jona gehoor het, en die heidense koningin van Skeba die lig van God in Salomo gesien het, maar dat mense die Seun van die Mens, wat deur God aangestel is om vir ewig te regeer oor al die nasies, volke en taalgroepe (Dan 7:14), nie raaksien vir wie Hy is nie? Hulle sien Hom sonder dat hulle die Lig van God in Hom ontdek.

11:36 Wanner die Lig van Jesus, die Seun van God,  ’n mens bereik, word hy heeltemal verlig om kind van God te wees (vgl. Luk 10:23). Die mense wat die lig van God in hulle lewe toelaat word God se ligdraer wat die duisternis in ander mense verdryf. Jesus bemoedig die mense: As jou liggaam/persoon heeltemal verlig is, met geen deel aan die duisternis nie, sal dit heeltemal helder wees, soos wanneer ’n lamp jou verlig met sy strale. Die Seun van God sal dan die lamp wees wat jou lewe heeltemal verlig met sy woord en sy Gees, wat die Vader in jou laat woon. Daarom moet die gelowige daagliks bid dat die Here sy hele persoon verlig, sy begeertes, verstand, gevoel en wil, en dat hy deur die Here Jesus met sy liefde beheer sal word.

image_pdfimage_print

You may also like...