Die Evangelie volgens Lukas: Die roeping van Levi (Luk 5:27-32) – Francois Malan
5:27-28 Lukas verkort Markus 2:13-17 (Mat 9:9-13) se berig en beklemtoon Levi se volkome gehoorsaamheid toe Jesus hom roep – hy het alles net so gelos, opgestaan en Hom gevolg. So het die eerste vier dissipels ook op Jesus se woord gereageer (5:11), sowel as die verlamde wat onmiddellik op sy woord gereageer het (5:25). Markus 2:14 noem hom die seun van Alfeus; Mat 9:9 noem hom Matteus, so ook Lukas 6:15.
Levi (’n Joodse naam) is ’n tollenaar, waarskynlik naby Kapernaum op die pad van Damaskus na die see, waar padgebruikers tol moet betaal. Hy sou deur Herodes Antipas aangestel wees om elke jaar ’n sekere bedrag aan Herodes oor te betaal. Herodes sou in Rome gebie het om die belasting wat die keiser jaarliks uit Galilea en Perea verwag, in te samel. Insamelaars was nie beperk tot die bedrag wat hulle moes inbetaal nie. Tollenaars was beskou as onrein deur hulle baie kontak met nie-Jode en is toegang tot die sinagoge verbied; as agente van die onderdrukkende Rome is hulle gehaat as meelopers van die vyand en oneerlike afpersers. Die Talmud klassifiseer hulle as rowers (vgl. Luk 3:12-13). Hoe kan Jesus, ‘die Heilige van God’ (4:34) Hom met so ’n sondaar bemoei in die lig van Lev 10:10 se voorskrif oor rein en onrein?
Petrus kon as visser weer terugkeer na sy werk as hy Jesus sou verlaat. Maar hierdie tollenaar sou nooit weer sy werk kon terugkry, wat hy alles net so gelos het nie. So radikaal was sy keuse. Anders as Johannes die Doper wat bekering vereis voordat hy iemand doop (Luk 3:3), roep Jesus vir Levi om sy volgeling te word sonder enige voorvereistes of voorwaardes.
5:29 Levi vier sy roeping met ’n groot feesmaal vir ’n klomp tollenaars en ander mense, ’n vreugdevolle reaksie op die voorreg om Jesus se volgeling te word. Hy nooi sy vriende om hulle aan sy nuwe Here voor te stel.
Lukas beskryf Jesus ook as gas by hierdie en volgende gasmaaltye: 7:36 by ’n Fariseër; 10:38 by Martha; 11:37 by ’n Fariseër; 14:1 by ’n leier van die Fariseërs; 19:1.by Saggeus. Daarby kom nog die voeding van 5000 (9:14), die Paasmaaltyd (22:14), die maal by Emmaus (24:30), en die maal by die see (24:41) waar Jesus die gasheer is. By elkeen van die maaltye is daar gewoonlik ’n tafelgesprek.
5:30 Teenoor die tollenaars wat, ten spyte van hulle rykdom, as die skuim van die Joodse samelewing beskou is, staan die Fariseërs, wat almal as sondaars beskou wat nie hulle nougesette beskouing van die wet aanvaar het nie (Luk 18:11). Ter wille van hulle eie heiligheid het hulle sosiale kontak met sondaars vermy, veral mense wat nie die wette van reinheid gevolg het nie. Die populêre Jesus se tafelgemeenskap met die grootste sondaars was ’n ernstige bedreiging vir hulle lewenswyse se sorgvuldig opgestelde grense. Daarom mor (gogguzo) veral die skrifgeleerdes onder die Fariseërs by Jesus se dissipels oor Jesus en sy dissipels se saametery en drinkery met tollenaars en sondaars. Om te murmureer is die teenoorgestelde van om te glo.
5:31 Jesus se antwoord wys op die absurde van hulle posisie as kastige toegewydes aan die wet van die Here. Sal ’n dokter net gesonde mense besoek omdat hy bang is hy steek aan by die siekes? Sondaars is nie kriminele wat deur die wet gestraf moet word nie, maar siekes wat geheel moet word. Redding uit die aansteeklikheid van die onreinheid van sonde word nie gevind in kwarantyn-regulasies nie, maar deur God se genesende krag van vergifnis na hulle toe te bring.
5:32 Jesus spel die doel van sy koms in duidelike terme uit. Hy het nie gekom om ‘regverdiges’ te roep nie – ’n tong in die kies beskrywing van die Fariseërs wat hulleself as regverdiges voor God en die mense beskou het (Luk 18:11-12). Nee, Jesus het juis gekom om sondaars tot bekering (metanoia) te roep, tot ’n hele omdenking van jouself, van jou verhouding tot God en jou medemens, van jou verhouding tot God se skepping, en om volgens die nuwe verhoudings te lewe (vgl. Luk 15:7,31-32).