Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se hemelvaart (Luk 24:50-53) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Lukas is eintlik die enigste Evangelie wat die hemelvaart van Jesus beskryf. In Hand. 1:9-12 brei Lukas daarop uit met meer besonderhede. Johannes eindig met Petrus wat by die see van Tiberias deur Jesus in sy amp herstel is en opmerkings oor Johannes se ouderdom (Joh 21). Mattheus vertel van Jesus se laaste opdrag aan die elf dissipels by die berg in Galilea waarheen Jesus hulle ontbied het (Matt 27:16-20). Volgens die oudste manuskripte eindig Markus eintlik met Mark 16:8. Daar bestaan vier verskillende slotte vir Markus ná 16:8, wat waarskynlik nie oorspronklik deur Markus geskryf is nie en later bygevoeg is uit gegewens uit die ander Evangelies en mondelinge tradisies. Die lang slot se twaalf verse, 16:9-20, is opgeneem in manuskripte uit die 5e eeu n.C., maar enkele tekste daarvan is al aangehaal deur van die ou skrywers aan die einde van die 2e eeu n.C.  Mark 16:19 verwys na die hemelvaart nadat Jesus aan die elf verskyn het terwyl hulle aan tafel was en met hulle gepraat het.

24:50-51 Lukas vertel dat Jesus sy dissipels uit die stad (Jerusalem) uitgelei het tot naby Betanië, wat 2.7 km oos van Jerusalem lê, bo-op die Olyfberg. Hand 1:9-12 sê ná hulle gesien het dat Hy opgeneem word en ’n wolk Hom uit hulle gesigsveld weggeneem het, staan daar meteens twee mans in wit klere wat sê dat Jesus net so weer sal terugkom. Daarna het hulle van die Olyfberg af na Jerusalem teruggekeer. In Hand. 1:3 sê Lukas dit was veertig dae na sy opstanding.

 Jesus het sy hande opgehef en hulle geseën, die groot seën deur die Hoëpriester, soos die Joodse hoëpriester uit die geslag van Levi volgens die orde van Aäron gewoonlik aan die einde van die tempeldiens oor Israel die seën van die Here uitgespreek het. Jesus is egter self die Here, die Priester vir altyd, volgens die orde van Melgisedek; die koning van vrede wat vir Abraham geseën het (Ps 110:4; Hebr 7:1,3,11). Met sy verheerlikte liggaam keer Hy terug na sy Vader en sy heerlikheid wat Hy gehad het voordat die wêreld bestaan het (Joh 17:5). Met sy seënende hande oor sy volgelinge skenk Hy hulle sy daaglikse beskerming, sy redding uit genade, sy verhoring van hulle gebede en gee aan hulle die vrede met God en hulle medemens (Num 6:23-27). Met die seën verbind Hy Hom aan sy volgelinge en verbind hulle aan God. Daardeur behoort ons aan Hom en aan sy Vader.

 ‘Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is in die hemel opgeneem.’ Voor die Sanhedrin het Hy al getuig: ‘van nou af sal die Seun van die Mens aan die regterhand van God die Magtige sit’ (Luk 22:69; Hand 2:34, soos in Ps 110:1). Paulus sê Hy sit aan die regterhand van God en tree vir ons in (Rom 8:34). Efesiërs 1:20-21: God het Hom laat sit aan sy regterhand in die hemel bo alle maghebbers, ja, bo enigiets wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige (vgl. 1 Petr 3:22: alles is aan Hom onderwerp).

 24:52 Terwyl Hy hulle seën het hulle op hulle knieë geval en Hom aanbid. Deur sy hemelvaart is hulle oortuig dat Hy die Seun van God is wat  aanbid moet word.  Met sy seën stel Jesus hulle onder sy beheer en beskerming vir die opdrag wat Hy aan hulle gegee het. Omdat hulle nou oortuig is dat Hy die Seun van God is, gaan hulle met groot vreugde terug na Jerusalem van die Olyfberg af. In Johannes 14:28  het Jesus al gesê as hulle Hom sou glo sal hulle bly wees dat Hy na sy Vader toe gaan, ‘omdat die Vader groter is as Ek.’ Die engel het vir die skaapwagters gesê: ‘Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ’n goeie boodskap wat vir die hele volk ’n bron van groot vreugde sal wees’ (Luk 2:10)  Daarom kon die eerste gemeente ook gereeld met blydskap saam eet (Hand 2:46). Vreugde is die kenmerk van die gelowiges wat van die hemelvaart van Jesus af teruggekom het. Vir Lukas is die vreugde oor Jesus baie belangrik. Die Evangelie wat in Luk 1:14 met vreugde oor Johannes die Doper begin, eindig hier met groot vreugde oor Jesus se hemelvaart. En deur die Evangelie loop vreugde soos ’n goue draad, die woord chara vreugde kom 8 maal voor: agalliasis uitermate bly 2 maal; makarios gelukkig 15 maal; die werkwoorde chairō bly wees 11 maal; agalliaō om uitermate bly te wees 2 maal; makarizō as gelukkig beskou; eufrainō bly wees 1 maal; sungairō saam bly wees 3 maal; eufrainō bly maak 6 maal; skirtaō spring van vreugde 3 maal.

 24:53 Bewus dat hulle onder die seënende hand van Jesus is, is hulle sonder vrees vir die Jode of die leiers voortdurend in die tempel, besig om God te prys. Lukas se Evangelie begin in die tempel waar Sagaria die belofte van die geboorte van sy seun Johannes die Doper ontvang. Met die dissipels in die tempel sluit Lukas sy Evangelie af. Daar vergader die verteenwoordigers van die nuwe Israel as getuies van die geskiedenis van Jesus, van sy kruisdood, en sy verhoging as die Messiaskoning aan die regterhand van die Vader. In Handelinge is die tempel ook vir die eerste gemeentes belangrik (Hand 2:46; 3:1; 5:42). Dit was ook die laaste werkplek van hulle Here (Luk 19:47 waar Hy daagliks in die laaste week onderrig gegee het; Luk 22:53). Daar prys hulle God om hulle opdrag van Jesus te vervul om in Jerusalem te begin om in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies te verkondig (Luk 24:47-48). Die groot dade van God (Hand 2:11) wat Hy deur Jesus verrig het moet nou al die volke bereik. Dit vervul hulle met groot vreugde.

image_pdfimage_print

You may also like...