Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se volmag om sonde te vergewe (Luk 5:17-26) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Hier gebruik Lukas Markus 2:1-12 as bron wat hy veral aan die begin en einde sterk aanpas. Matteus 9:1-8 maak ook van Markus gebruik.

5:17 Jesus se eerste teenstand op sy reis deur die dorpe van Palestina kom van die godsdiensleiers. Na die genesing van die melaatse word Jesus ondersoek deur Fariseërs en skrifgeleerdes (vir sy Griekse lesers verduidelik Lukas dat hulle wetsleraars nomodidáskaloi is; Markus en Matteus praat net van skrifkenners grammateis, en nie ook van Fariseërs nie). Die Fariseërs (die naam beteken ‘afgesonderdes’) wou ná die Babiloniese ballingskap hulle afsonder van alle onreinheid van die volk, en het in heilige groepe gebly. Hulle wou lewe volgens al die bepalings van die wet van Moses soos dit deur die eeue uitgebrei is in fyner besonderhede. Die fyner besonderhede is beskou as ’n heining om die wet, om die wet te beskerm. Die wet om nie die naam van die Here (Jahweh) ydellik te gebruik nie wou hulle bv. beskerm deur verder te bepaal dat sy naam glad nie gebruik moet word nie. Hulle het ook ’n aardse messias verwag wat hulle van die Romeinse onderdrukking sou verlos. Die meeste skrifgeleerdes was uit die Fariseërgroep.

Die ondersoekspan kom uit elke dorpie van Galilea, Judea en Jerusalem. Hulle sit daar in die huis waar Jesus die mense onderrig (Markus en Matteus sê dit is in Kapernaum), reg om Jesus se leringe en genesings te beoordeel. Lukas sê die krag van die Here het in Jesus gewerk om mense te genees. Dit is wat die godsdiensleiers kom ondersoek. Lukas plaas hulle teenwoordigheid aan die begin van die verhaal (Markus later). Hulle beskou hulleself as bevoeg om oor Jesus se doen en late te oordeel. Uit wat gebeur het, is Lukas oortuig dat Jesus se gesag van die Here kom. Dat Hy met die gesag van God beklee is en dat God deur Hom werk.

5:18-19 ‘En kyk! manne (Markus sê vier manne) dra ’n verlamde op ’n veldbed (klinidion).’ Hulle wou hom inbring en voor Jesus neersit. Maar die skare is so groot dat dit onmoontlik is om die verlamde die huis in te dra (Mark verwys na die skare ook voor die deur). Hulle dra hom tot bo-op die dak. Lukas sê hulle verwyder die dakteëls (wat nie in Palestina gebruik word nie, maar deur die Grieke en Romeine – so pas hy sy Evangelie aan by sy lesers; Markus sê net dat hulle die dak oopgebreek het; dakke is gewoonlik in Palestina van klei en plantmateriaal gemaak) en hulle laat sak hom tussen die mense reg voor Jesus.

5:20 Jesus sien die geloof van die verlamde en sy vriende, hulle vertroue dat Jesus die man kan genees, en hulle deursettingsvermoë om op dié wyse voor Jesus te verskyn. Jesus gebruik die geleentheid om sy eintlike taak bekend te stel aan die ondersoekkomitee van kritiese wetskenners en voor die hele volk. Hy het gekom om die sonde van die wêreld weg te neem (Joh 1:29). Die verlamde word aangespreek as ‘mens’ (ánthrōpos) – want dit geld vir elke mens wat in Hom glo (Joh 3:16): ‘mens, jou sondes is vir jou vergewe’ (deur God, is die implikasie van die passiewe werkwoord ‘is vergewe’). Jesus het mens geword volgens die wil van God om versoening te bewerk deur die mens se verhouding tot God reg te maak en dat God se vergewing almal kan bereik wat in Jesus glo, ook die gelowige verlamde en sy vriende.

5:21 Die oordeel van die skrifkenners (grammateis) en die Fariseërs is: dit is Godslastering!. Wie is dit wat lasterlik praat? Wie kan sonde vergewe as net God alleen? (die Griekse sin veronderstel die antwoord: niemand!). Maar Jesus het daardeur juis geopenbaar dat Hy een is met God, maar dit kan die skrifkenners nie raaksien in die Seun van die Mens nie.

5:22-23 Jesus stel aan sy veroordelende godsdiensleiers ’n keuse oor wat volgens hulle oordeel die maklikste is. Vir hulle klink sy aanspraak op sondevergewing lasterlik en te maklik gesê, en om iemand werklik te genees die moeilike keuse. Vir Hom kos die sondevergewing egter sy dood aan die kruis, waar Hy die straf op die sonde van die wêreld moet dra, en is die genesing van ’n verlamde die regte gebruik van sy  genesingskrag waarmee die Vader Hom toegerus het as bewys van sy Seunskap van God  (Luk 5:17).

5:24 Jesus genees die verlamde met sy gesagvolle woord: ‘Ek sê vir jou, staan op, tel jou veldbed (klinidion ’n smal tydelike opvoubare bed/draagbaar) op en gaan na jou huis.’ Daarmee bewys Hy, die Seun van die Mens, soos Hy Homself noem (en 80 maal in die Evangelies deur Hom gebruik word), dat Hy die volmag het om op aarde sonde te vergewe. Sy woorde van vergifnis en sy genesing van mense gaan saam.

Vir die eerste van 27 keer gebruik Lukas die selfbenaming van Jesus: Seun van die Mens. So maak Jesus Hom aan die godsdiensleiers bekend. Die Ou Testamentiese uitdrukking ‘seun/kind van die mens’ dui gewoonlik op die onbelangrikheid en broosheid/swakheid/sterflikheid van die mens in teenstelling met die grootheid en almag van God (bv. Job 7:17; 25:6; Ps 8:5; 144:3). Met die selfbenaming onderstreep Jesus sy menslikheid, veral t.o.v. sy lyding en dood (bv. Mat 8:20; Luk 9:22; 18:31). In sommige verbande is dit eintlik ’n omskrywing van die voornaamwoord ‘Ek” (Luk 7:34).

Maar dit is veral Daniël 7:13-14 wat in Hom vervul word: ‘My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese (’n seun van ’n mens, ke-bar ênasj). Hy (seun van die mens) het na Hom toe gegaan wat ewig lewe (nl. God vgl. Dan 7:9-10) en is voor Hom (God) gebring. Aan die menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die nasies en tale en volksgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.’ Toe die Hoëpriester Jesus ondervra het in Markus 14:60 ‘Is jy die Christus(Messias), die Seun van die Lofwaardige?’ het Jesus geantwoord: ‘Ek is! Julle sal die Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige en sien kom met die wolke van die hemel (vgl. ook Ps 110:1).

Sy selfbenaming wys sy messiaanse waardigheid; die naam wat Hy verkies bo die politiekgelaaide term messias. Lukas verbind die Seun van die Mens wat hy hier in 5:24 vir die eerste keer gebruik aan sy volmag om sondes te vergewe – dit is sy groot taak waarvoor Hy gekom het. Dit impliseer ook sy goddelikheid en sy hemelse oorsprong, want dit is net God wat sondes kan vergewe (Luk 5:21). Met sy volmag dryf Hy duiwels uit (Luk 4:36), genees Hy siekes (Luk 4:40), en oefen Hy sy koningskap oor die Sabbat uit (Luk 6:5). Sy hele reis na Jerusalem in Lukas 9-19 wys dat Hy oortuig was van die noodsaaklikheid van sy lyding, dat Hy, die Seun van die Mens, só sy Vader se wil laat geskied (bv. Luk 9:22,44; 18:31-33; 22:42). Dit wys ook sy eenheid met die mensdom, veral met die swakkes en nederiges, ook dat Hy die verteenwoordiger van die nuwe Israel is en die draer van God se oordeel en van God se koningskap. Hy is die Seun van Adam die Seun van God (Luk 3:38), God se lydende Kneg (Jes 53). Hy gebruik die benaming egter nie bloot as ’n titel nie, maar as ’n uitnodiging aan ander om deel te word van sy taak in die wêreld. Die heerlikheid van die Seun van die Mens is die triomf van sy hele beweging om mense met God te versoen deur genadige vergifnis en nederige liefdediens.

5:25 Die geneesde verlamde staan onmiddellik voor hulle oë op, as bewys van Jesus se volmag om sonde te vergewe en te genees. Die lamme, wat op sy bed gedra is, dra nou sy bed en gaan al prysende na sy huis as getuienis dat Jesus se werk God se werk is. So verkondig die geneesde sy nuutgevonde geloof in Jesus se goddelike mag. Sy en sy maats se vertroue op Jesus, wat die huis se dak oopbreek om by Hom te kom vir heling, word ’n ryke ervaring van God se vergifnis van sy sonde, wat hy in sy lofsang verkondig (wat slegs in Lukas beskryf is).

5:26 Die hele skare is uitermate verbaas (ékstasis élaben hápantas ekstase het almal aangegryp) en hulle het God geprys soos die verlamde, wat hulle voorgegaan het in die lofprysing van God. Hulle is met diepe ontsag vervul (was met vrees vervul) deur die wondergenesing deur God en die sondevergifnis deur die Seun van die Mens. Daarom sê hulle: vandag het ons paradoksa gesien (teenstrydige dinge, wat moeilik is om te glo – ongelooflike dinge). Terwyl die verlamde se lofprysing aan God verbind is aan sy besondere vertroue op Jesus, sien die skare, en veral die ondersoekkommissielede wat skepties na Jesus se woorde en wonderdade kom kyk het, ongelooflike dinge, en loof hulle God vir die wondergenesing, maar bly skepties oor Jesus se volmag om sondes op aarde te vergewe. Die Fariseërs en skrifgeleerdes verkondig nie God se genade alleen as genoeg vir sondevergifnis nie, maar dat jou goeie werke God moet oortuig dat Hy jou sonde behoort te vergewe (vgl. Luk 11:46,52).

image_pdfimage_print

You may also like...