Die Evangelie volgens Lukas: Aankondiging van Johannes die Doper se geboorte (Luk 1:5-17) – Francois Malan

image_pdfimage_print

1:5 Lukas lê eers die verband tussen Johannes se geboorte en die wêreldgeskiedenis, met Herodes (die Grote, van 37-04 v.C.) koning van Judea as verteenwoordiger van die hele Palestina. Herodes het die titel ‘koning’  van die Romeinse keiser ontvang. Die Romeinse owerheid het Jesus aan die kruis  ‘die koning van die Jode’ genoem (Lk 23:38, so in alvier die Evangelies).

In dié gedeelte gaan dit oor die priesterlike afkoms van Johannes die Doper as verteenwoordiger van die hele Ou Testament en oor die tempeldiens, om die verband tussen God se ou verbond met Abraham en Israel en die nuwe verbond met Jesus en sy kerk te lê. Dawid het aan die einde van sy lewe die priesters in 24 afdelings ingedeel vir diens in die tempel  (1 Kron 24:1-6). Die agtste afdeling, waaruit Sagaria kom, was van Abia, uit die geslag van Eleasar, seun van Aäron. Elke afdeling het twee maal per jaar vir ’n week die diens in die tempel kom waarneem. Die afkoms van Johannes se moeder word aangedui as direk uit die geslag van Aäron wat by Sinai as priester aangestel is, 250 jaar voor Dawid se indeling.

Die naam Sagaria beteken ‘die Here onthou’ en Elizabeth ‘my God is ’n eed’ wat beteken ‘my God is die absolute getroue.’  Hulle name verteenwoordg die getrouheid van die Here (aan Jahweh ‘die Ek is’) die God van die Ou Testament wat sy beloftes onthou (vgl. sy verbondsbelofte aan Abraham in Gen 12:1-3, 1600 jaar voor Christus).

1:6 Die ouers van Johannes ontvang hier die hoogste lof volgens die priesterlike kode en van die vroomheidsideaal van hulle tydgenote: in die oë van God (volgens sy beoordeling) is hulle albei regverdig (dikaioi  – reg volgens wat God vereis, soos Noag, Gen 7:1; en Abraham Gen 26:5; vgl. Mal 3:16) en is hulle onberispelik (volgens die mense se oordeel; vgl. ook Jesus, 2:52), leef hulle volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here. Dit beteken nie dat hulle sonder sonde was nie, maar dat hulle God getrou gedien het, anders as die algemene gees van hulle tyd.

1:7 Die algemene verwagting was dat God ’n getroue dienskneg sal seën met kinders (Ps 127 & 128), en dit maak die twee ou mense se kinderlose toestand vir hulle ’n onverstaanbare tragedie. Vir die egte Jood was elke seun wat gebore word ’n stap nader aan die koms van die Messias. Priesters het nooit afgetree nie, en kon baie oud word in die priesterdiens. Hulle ouderdom (letterlik: hulle albei was reeds gevorderdes in hulle dae – ’n Aramese uitdrukking in Grieks weergegee) het verder gemaak dat hulle nie meer gehoop of verwag het dat ’n kind vir die onvrugbare Elizabeth gebore sou word nie. Dit het hulle nie laat afwyk van hulle toegewydheid aan die Here nie. Die Here se pad met onvrugbare Sara (Gen 17:17; 18:13-14); Simson se ouers (Rigt 13:2-3); Samuel se moeder (1 Sam 1:2), het teen die algemene verwagting en geloof ingegaan. God is die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur (vgl. 1:36; Ef 1:11).

1:8-9 Daar was ‘n paar duisend priesters en toe die beurt van die Abia-groep aanbreek was daar ook baie van hulle vir die een van hulle twee weke per jaar diens by die tempel. Die lot het op Sagaria geval om die dag se môre- en aand- reukoffer op die goue altaar in die heilige van die tempel te bring, nadat ’n ander priester kole en as vanaf die brandoffer op die groot altaar wat buite die heilige gestaan het, op die goue altaar gegooi het (Eks 30:7-8). So ’n voorreg het maar eenmaal in sy lewe ’n priester te beurt geval en baie het nooit so ’n geleentheid gekry nie.

1:10 Die reukoffer-altaar staan tussen die tafel met die toonbrode en die 7 lampe. Die wierook wat opstyg in die tempel is die simbool van die hele gemeente wat buite in die voorhof van die volk by die offer op die groot altaar, besig is om te bid: ‘Barmhartige God kom in die heiligdom en neem met welgevalle die offer van U volk aan.’ Die groot menigte bidders veronderstel dat dit by die aandoffer was (Dan 9:21; wat reeds teen 3nm begin het). Hulle wag op die priester se terugkeer en seën nadat hy die brandoffer van versoening vir hulle sondes met die geur van die wierook aan die Here aangebied het. Die reukoffer is ’n teken van die selfoorgawe van die bidders aan die Here (Ps 141:2).

1:11-12 ’n Engel van die Here (Gabriël, volgens 1:19) verskyn aan die regterkant van die altaar (die ereplek vir ‘n regter; vgl Hand 7:55) aan die kant van die tafel met die 12 toonbrode – letterlik: brode van die aangesig –  met ’n bakkie wierook op elkeen van die ringbrode as dankoffer aan die Here wat aan elke stam sy daaglikse brood gee. Die priesters eet die brood op ’n heilige plek (Lev 24:5-9). Sagaria is nog alleen in die stilte van die heiligdom toe skrik hy, ontsteld oor die skielike verskyning van die engel, en vrees oorval hom, want die sondige sterflike mens verwag die Here as sy Regter.

1:13 Hy word dadelik deur die engel gerusgestel: Moenie bang wees nie Sagaria. Hy kom as ’n vreugdeboodskapper, onverwags en onverdiend. ‘want jou gebed is verhoor’ – op daardie oomblik was Sagaria besig om te bid vir sy volk se verlossing, en dié gebed word verhoor, en ook hulle jarelange gebede om ’n kind. Hulle kinderloosheid word nou onthul as die Here se uitverkiesing van hulle twee as ouers van die voorloper van die Messias, die versugting van elke egte Jood.

Jou vrou Elizabeth sal in haar ouderdom ‘n kind in die lewe bring – ’n wonderwerk want sy is by die jare van kinders kry verby.  Maar met die herhaling van die wonderwerk aan Abraham en Sara, kondig die Here die vervulling aan van sy belofte aan Abraham in Gen 12:2-3. En jy moet hom Johannes noem (deur Jahweh begenadig/Die Here is genadig/genadegawe van die Here). Deurdat die Here die naam vir die kind gee, neem die Here die verantwoordelikheid vir hierdie kind op ’n besondere wyse op Hom, en die kind kry ’n spesiale verantwoordelikheid teenoor die Here. Hy is die voorloper (1:76) van die Een wat die genadejaar van die Here gaan inlei en aankondig (Luk 4:19).

1:14 Vir Sagaria en Elisabet sal die kind ’n bron van vreugde (chara) en intense blydskap (agalliasis)) wees, en baie mense sal bly wees (chairo ’n toestand van vreugde en welwese) oor die geboorte van ‘Die Here is genadig,’ want hy gaan die koms van die Verlosser (soter 1:47; 2:11) voorberei. Lukas is ook die Evangelie van vreugde wat hier met drie Griekse woorde beklemtoon word. Johannes moet as wegbereider van heil beskou word en nie as boodskapper van oordeel nie (1:76-79).

1:15  Die taak wat die Here vir die beloofde kind het, word in 1:15-17 uitgespel. Eers hoe hy sal wees: groot in die oë van die Here (vgl. 7:28), die grootste van alle profete wat tot dusvêr in die Naam van die Here opgetree het. So word die heilstyd vir Israel met woord en daad ingelei.

Soos ’n Nasireër (Num 6:2-3) sal hy geen wyn of bier drink nie (sikera word gebruik vir alle dwelmdranke wat van graan gemaak is. In die Bybelse tyd was dit bier – whisky, gin, vodka was toe nog nie bekend nie).

Anders as ’n Nasireër, word nie gesê hy mag nie sy hare of sy baard skeer nie (Num 6:5; Rigt 13:5). In plaas daarvan word gesê: hy sal met die Heilige Gees vervul word reeds van sy moeder se swangerskap af. Van voor sy geboorte tot met sy dood sal hy aan die Here gewy wees en in diens van die Here wees.

1:16 Hy word soos ’n hoëpriester die man wat mense, baie van die kinders van Israel, met God sal laat versoen word, deur hulle terug te lei na die Here as hulle God. Hy is die wegbereider van God en van God se heerskappy. Johannes en Jesus  is volledig in die Ou Testament en die Ou Verbond gewortel, en die oorgang van Jodendom na Christendom is vir Lukas sonder die nodigheid van ’n brug. Johannes berei die koms van God voor, wat met Jesus vervul word. Terwyl Johannes die prediker is oor die verwagte Christus/Messias/Gesalfde, is Jesus die Joodse verwagte Messias gesalf as koning, priester en profeet, wat die Here se verbond met Abraham kom vervul. Johannes kom herstel die vrede tussen die Here se volk en hulle Here, deur bekering uit hulle ongehoorsaamheid te verkondig. Baie van die kinders van Israel sal na die Here hulle God terugkeer deur sy prediking. Daarvoor is Johannes toegerus met die Heilige Gees.

1:17 Lukas maak seker Johannes die Doper word nie gesien as ’n reïnkarnasie van Elia nie. Daarom sê hy Johannes sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan; anders as in Markus 9:15 en Mat 11:10. Lukas wys op Johannes se optrede wat soos Elia s’n is. Lukas is die enigste van die drie Evangelies wat Mal 4:6 aanhaal.

In Lukas 1:17 stel die engel Johannes voor as Jesus se voorloper, wat die wêreld vir Jesus se bediening voorberei. Soos aan Elia sal vir Johannes die regte woord gegee word om te praat, en die krag van die Heilige Gees stel hom in staat om die bediening waartoe hy geroep is, te volbring.

image_pdfimage_print

You may also like...