Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word versoek (4:1-13) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Na sy doop word Jesus deur die duiwel versoek. By sy doop het Hy gehoor ‘Jy is my geliefde Seun…’ (3:22). Nou hoor Hy ’n stem wat daaroor wil twyfel saai.: ‘As jy die Seun van God is…’

Soos ons, word Jesus oor drie dinge versoek: om die goeie toe te laat om die beste te verdring; om God se doel te soek met middels wat vreemd is aan God se karakter; om God se arm te draai deur kort paaie te kies na sukses. Omdat Hy self gely het toe Hy versoek is, is Hy in staat om dié wat versoek word te help (Hebr 2:17-18).

Markus 1:12-13 meld net dat Jesus dadelik, ná die stem uit die hemel, deur die Gees uitgedryf is (ekballo  uitgooi, uitstuur, uitlei) die woestyn in, 40 dae lank deur die Satan versoek is, dat Jesus met die wilde diere was, en dat die engele Hom versorg het.

Matteus 4:1-11 versag die uitdryf met ‘Hierna is Jesus deur die Gees na die woestyn gelei (anago) om deur die duiwel versoek te word. Matteus het niks oor die wilde diere nie, en plaas die diens van die engele ná die versoekings;  die 40 dae word as vasdae aangedui en dat Hy later honger geword het. Matteus stel die versoeking op die tempelspits tweede, en Lukas derde.

 

4:1 ‘Vol van die Heilige Gees…’ – Nadat die Gees in sigbare vorm soos ’n duif op Jesus neergedaal het om Hom toe te rus vir sy taak (3:22), keer Jesus terug van die waterrryke groen Jordaangebied, en word deur die Heilige Gees gelei na die onherbergsame woestyngebied. Dit is ‘n beeld van sy taak in die deurmekaar wêreld wat deur die duiwel beheer word deur middel van die mense se verwaandheid en selfsug. Matteus en Markus se ‘Gees’ word in Lukas spesifiek die Heilige Gees genoem, en dat Jesus vol van die Heilige Gees was. Dat Hy deur die Heilige Gees gelei is, dui aan dat Hy voor sy openbare optrede duidelikheid moes kry oor watter soort Messias Hy sou wees. By sy doop is sy Seunskap van God bevestig met Ps 2:7: ‘Jy is my seun;’ maar ook sy lydende dienaarskap met Jesaja 42:1: ‘Daar is my Kneg in wie Ek ’n welbehae het, op wie Ek my Gees laat kom.’ Hier in die woestyn moes Jesus besluit hoe Hy, as die Vader se lydende Dienskneg, sy Seunskap van God gaan uitlewe.

4:2 Vir veertig dae word Hy deur die duiwel versoek. Die Griekse woord  diabolos ‘duiwel’ beteken ‘lasteraar’ maar word vir die vader van alle sonde gebruik (Joh 8:44). Hy probeer die verhouding tussen die mens en God met verleidings omkrap. In daardie dae van versoeking het Jesus niks geëet nie. Toe die dae beëindig is, was Hy honger (Matteus sê dat Hy vir 40 dae en 40 nagte gevas het, daarna honger was, en toe versoek is). Lukas skep die indruk dat die drie versoekings eintlik die drie sake is waarmee Jesus dwarsdeur die veertig dae mee geworstel het om klaarheid daaroor te kry.

Versoekings probeer die mens tot sonde teen God verlei, maar dien ook as toets om geloof en vertroue op God te versterk (Jak 1:2; vgl. Ps 26:2; 139:24-25). Die 40 dae sluit aan by Moses se 40 jaar in die woestyn (Hand 7:30,36), en sy 40 dae en nagte op Sinai by die Here (Eks 24:18), Elia se 40 dae en nagte in die woestyn (1 Kon 19:8). Dat dit in die woestyn geskied sluit aan by Johannes die Doper wat in die woestyn grootword (Luk 1:80) en Paulus se 3 jaar afsondering in Arabië na sy bekering (Gal 1:17-18).

Met sy honger ontdek Jesus wat honger aan ’n mens kan doen. Dit vestig jou aandag op jou onmiddellike materiële behoefte en neem jou aandag weg van die groter eise van die lewe. Daarby het Jesus simpatie geleer met mense wat daagliks honger ly. Die vraag is of God dan nie vir sy honger kinders sorg nie. Jesus kon vra of sy hooftaak as die Messias/Christus nie is om in die mens se primêre behoefte te voorsien nie, soos in die tyd van Moses met die manna in die woestyn. Later sou Jesus ’n skare voed (Luk 9:10-17); vir Martha wat bedrywig alles klaargemaak het, sê Hy egter: Jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria, wat na Jesus se woorde luister het die beste deel uitgekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie (Luk 10:41-42). Met sy honger word Jesus versoek om die goeie te kies bo die beste (vgl. die derde bede om elke dag se brood vir ons, ná die gebed om die heiliging van die Vader se Naam en die koms van sy koninkryk in Luk 11:2).

:3 Jesus se honger word die aanknopingspunt vir die duiwel om Jesus te laat twyfel oor sy Seunskap van God. As Hy die Seun van God is sou Hy mos vir hierdie klip kon sê om brood te word om sy honger te stil! (Matteus het die meervoud: dat hierdie klippe brode word). Kan Jesus nie sy mag as Seun van God gebruik om Homself aan die lewe te hou nie? In Lukas 12:23 sê Jesus vir die dissipels: Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere; in 12:29-31: Die Vader weet wat julle nodig het. Soek eerder na sy koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

4:4 Jesus antwoord met ’n aanhaling uit Deutr 8:3 wat verwys na die Here se woord aan Israel oor hulle 40 jaar swaarkry, toe Hy hulle laat honger ly het in die woestyn, en hulle toe met manna gevoed het om hulle te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie (Matteus voeg die res van Deutr 8:3 by: ‘maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom). Dit gaan om die verhouding tussen die Seun en die Vader uit wie se woord Hy lewe. Hy gebruik nie sy Seunskap om Homself te help en sy honger te stil nie, maar bewaar sy unieke Seunskap van God deur elke dag getrou sy lewe uit sy Vader se hand te ontvang. So behoort elke gelowige te lewe. Sy voedsel is om die wil te doen van sy Vader wat Hom gestuur het om sy werke te voltooi (Joh 4:34). Sy Seunskap handhaaf sy hoogheid deur sy gehoorsaamheid aan sy Vader volgens sy woord. Adam het in sonde geval deur te eet; die tweede Adam oorwin deur nie te eet nie.  (Matteus 4:11b en Mark 1:13 vertel dat daar nadat Jesus al die versoekings oorwin het, engele gekom het om Hom te versorg).

4:5 Lukas plaas die versoeking op die tempelspits derde en die een om die gesag van die koninkryke van die wêreld oor te neem tweede (wat Matteus derde plaas en die tempelspits tweede; in die Latynse vertaling, die Vulgata, deur Hieronimus, is Lukas se tweede versoeking ook derde geplaas).

Letterlik: ‘en hy (die duiwel) het Hom (Jesus) opgelei (boontoe)…’  – die 1953-vertaling voeg by: op ’n hoë berg, soos in latere manuskripte; die 1983-vertaling: op ’n hoogte; die Direkte vertaling: na ’n hoë plek; Matteus 4:3 die duiwel neem Hom na ’n baie hoë berg) ‘…en vir Hom in ’n oogwink al die koninkryke van die bewoonde aarde (oikomene) gewys’ –  (Die uitdrukkings  ‘opgelei,’  ‘in ’n oogwink’ en ‘al die koninkryke van die aarde’ skep die indruk dat Lukas bedoel dat Jesus dit alles in sy gedagte gesien het). Om al die koninkryke van die aarde te beheer kon ’n versoeking wees wat in Jesus se geestesoog opgekom het, om die korrupte politieke mag in die wêreld oor te neem. Ps 2:8 sê juis vir die nuwe koning: Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting,

Volgens Deutr 3:27; 34:1-4 het die Here vir Moses op Pisgaberg in die Neboberge die hele beloofde land gewys.

:6 Die duiwel maak aanspraak op besit van die hele aarde, dat dit in sy mag gegee is. Hy oefen sy regeermag uit deur sy agente, onder andere die keiser van Rome, wat optree soos die dier uit die see van Openbaring 13:1-8, wat die sinnebeeld is vir aardse regerings wat vir die draak werk (terwyl Rom 13:1 sê: ‘Daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie, en dié wat daar wel is, is deur God ingestel.’). Ps 24:1 sê: Aan die Here (Jahweh) behoort die aarde en alles daarop, die wêreld en dié wat daar woon (aangehaal in  Kor 10:26: die aarde en die volheid daarvan behoort aan die Here). Die duiwel se aanspraak dat die mag en prag van die wêreld aan hom gegee is (pssiewe werkwoord) suggereer dat God dit vir hom gegee het. Die die sonde van die mensdom is dat hulle hulleself aan die bose oorgegee het deur te begeer om self god te wees (Gen 3:5).

4:7 Die voorwaarde waarop die duiwel die mag aan Jesus aanbied, is om met die duiwel se metodes van geweld en politiekery ’n kompromie te maak, om so die politieke mag in die hande te kry. Johannes 12:31; 14:30; 16:11 praat van die duiwel as die owerste van hierdie wêreld. Die versoeking is om God se doel te bereik met middele wat vreemd is aan die karakter van God; om vir Homself die koningskap oor die wêreld te bekom. Ps 2:8 sê dat Jesus die gesag van sy Vader moet ontvang en nie van die duiwel nie. Jesus sê later vir Pilatus: my koningskap is nie van hierdie wêreld nie, anders sou my dienaars geveg het (Joh 18:36). Jesus het egter gekom om met liefde, deur lyding en ’n kruis, die mag oor die wêreld en oor die mensdom uit die hand van die duiwel te verlos (Luk 10:18). Jesus het ook nie die gesag oor die wêreld uit die hand van die duiwel ontvang nie, maar uit die hand van sy Vader (Mat 28:18; Joh 17:2; Rom 13:1; vgl. Dan 4:17).

4:8 Jesus antwoord die duiwel met ’n Skrifwoord wat deel geword het van elke Jood se daaglikse gebed: Luister (shema), die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien  (Deutr 6:4, 13-14). Daarmee wys Jesus die versoeking af om’n politiese messias te word, om kompromieë met die wêreld se metodes te maak, en wag Hy op die vervulling van die Here se uitspraak oor Dawid se heer in Ps 110:1. Dit gaan oor Jesus se wêreldregering uit sy Vader se hand: ‘Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak (Ps 110:1; ook aangehaal in Luk 20:42-43; 22:69; Hand 2:32-36). Dit gaan vir Jesus nie om sy koninkryk nie, maar om sy Vader se koninkryk (Luk 11:2). Met onbegrensde vertroue op God is Jesus ten volle gehoorsaam aan Hom. Hiermee verwerp Jesus die Jode se idee van ’n aardse messias. Daarom het die meeste Jode Hom ook verwerp. Die paaie van hierdie wêreld lei nie na die koninkryk van God nie. Om jou geloof te vestig op wêreldse wysheid of gesag is om iets te aanbid wat nie God is nie. Om God in waarheid te dien beteken om Hom te vertrou en jou toekoms in sy hande te laat.

4:9  Vir die derde versoeking neem die duiwel vir Jesus na Jerusalem, laat Hom op die toppunt van die tempel staan, bo op die koninklike balkon in die stadsmuur wat uitkyk op die Kedronvallei, 450 voet onder toe, om voor die oë van die volk ’n wondertoertjie uit te voer. Die duiwel haal ’n Bybelteks aan sodat Hy sy Seunskap as God se Messias vir Israel kan bewys met iets wat gesien kan word deur die godsdienstige leiers en die Joodse gemeente. Deur af te spring en deur engele gedra te word, kan Hy kortpad vat na sukses onder die Jode en hulle leiers, en ook die kruisdood systap. Volgens ’n ou Joodse oorlewering sal die Messias Homself openbaar op die dak van die heiligdom.

4:10-11 Die duiwel haal aan uit Ps 91:11-12 en suggereer dat Jesus ’n skoupelagtige wonderwerk moet doen. Dit is iets wat tot ’n wondergeloof kan lei, wat gou weer oorwaai. Hy haal Ps 91:11 net halfpad aan sonder die laaste deel: Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm op al jou weë. Sonder die laaste deel lyk dit of God vir Jesus sou beskerm al sou Hy sy lewe eiemagtig in gevaar stel om mense te beīndruk. In die woestyn het die Israeliete, toe daar nie water was nie, ook die Here op die proef gestel  deur te sê: Is die Here by ons of nie? Toe het Moses, in opdrag van die Here, die rots geslaan en daar het water uitgekom. Nou wil die duiwel hê dat Jesus op sy bevel, die Here op die proef moet stel met ’n wonderredding om te bewys dat Hy die Seun van God is. Die versoeking is om Hom as Messias aan die mense bekend te stel met ’n sensasionele gebaar. Maar sensasie bedaar gou.

Jesus antwoord met Deutr. 6:16: julle mag die Here julle God nie op die proef stel nie. Om God te toets is die teenoorgestelde van Hom te vertrou. Wie nog vra om bewyse, het nog nie geleer dat geloof  ’n bewys is van die dinge wat nie gesien word nie (Hebr 11:1). Om jou geloof te bou op wêreldse wysheid en gesag beteken om iets te aanbid wat nie God is nie. Om God te dien is om Hom te vertrou en die gevolge in sy hande te laat. Met die teks uit Deuteronomium wys Jesus alle selfsug, eiewilligheid, vertoon en fanatiese optrede af as onversoenbaar met God se woord en sy wil.

Elkeen van die drie versoekings fokus nie op Jesus se swak punte nie, maar juis op sy sterkste punte: sy barmhartigheid teenoor hongeriges en behoeftiges, sy toewyding aan sy Vader, sy vertroue op sy Vader. In elkeen sien Hy dat dit nie God se wil is nie, maar die listige verleidings van die duiwel. Telkens antwoord Jesus met ’n woord uit Deuteronomium (6:13,16; 8:3), wat verwys na die ondervindings van Israel, die volk van God, op hulle woestyntog. Dit loop saam met Jesus se ondervinding in die woestyn. So vereenselwig Hy Hom ook met die belewenisse van die volk van God.

Hy word herinner aan sy Godheid om dit vir Homself te misbruik en Hy beklemtoon sy mensheid:  ‘As jy die Seun van God is…’ – die mens leef nie net van brood nie.’  Hy plaas Hom onder die gesag van die Skrif en sodoende onder die gesag van God. Sy rol is om te aanbid en te dien, om werklik die Dienaar van die Here te wees. Hy sal egter ’n baie groter sprong die dieptes in maak aan die kruis, deur Homself in vertroue op God in die dood oor te gee om die straf vir die sonde van die hele wêreld te dra, ‘Vader in u hande gee Ek my gees oor’ (Luk 23:46; Ps 31:6).

4:13 Jesus het die eerste rondte gewen, en die duiwel het Hom vir ’n tydjie gelos, maar die versoekings sou telkens deur sy hele bediening terugkom as toets vir sy barmhartigheid (7:13; 17:13; 18:38); sy reaksie op die entoesiasme om Hom ’n nasionale held te maak (19:38); die suspisie wat van Hom ’n wonderteken uit die hemel gevra het  (21:7; 23:8). Tot aan die kruis spot die soldate met sy Messiasskap: As jy die koning van die Jode is, red jouself (Luk 23:37).

image_pdfimage_print

You may also like...