Die Groot Geloofswoordeboek: Die Kruis

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Kruis

Kruis

Die kruisiging van Jesus het ‘n ongelooflike ryk betekenis in die Nuwe Testament. Maar ‘n mens moet baie duidelik onderskei tus­sen die aanvanklike interpretasie van die kruis en die later inter­pretasie.

Jesus praat ‘n hele paar keer van die feit dat Hy doodgemaak gaan word (Mark 8:31 ev; 9:30 ev; 10:32 ev), en ‘n keer of twee gee Hy ook ‘n interpretasie daaraan: sy dood sal ‘n losprys wees vir baie (Mark 10:45).

Die kruis ‘n skanddaad

Soos baie ander dinge het die dissipels dit egter nie verstaan nie. Daarom gee hulle aanvanklik (dit is net na Pinkster) ‘n heel­temal negatiewe betekenis aan die kruis. Dis interessant om Petrus se preke in Handelinge na te gaan en te kyk hoe hy die Jode beskuldig dat hulle Jesus doodgemaak, selfs vermoor het (2:23-32; 3:15; 4:10; 5:30). Daar word nog geen besondere heilsbetekenis in hierdie tyd aan die kruis gegee nie. Selfs waar Petrus na sondevergifnis ver­wys (Hand 3:19; 5:31), verbind hy dit nie aan die kruis nie, maar bied dit eenvoudig aan soos in die Ou Testament: as jy jou sonde bely, sal God dit vergewe (2 Sam 12:13).

 

Die kruis ‘n heilsdaad

Elders (*Opstanding) is daarop gewys dat die evangelie aan­vank­lik die opstandingsevangelie was, en dat die kruisevangelie eers la­ter bygekom het. Dit het by Paulus gebeur. In sy brief aan die Galasiërs lees ons die eerste keer van die waarde van die kruis: “Christus wat Homself vir ons sondes gegee het” (1:3-4). Onthou dat Petrus sy preke net na die opstanding en hemelvaart van Jesus le­wer, dus om­trent in die jaar 30 nC, terwyl Paulus die brief aan die Galasiërs in omtrent 49 nC skryf, dus eers byna twintig jaar later. Dit is in hierdie tyd dat die oortuiging posgevat het dat die kruis nie net ‘n skanddaad van die Jode was nie, maar tegelyk ook ‘n ongeloof­like heilsdaad: die offer op grond waarvan God ons sonde vergewe. Die briewe van Paulus wat later geskryf is, en ook die ander briewe, is vol daarvan. (Om maar net ‘n paar te noem: Rom 8:3; 1 Kor 15:3; 2 Kor 5:18 ev; Ef 1:7; 2:14 ev; 5:2; Heb 9:12 ev; 9:26 ev.) Dit beteken dat hierdie oortuiging hoe langer hoe sterker geword het en van­dag nog deel van die geloof van die hele Christelike kerk is.

 

‘n Wrede God?

Hierdie betekenis van die kruis word egter ook al lankal aan he­wige kritiek onderwerp as sou dit ‘n onaanvaarbaar wre­de God veronderstel. “Wil God dan eers bloed sien voor Hy ver­ge­we?” is die vraag. (*”Nuwe Hervorming”) In die jongste tyd word daar dan ook nog ‘n “verduideliking” bygevoeg: Die tem­pel is in 70 nC ver­woes en toe kon daar nie meer offers ge­bring word nie. Toe moes daar iets in die plek daarvan kom, en die storie wat toe uitgedink is, is dat offers nie meer nodig was nie omdat die kruis van Christus hierdie offers oorbodig gemaak het.

Maar dis lagwekkend. Die Christen-Jode het lank voor 70 al­reeds opgehou om offers vir die sonde te bring. En verder is Paulus se briewe almal lank voor hierdie tyd geskryf, en hulle is vol van die oortuiging dat Christus se kruis die offer was wat alle sonde-offers finaal oorbodig gemaak het.

Tog is dit nodig om aan die beswaar aandag te gee dat dit ‘n wrede God sou wees wat “eers bloed wil sien voordat Hy kan ver­gewe”. Die vraag is inderdaad waarom Christus hierdie offer vir ons sonde moes bring. (*Versoening)

Die antwoord is nie so maklik nie. Natuurlik sou ‘n mens kon antwoord dat die eis van offers vroeg in die Ou Testament al voor­kom, en dat Christus se offer maar net die vervulling of vol­tooiing hiervan is. Maar dit verplaas net die vraag: Waarom is daar in die geheel, dus ook alreeds in die Ou Testament, offers vir sonde­vergifnis nodig? Mense bied verskillende antwoorde: Om God se teenstand en afkeer van die sonde te beklemtoon, om God se heilig­heid te beklemtoon, om goed te maak wat verbrou is, om die eer van God te herstel, en nog ander.

Maar nie een van hierdie redes word in die Skrif gegee nie. Trouens, ek kry geen duidelike rede of verduideliking in die By­bel waarom offers vir sonde in die geheel nodig was nie, ook nie Christus se offer nie.

Maar die feitelikheid van die offers is duidelik: offers is vereis en moes gebring word in die Ou Testament, en Chris­tus se offer was uiteindelik noodsaaklik. Dit is eenvoudig deel van die Bybel se boodskap sonder dat dit verduidelik word.

Maar maak dit God ‘n wreedaard wat bloed moet sien om te vergewe? Ja, as ‘n mens ‘n veldtog teen die Bybel voer en dit op elke moontlike punt belaglik wil maak. Nee, as ‘n mens die Bybel ernstig opneem en probeer verstaan.

 

Die toppunt van genade

God eis ‘n offer. Ons kan die offer nie bring nie. Liewer as om ons dan verlore te laat gaan, gee God self die offer. Is dit wreed? Of is dit die toppunt van genade? Is dit nie net om hierdie rede alleen al oor en oor die moeite werd om in hierdie God te glo nie? Is dit nie juis een van die unieke fasette van die evangelie wat in geen ander godsdiens voorkom nie?

En moenie dink die eintlike wreedheid is juis dat God nie kans sien om self geoffer te word nie en dan so wreed is dat Hy sy Seun gee nie. Het dit nie die Vader meer gekos om sy Seun te gee as om self te kom nie? Sou dit jou nie meer gekos het om jou kind te laat ly as om liewer self te ly nie? En het God nie in Christus in werklikheid Homself gegee nie? (*Drie-eenheid)

 

Die kruis: ‘n rykdom van betekenisse

In plaas daarvan dat die betekenis van die kruis in die Nuwe Testament geminimaliseer word soos sommige dit vandag pro­beer doen, word dit in werklikheid gemaksimaliseer. Kom ons maak ‘n lys wat by die offer vir ons sonde begin en dan al die ander betekenisse insluit.

1.            Hy het aan die kruis vir ons sonde gesterf.

2.            Hy het aan die kruis vir ons siekte gesterf.

3.            Hy het aan die kruis die bose magte oorwin.

4.            Hy het deur die kruis ‘n nuwe wêreldorde geskep.

5.            Hy verenig ons deur die doop en die geloof met sy kruis­dood.

6.            Sy kruis is ‘n simbool van hoe ons moet lewe.

Na die eerste betekenis het ons reeds gekyk. Die tweede beteke­nis is dat Jesus se kruis in verband gebring word met ons siekte. “Deur sy wonde is julle genees,” lees ons in 1 Petrus 2:24. Dit is ‘n vervulling van Jesaja 53 en hou verband met die wondergenesings (*Wonderwerke) van Jesus wat ‘n integrale deel van sy aardse bediening was en dus wesenlik deel van die evangelie is.

Derdens het Jesus se kruisdood nie net vir individue betekenis nie. Deur sy kruis het Hy ‘n hele nuwe wêreldorde geskep, ‘n nu­we skepping! Volgens Paulus het Jesus se kruis ‘n nuwe mensheid en selfs ‘n nuwe skepping tot stand gebring. Deur sy kruis het Hy Jode en nie-Jode (dus die hele mensdom) “tot een nuwe mensheid verenig” (Ef 2:15). Iemand wat aan Christus behoort, is deel van ‘n nuwe skepping (en nie maar net “‘n nuwe mens” nie), die oue is verby, die nuwe het gekom – absoluut omvattend (2 Kor 5:17).

Die vierde betekenis van die kruis hang direk saam met die derde. As daar deur die kruis ‘n nuwe wêreldorde geskep is, moet die bose magte oorwin wees (Kol 2:15). As Jesus alreeds ty­dens sy aardse optrede soveel demone uit mense uitdryf en verklaar dat dít juis is hoe die koninkryk kom (Matt 12:28), is dit te verwagte dat daar die een of ander tyd een beslissende oorwinning oor hulle behaal sal word.

Hierdie eerste vier betekenisse van Jesus se kruis staan almal in ‘n sekere sin los en ver van ons praktiese lewe. Dis vir ons en in ons belang gedoen, en ons geniet net die vrug daarvan, ons was nie daarby betrokke nie. In die volgende betekenisse word ons egter baie meer direk betrek by die kruisgebeure.

Die vyfde betekenis van Jesus se kruis is dat ons saam met Hom aan die kruis was en dus deel het aan sy sterwe vir die sonde. Dit beteken dat die sonde in beginsel net so min oor ons kan heers as oor Hom. Terselfdertyd het ons ook saam met Hom opgestaan sodat ons ook ‘n aandeel het aan sy oorwinningslewe wat Hy net aan God wy (Rom 6; Kol 2-3).

Dit is nogal ‘n vreemde gedagte waaraan ons selde aandag gee. Ons is meer gewoond om te dink aan wat Christus vir ons gedoen het (dit wil sê lank gelede al, buite ons, ver van ons af, in ons plek aan die kruis), as wat Hy (deur die Gees) in ons doen: Hy verenig ons met Hom (die wynstok en die lote in Joh 15). Ons sonde word nie net vergewe omdat Hy aan die kruis daarvoor gesterf het nie, ons kry ook oorwinning oor die sonde omdat ons met Hom verenig word, en daarom kan ons met die sonde ophou.

Ons besef te min dat dit juis hierdie wonderlike waarheid is wat ons die moed gee om met die sonde te breek en ons lewe aan God te wy. Dit is nie ons taak om onsself vir die sonde dood te maak en ons lewe volkome aan God toe te wy nie. Dit is God wat ons ‘n geskenk gee: Hy verenig ons met Christus.

Dink maar net aan Galasiërs 2:19-20. Daar staan nie dat Paulus homself gekruisig het vir die sonde of soos baie mense dink dat hy sy “eie ek” vir die sonde gekruisig het nie. Daar staan dat hy saam met Christus aan Christus se kruis was en daarom vir die sonde dood is.

Hoe is dit moontlik dat Paulus – en ons – wat lank ná Christus se kruisiging tot geloof kom, saam met Hom aan die kruis was en saam met Hom uit sy graf gekom het?

Dit staan duidelik in Paulus se Romeinebrief: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe” (6:3-4).

Hoe kry ons deel aan Jesus se dood, begrafnis en opstanding? Deur die *doop! (Rom 6:3-4) Hier word nie spesifiek na ons geloof verwys nie, maar dit word veronderstel.

Ons weet mos as ons onsself vir die sonde probeer dood­maak, as ons dit met ons eie krag probeer doen, werk dit nie. En nou kry ons die wonderlike nuus dat ons nie onsself deur inspan­ning hoef dood te maak vir die sonde nie, maar dat ons deur die doop en die geloof só deel van Hom word (ons word immers deel van sy liggaam) dat ons deel het aan sy hele lewe, dus ook aan sy kruis, dood en opstanding.

As gelowiges het ons nie meer ons eie lewe nie, Hy is ons lewe (Kol 3:4). Daarom kan ons diens aan die tiran “sonde” weier en net ore hê vir God. En dit moet ons dan daadwerklik ook doen (Rom 6:11-12).

Die laaste sin is nie maar net ‘n terloopse opmerking nie. Ons weet goed dat ons nie outomaties met die sonde ophou en ons le­we aan God wy nie. Daarom is die hele tweede helfte van Ro­meine 6 daaraan gewy om vir ons te sê dat ons die gawe van God, ons vereniging met Christus, nou moet gebruik, dat ons in­derdaad diens aan die sonde moet weier en ons lewe volkome tot God se be­skik­king moet stel. Maar nou weet ons ons kan, juis omdat ons aan Christus se sterwe en opstanding deel het. (*Heiligmaking, *In Christus)

Die sesde betekenis van sy kruis word bespreek onder *kruis dra.

Wat ‘n ryk betekenis het die vroeë Christene in die kruisdood van Jesus gesien! Saam met die *opstanding vorm dit inderdaad die hart van ons geloof. Wie daarmee peuter, peuter met die evangelie, en dan kan ons maar die kerkdeure toemaak.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...