Die Groot Geloofswoordeboek: Onderdanigheid van die Vrou

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Onderdanigheid van die Vrou

Onderdanigheid van die vrou

Die vrou se onderdanigheid het gedurende die laaste eeu ‘n al gro­ter diskussiepunt geword. Vroeër is dit byna sonder uit­son­dering as vanselfsprekend aanvaar. Die vroeë kerkvaders het selfs ‘n baie negatiewe siening van die vrou gehad wat veral verbind is aan die feit dat die Bybelverhaal die eerste sonde aan Eva toeskryf. Daar is selfs gesê dat die vrou “die poort na die hel is” omdat sy die mens­dom in sonde laat val het.

In die meeste kerke kon die vrou geen leiding neem voor die twintigste eeu nie. Selfs vandag nog mag sy geen amp beklee in die *Katolieke Kerk en ook in talle konserwatiewe Evangeliese en Gereformeerde Kerke nie.

Dit lei geen twyfel dat die vrou oor die algemeen “tweede” kom in die Bybel nie. Die Bybel is deur en deur ‘n manlike boek waarin al die sleutelfigure mans is: konings, profete, priesters, dis­si­pels. Ook Jesus was ‘n man, en selfs God word met manlike voornaamwoorde aangedui.

Daarteenoor is vrouens oor die algemeen as eiendom van die man beskou. ‘n Jong vrou het aan haar pa behoort totdat ‘n man haar by hom koop. Sy word dan ook boaan die lys van die man se besittings genoem (Eks 20:17). Dit was vir lank in die Weste so aanvaar. Ons sien dit nog in die gebruik dat die pa die bruid in die kerk inbring en dan aan die man oorhandig, al is die meeste mense nie meer van hierdie betekenis bewus nie.

Tot baie laat in die Nuwe Testament word die onderdanigheid van die vrou sterk beklemtoon. Die sterkste uitsprake kom voor in briewe van Paulus. Vrouens mag nie mans leer of gesag oor hulle uitoefen nie, hulle mag nie praat in die gemeentebyeenkom­ste nie, mag selfs nie eens vrae vra nie (1 Kor 14:34 ev; 1 Tim 2:8 ev; 1 Pet 3:1 ev).

Daar is nie baie groepe Christene – miskien selfs nie ‘n enkele groep nie – wat dit streng toepas nie. Selfs die konserwatiefste Evan­gelicals in Amerika laat vrouens toe om vrae te vra en selfs Son­dagskool te hou vir ‘n klas met seuntjies. Almal aanvaar dat ‘n ma vir haar seuntjie iets van die evangelie mag leer, selfs moet leer.

Dit beteken dat niemand hierdie uitsprake ten volle ernstig neem nie. Die vraag is natuurlik waarom, en waar trek ‘n groep die streep?

‘n Mens kan verder vra hoe ruim hierdie onderdanigheid moet geld: net in die huwelik, of ook in die kerk en verder ook in die samelewing?

Maar ‘n mens moet ook vra: Is hierdie on­der­da­nigheid deel van die evangelie of net van die kultuur van die Bybeltye? Hoe be­sluit ‘n mens daaroor? Die ant­woord is dat die evangelie altyd gel­dig is. As ‘n mens dus voorbeelde in die Bybel kan kry waar die on­der­da­nigheid van vrouens nie gegeld het nie, kan jy vermoed dat dit so is omdat die onderdanigheid nie deel van die evangelie is nie, maar van die destydse kultuur.

En daar is inderdaad sulke voorbeelde, tenminste in Genesis 1, Genesis 2, Hooglied, Galasiërs 3:28 en 1 Korintiërs 7.

Genesis 1

In Genesis 1 is daar geen sprake van die onderdanig­heid van die vrou teenoor die man nie. Hulle is albei op dieselfde wyse beeld van God, en albei kry presies dieselfde opdragte (Gen 1:26-30).

Genesis 2

In Genesis 2 is alles nie so maklik nie. Daar is sterk argumente dat die vrou hier inderdaad onder die man gestel word, maar daar is ook sterk argumente dat hulle ook hier gelyk is. Een van die proble­me is dat ons hier ‘n verhaal het en dat verhale natuurlik omtrent altyd op verskillende maniere verstaan kan word.

 

Volgens die een siening word die vrou hier ongetwyfeld onder die man gestel. Die man word eerste gemaak, en hy ontvang van God die opdragte. Die vrou word uit die man gemaak, en dit maak hom belangriker as sy. Verder gee hy aan die vrou ‘n naam (“vrou”), wat ‘n aanduiding van gesag is. En boonop is sy die man se “hel­per”, wat beteken dat sy sy mindere is. Uiteindelik is dit die vrou wat on­gehoorsaam is en dan die man verlei. En deel van haar sonde is die feit dat sy op haar eie met die slang in ge­sprek gegaan het en nie haar man se leiding ingeroep het nie. Dit beteken dat sy nie aan hom onderdanig was nie.

Vir baie Christene is dit die einde van die bespreking: dis duide­lik dat die vrou tweede moet kom. Die man is in ‘n gesagsposisie oor haar aangestel.

Maar daar is ook ‘n ander interpretasie. Dit word in Genesis 2 beklemtoon dat die vrou die man se gelyke is. Die Here het vir die mens ‘n hulp gemaak wat sy gelyke is (Gen 2:18, 20). Alhoewel dit in dié verband eintlik net beteken dat sy nie ‘n dier is nie, maar ‘n mens soos hy, beklemtoon die mens tog hierdie eendersheid in so ‘n mate dat dit beteken hulle is ook gelyk aan mekaar:

“Een uit myself.”

“Een soos ek.”

“Sy sal ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem” (2:23).

Hierdie drie sinne is belangrik. Die eerste twee beklemtoon die eendersheid van man en vrou. Die laaste sin ook, maar op ‘n be­son­dere wyse. Die Hebreeuse woord vir “vrou” is die vroulike vorm van die woord vir “man”. Al verskil tussen dié twee woorde is die vroulike uitgang wat aan die manlike woord gevoeg is. In die lig van die eerste twee sinnetjies beteken dit waarskynlik dat man en vrou presies dieselfde is behalwe dat die een ‘n manlike vorm van ‘n mens is en die ander een ‘n vroulike vorm.

Die argumente ten gunste van die vrou se onderdanigheid is nie sterk nie. “Helper” beteken nie noodwendig mindere nie. Trouens, God word self dikwels Israel se Helper genoem (Eks 18:4; Deut 33:7; Ps 20:3) en Hy is juis hulle meerdere. En verder gee die man nie hier in 2:23 aan die vrou ‘n naam nie, maar eers in 3:20. Dáár is dit inderdaad ‘n gesagsdaad, maar dit kom ná die sonde en die straf van God dat hy oor haar sal heers (3:16). Dit beteken dat die man se heerskappy deel van haar straf is en nie deel van haar skepping nie.

Die argumente teen haar onderdanigheid is dus sterker as dié ten gunste daarvan, en hierdie argumente word verder gesteun deur die feit dat die verhaal eindig met 2:24, wat as ‘n algemene stelling aanvaar dat die man sy ouers verlaat en met sy vrou saamleef, terwyl die kultuur van daardie tyd was dat die vrou haar ouers verlaat en by die man se familie intrek. Hier word die onderdanigheid van die vrou net soos in Genesis 1 deurbreek.

 

Dit bevestig dat vroue-onderdanigheid nie deel van die boodskap van die Bybel is nie.

Hooglied

In hierdie boek kry ons dieselfde situasie. Die rol wat die meisie speel, kan glad nie met vroue-onderdanigheid gerym word nie. Die meisie en die man tree as gelykes op. Trou­ens, eintlik kom die mei­sie sterker na vore as die man. Wat dié toedrag van sake nog merk­waardiger maak, is dat ons tra­disioneel aanvaar dat die man die magtige koning Salomo is en die meisie van die platteland kom waar sy in haar pa se wingerd werk. ‘n Plaasmeisie kommunikeer op gelyke vlak met die magtige koning!

As ‘n mens hulle verhouding ontleed, wissel die inisiatief voort­durend af. Die inisiatief van die meisie spreek uit woorde soos: “Die man wat ek liefhet, is myne, en ek is syne” (2:16; 6:3).

Daar is meer tekens van die belangrikheid van vrouens in hier­die lied. Sy noem haar broers “die seuns van my moeder” (1:6; 1953-vertaling) en nie van haar vader nie. Verder sê sy dat koning Salomo se moeder hom tydens sy huwelik gekroon het (3:11). En uiteindelik bring die bruid die bruidegom na haar moeder se huis (3:4; 8:2).

In Hooglied is die man en die meisie gelykwaardig. Hier is ook geen gefikseerde rolle van man en meisie nie. Hier is spontane we­dersydse liefdesvreugde. Dit is ‘n merkwaardige deurbreking van die oorheersende androsentriese kultuur waarin die Bybel ont­staan het, en ‘n verdere getuienis dat manlike oorheersing nie deel van die boodskap van die Bybel is nie.

 

Galasiërs 3:28

Hier lees ons: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een.”

Aanvanklik lyk dit of hierdie teks dalk net verwys na die ma­nier waarop mense salig word: almal, sonder uitsondering, word salig net deur geloof in Jesus Christus, en nie deur boonop die wet te onderhou nie. Dit is duidelik die probleem waar­mee Paulus in hierdie brief werk: dat die heidene wat tot geloof in Jesus kom nie ook nog besny moes word voor hulle gered kon word nie. Sy ge­volg­trekking is dus dat daar nie meer Jood of Griek is nie, dat dit nie meer saak maak of iemand ‘n Jood of ‘n Griek (heiden) is nie. “Almal is een” beteken almal word op dieselfde manier salig.

Dit klink alles heeltemal oortuigend. Die vraag is net waar­om hy “slaaf en vry” en “man en vrou” daarby voeg. Dit was mos nie deel van die probleem dat die Judaïste geleer het dat sla­we an­ders salig word as vry mense nie, of mans anders as vrouens nie. Dit word nog vreemder as ‘n mens agterkom die Grieks het nie “man of vrou” nie, maar “manlik en vroulik”. Dit is ‘n vreem­de uitdrukking wat ons eintlik elders net in Genesis 1:27 in die eerste skeppingsverhaal kry. En dáár was geen onder­skeid tus­sen man en vrou nie, albei was op dieselfde manier beeld van God en albei het dieselfde opdragte van God gekry.

Dit lyk dus of Paulus wil sê alle vorme van diskriminasie is uit onder gelowiges. Want op ander terreine is inderdaad vreeslik tussen slawe en vry mense gediskrimineer, en ook op ander terrei­ne tussen mans en vrouens. Hy wil dus sê alle vorme van diskrimina­sie moet uitgeroei word, nie net die verskil tussen Jode en Grieke oor hoe ‘n mens salig word nie. Dit kan seker nie anders as om ook die eensydige onderdanigheid van vrouens in te sluit nie.

 

1 Korintiërs 7:3-5

In hierdie paar verse kom die wederkerigheid van die huwe­liks­verhouding nog duideliker na vore.

1.            Elke man behoort sy eie vrou te hê, en elke vrou behoort haar eie man te hê.

2.            Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so moet die vrou ook haar huweliksplig teenoor haar man nakom.

3.            Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.

4.            “Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met we­dersyd­se toestemming.”

In die kultuur van daardie tyd is dit ‘n skokkende we­der­ke­rig­heid. Wat sonder teenspraak as vanselfsprekend vir die man gegeld het, geld skielik net soseer vir die vrou. Dit was deel van die kultuur dat die man sy vrou besit het. Maar nou besit die vrou ook haar man! En natuurlik het die vrou nie oor haar liggaam ‘n sê gehad nie, sy was dan haar man se besitting. Maar nou het die man ook nie ‘n sê oor sy liggaam nie, want hy is nou sy vrou se besitting. Nou besluit die man nie meer alleen nie, man en vrou besluit saam. Ons kan geen idee vorm van hoe ‘n radikale ingryping dit was in die huwelikstruktuur van daardie tyd nie.

Wat ons hier het, is nie ‘n eensydige verhouding nie, maar ‘n we­derkerige verhouding; nie ‘n gefikseerde verhouding nie, maar ‘n oop verhouding; nie ‘n verhouding waarin die man oor­heers nie, maar een waarin albei op dieselfde manier inspraak het. Dis nie langer oorheersing en eensydige onderdanigheid nie, maar we­der­sydse inspraak en kameraadskap.

 

Efesiërs 5:21-32

Baie mense neem eenvoudig aan dat hierdie klassieke deel oor die huwelik duidelik is: die man is die hoof, die leier, sy woord is finaal, hy moet die inisiatief neem, en die vrou moet onderdanig wees, volg, luister, sy gesag en leiding aanvaar. Hoofskap en onderdanigheid. Wat kan duideliker wees?

As ‘n mens egter regtig die moeite doen om die deel deur te lees, sien jy gou dat daar baie meer in staan as die twee kort sin­netjies: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig,” en: “Die man is die hoof van die vrou” (5:22-23).

Die deel begin met ‘n algemene vermaning dat alle Christene aan mekaar onderdanig moet wees (5:21). Dit geld al ons verhou­dings, en natuurlik ook ons huwelik, want hierdie algemene vermaning is juis die inleiding tot die klassieke deel oor die huwelik wat direk hierna volg. Dit is trouens opvallend dat die skrywer juis met die huwelik begin ná hierdie algemene ver­maning tot onderlinge on­derdanigheid. Die vrou moet aan die man onderdanig wees, én die man aan die vrou. Ek moet bereid wees om vir jou terug te staan, én jy vir my.

Maar waarom dan direk daarna die opdrag spesifiek aan die vrou om aan die man onderdanig te wees? Kom ons kyk versigtig wat daar staan.

Die Grieks lees eintlik soos volg: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig, vrouens aan julle mans soos aan die Here.” Die werkwoord “wees onderdanig” word nie eens herhaal nie. Die vrou se onderdanigheid vloei dus voort uit die algemene on­derlinge onderdanigheid. Al wat vir die vrou bygevoeg word, is hoe haar onderdanigheid moet lyk: “soos aan die Here.” ‘n Mens kan net vermoed dat die apostel nie tevrede was met die soort on­der­danigheid wat die samelewing van haar verwag het nie: ‘n slaafse onderdanigheid. Die vrou was eintlik die man se besitting; hy het oor sy vrou beskik. Haar groot taak was om huis te hou en veral om vir hom ‘n nageslag te gee. Hy het die klok geslaan, en sy moes dans.

Hiermee neem die apostel nie genoeë nie. Terwyl hulle beide aan mekaar onderdanig moet wees, moet sy op ‘n ander manier aan hom onderdanig wees as wat die kultuur van haar verwag: “Soos aan die Here.” Wat beteken dit? Ons is nie slaafs aan die Here onderdanig nie. Dit is ‘n vrye besluit wat ons graag neem omdat dit ons juis gelukkig maak. Hy gee ons juis lewensruimte en die geleentheid om die *gawe wat die Gees ons gee ten volle te ontwikkel en te gebruik. Dit is natuurlik presies hoe die man ook aan sy vrou onderdanig moet wees. Paulus verwys net spe­sifiek na die vrou omdat sy alreeds onderdanig was, maar op ‘n verkeerde manier.

 

Die man se hoofskap

Om haar onderdanigheid verder te ver­­duidelik verwys hy na die man se hoofskap. Ook dit bind hy dadelik aan Christus: “Die man is die hoof van die vrou soos Christus die hoof is van die kerk” (v 23). Hoe is dit? Die gedeelte vervolg dat Christus die Verlosser-hoof is, nie die onderdrukker-hoof nie. Christus se hoofskap is ‘n bevrydende hoofskap wat lewensruimte skep. En as Paulus hom direk daarna spesifiek tot die mans rig, bind hy hulle nogeens dadelik aan Christus: hulle moet hul vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het. Dis ‘n unieke soort hoof­skap! ‘n Hoof wat gee, wat tot die uiterste toe opoffer. Dit is eintlik hoof in aanhalingstekens: “hoof,” want van die ou soort hoofskap in die Griekse en Joodse wêreld bly daar net mooi niks oor nie. Van oorheers, van alleen die besluite neem, van gebied en sy moet spring, is geen teken nie, wel van opofferende diens tot die uiterste toe.

Efesiërs 5 is nie ‘n model van manlike oorheersing en vroue-on­derdanigheid nie. Dit is ‘n model van onderlinge onder­da­nigheid waarin die vrou se slaafse onderdanigheid omgekeer word in ‘n vry­willige keuse om haar man hoër te ag as haarself, net soos hy haar moet hoër ag as homself. Hiermee is die tradisionele baas­skap van die man omgekeer in ‘n radikale diensbereidheid soos Christus.

Daar is dus inderdaad vroue-onderdanigheid in die Bybel, maar dit gaan saam met mans se onderdanigheid: aan mekaar on­der­da­nig, nie met slaafse onderdanigheid nie, maar uit vrye keuse om­dat ons ander se belange hoër moet ag as ons eie.

Wat die kerk betref, is daar heelwat kerke wat tog aan die be­gin­sel vashou dat vrouens nie mans mag leer nie. Dit beteken vir hulle net dat hulle nie mag preek nie en ook nie in die regeeramp van ouderling mag dien nie. Maar daar is ander kerke wat meen dat ons hier te doen het met beginsels wat deur die kultuur van daardie tyd bepaal is. Dogters het nie saam met seuns skool toe gegaan nie sodat vrouens eenvoudig nie met mans kon saam­gesels nie. Selfs net as hulle in die gemeente sou vrae vra, sou dit ‘n verleentheid gewees het. Hulle mans kon tuis elke vraag beantwoord.

Maar dit is nie meer vandag so nie. Vandag gaan seuns en dogters saam skool en is vrouens tot net soveel in staat as mans. Daarom is daar geen rede waarom hulle nie dieselfde ver­ant­woordelikhede kan aanvaar nie. En dit geld eenvoudig die kerk én die samelewing.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...