Die Groot Geloofswoordeboek: Tussentoestand en Tussentyd

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Tussentoestand en Tussentyd

Tussentoestand

Dit is een van die heel moeilikste onderwerpe in ons geloof. Dit moet onderskei word van die *tussentyd. Die tussentoestand is die toestand waarin ‘n mens is tussen jou dood en die opstan­ding by die wederkoms van Christus. Die tussentyd is die tyd tussen Chris­tus se hemelvaart en sy wederkoms.

Daar is ‘n paar bekende voorstellings oor die tussentoestand. Die een is dat daar geen tyd en tydservaring in die dood is nie, sodat jy dadelik na jou dood die opstanding beleef wat vir die mense wat nog leef, nog in die toekoms lê. Dis ‘n filosofiese be­skouing wat goed sou kon werk, maar daar is nie gronde in die Bybel daarvoor nie. Daar is nie beskouings of voorstellings oor “tyd” in die Bybel nie. Dis ‘n veronderstelling wat nie in die Bybel voorkom nie. ‘n Mens sal dus liewer eers in die Bybel na ‘n “oplossing” kyk.

Die ander baie algemene oortuiging is dat ‘n mens uit twee de­le bestaan: ‘n *onsterflike siel, en ‘n sterflike *liggaam. By die dood gaan net die liggaam dood, terwyl die onsterflike siel na die Here (he­mel) toe gaan. In die tussentyd is die liggaam dus in die graf, waar dit vergaan, maar die siel is by die Here, alreeds in volle of ge­deeltelike heerlikheid.  Daar is heelwat gegewens in die Bybel wat mense hiermee in verband bring. Dink aan Moses en Elia wat saam met Jesus op die berg verskyn, aan die ryk man en Lasarus, aan Pau­lus wat verlang om by Christus te wees (Matt 17:1 ev; Luk 16:19 ev; Fil 1:23).

Hierdie voorbeelde pas egter nie in die “onsterflike siel-sterfli­ke liggaam”-skema nie. Hiervolgens is die liggaam dood en vergaan; net die siel bestaan voort. Maar dit was skynbaar nie Moses en Elia se siele wat by Jesus op die berg was nie, maar eenvoudig Moses en Elia self as liggaamlike wesens. En dis nie die arm man se siel wat by die siel van Abraham is nie, maar die arm man wat in die skoot van Abraham is, en nie die ryk man se siel wat in die doderyk is nie, maar die ryk man sonder meer. Sonder ‘n liggaam kan ‘n mens jou nie hierdie verskynings of gelykenisse voorstel nie. ‘n Siel het tog nie ‘n tong (die ryk man) of ‘n skoot nie (Abraham – Grieks en 1953-vertaling). ‘n Mens sal tog nie vir siele huise bou nie (Petrus op die berg).

Trouens, die woord “siel” kom nie in een van hierdie voorbeel­de voor nie. Dit gaan om mense. Die ryk man (nie sy siel nie) maak sy oë in die doderyk oop; Lasarus, nie sy siel nie, word na Abraham se skoot gedra; Paulus wil by Christus wees, nie sy siel nie. En dit kan ook nie, want die Hebreeuse en Griekse woorde vir “siel” word in heelwat betekenisse in die Bybel gebruik: onder andere keel, maag, nek, begeerte, lewe, die persoon self. (*Mens)

Daar is meer probleme met hierdie voorbeelde. Die gelyke­nis van die ryk man en Lasarus het trekke wat beswaarlik na die werklikheid kan verwys. Die hemel en die doderyk is net deur ‘n kloof van mekaar geskei, en die twee groepe kan mekaar sien en met mekaar gesels. Dis tog effens onvoorstelbaar dat mense in die he­mel die hele dag en nag die gekerm van die mense in die doderyk sal moet aanhoor. Trouens, dit klop glad nie met die werklikheidsbeeld van die Bybel self nie. Daarvolgens is die hemel ver daarbo, en die doderyk onder die aarde. Dit beteken dat selfs die mense wat hierdie gelykenis gehoor het, besef het Jesus vertel ‘n verhaal om ‘n punt te maak en nie ‘n werklike gebeurtenis nie.

Dit alles beteken dat ‘n mens nie kan volhou met die gedagte van ‘n onsterflike siel en ‘n sterflike liggaam nie. In die voorstellings in die Bybel gaan dit om mense en hulle volle lewe.

Hierdie siening word gesteun deur die argument van Paulus oor die *opstanding. Paulus maak die hele evangelie afhanklik van die opstanding. As daar nie ‘n opstanding is nie, sluit die kerkdeure

(1 Kor 15). Maar as die siel al klaar by die Here was, is dit mos net die sterflike liggaam wat nog nie by die Here is nie, en die liggaam is tog nie alles nie. Volgens hierdie beskouing is die siel in elk geval die belangrikste. Dan is meer as die helfte mos klaar bereik sonder die opstanding. Maar Paulus het nie so gedink nie. Die opstanding, of niks. Dit kan net beteken dat die tweedeling van siel-liggaam nie werk nie.

Wat dan? Dis nie so maklik nie. Dis makliker om die probleme in ander sienings na vore te bring as om self te verduidelik wat in die tussentoestand gebeur.

Enige siening moet binne bepaalde grense bly. Eerstens is die tussentoestand skynbaar nie ‘n onbewuste toestand nie. Twee­dens gaan dit skynbaar om mense in hulle volle menswees, en nie om dele van mense nie. Derdens is daar nie in die mens ‘n deel wat sterker is as die dood en eenvoudig ongeskonde deur die dood heengaan, terwyl net die ander deel doodgaan nie. Net God is on­sterflik. Vierdens het gelowiges alreeds deur die doop en die geloof ‘n aandeel aan ‘n lewe wat klaar deur die dood heen is en alreeds opgestaan het en verheerlik is – Jesus se op­stan­dingslewe. (*Doop, *Geloof)

Dit beteken dat ‘n mens iets soos die volgende kan oorweeg as beskrywing van die mens in die tussentoestand. Die mens is ‘n eenheid en as hierdie eenheid sterf hy of sy. Die mens is dan dood, en lê in die graf. Vanuit die mens en menslike moontlikhede sou daar niks verder gesê kon word nie.

Maar daar is Iemand Anders. Hy is klaar verheerlik. En ons het reeds ‘n aandeel aan sy lewe. Trouens, Paulus skryf dat ons nie meer ons eie lewe het nie, maar dat Hy nou ons lewe is (Gal 2:19-20; Kol 3:4).

Maar dan is ons eintlike lewe nie dood wanneer ons dood­­gaan nie. Dan kan nóg lewe nóg dood ons skei van die liefde van God (Rom 8:38-39). As ons hierdie pad loop, kry ons nie in onsself ‘n antwoord nie, maar in en deur Hom. Paulus sou deur die dood heen in Christus se gemeenskap bly, nie omdat hy in homself iets het wat sterker as die dood is nie, maar omdat hy ‘n aandeel het in ‘n Lewe wat klaar deur die dood heen is.

Verder kom ek nie. Ek verstaan nie die gelykenis van die ryk man en Lasarus as ‘n ware verhaal nie, maar as ‘n storie om ‘n punt te maak: as ons nie na die Bybel luister nie, sal wonderwerke ook nie help nie. Wie nie wil luister nie, sal ook nie na wonders luister nie. Luister na die evangelie en word behou.

 

Tussentyd

Die tussentyd is iets anders as die *tussentoestand. Die tussentyd is die tyd tussen die hemelvaart en die wederkoms van Christus. Dit is die tyd wat die Here ons gee om die evangelie aan alle mense te verkondig.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print