Die Groot Geloofswoordeboek: Vergifnis

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Vergifnis

Vergifnis

  • God se vergifnis Ons vergifnis

Die vergifnis van sonde is een van die juwele in die evangelie. Daar is mense wat meen dit is een van die diepste verskille tussen die evangelie en Islam. Albei het duidelike wette en eise, maar daar is min sprake van liefde, genade en vergifnis in Islam.

  • God se vergifnis

Tog kan ons vergifnis maklik goedkoop maak. In die ou tyd het ons selfs mense gehad wat dit deel van hulle tafelgebed-rympie ge­maak het, iets soos: “Seën die voedsel aan ons liggame en vergeef ons al ons sondes, om Jesus wil. Amen.” So ‘n persoon sou waarskynlik on­kant gevang gewees het as iemand hom of haar direk na die gebed sou vra: “Vir watter sondes het jy nou vergifnis gevra?”

Vergifnis is nie “deur die vingers sien” nie. God is nie ‘n goe­di­ge oupatjie wat kinders bederf nie. God se vergifnis is duur, on­be­taalbaar duur. In elk geval vir ons onbetaalbaar. Juis daarom het Hy iemand voorsien wat wel kon “betaal”: Jesus. As ons ons gebed ein­dig met: “om Jesus wil” sê ons iets geweldigs. Ons sê: “Vader, ver­­geef ons, asseblief. Ons vra dit net omdat Jesus sy lewe op die al­taar geplaas het en al die emosionele en fisieke smarte van die verwer­ping deur sy eie mense én deur U en die kruis gely het.”

Die moeilike vraag waarom God so ‘n hoë eis gestel het om te vergewe, word onder *kruis behandel.

Intussen moet ons onthou: vergewe is ook vergeet. As ons ons sonde voor die kruis kom aflaai het, loop ons daarsonder terug die lewe in. Die TEV-vertaling (Today’s English Version) het by Romeine 6 ‘n prentjie wat jy gerus kan gaan opsoek.

Maar vergifnis is nie ‘n vrypas om aan te hou met sonde nie. Toe ons klein was, het die Sondagskooljuffrou graag ‘n karika­tuur gemaak van die Katolieke wat in die Middeleeue net elke keer by die priester ietsie gaan betaal het sodat hulle van hulle sonde kwytgeskeld kan word, om dan maar net weer daarmee voort te gaan. Moet ons nie dalk erken dat hulle darem nog gegaan en iets betaal het, maar dat ons maar net ligweg bely sonder dat dit ons regtig iets kos nie? Om sonde te bely en dit te laat staan kom nogal bymekaar in die Bybel voor (Spr 28:13). En in Johannes 8 vergewe Jesus nie net die vrou nie, Hy beveel haar ook om op te hou met haar sonde.

 

• Ons vergifnis

Dis nie net God wat ons vergeef nie, dis ook ons wat ander moet vergeef, en in die Bybel word God se vergifnis aan ons direk af­hank­lik gemaak van ons vergifnis van ander: “Vergeef ons ons oor­tredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matt 6:12). Daar is selfs ‘n gelykenis van Jesus wat dit op ‘n skokken­de ma­nier uitbeeld (Matt 18:21-35). ‘n Man met ‘n onbetaal­bare skuld word deur die koning kwytgeskeld. Hy loop ‘n man raak wat hom ‘n onbeduidende bedraggie skuld, maar laat hom in die tronk gooi. En wat gebeur? Die koning gee hom sy skuld terug! As jy nie an­der vergeef nie, vergeef God jou ook nie, wat trouens elders in so­veel woorde staan (Matt 6:14-15).

Wie het jy om te vergewe? Onthou, sy of haar skuld is totaal onbeduidend in ver­gelyking met jou skuld aan God.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print