Die Handelinge van die Apostels: Die apostels word weer vervolg ( deel 1; Hand 5:17-26) – Francois Malan

image_pdfimage_print

5:17 Verse  17-18 is een sin in Grieks, met hoofwerkwoorde ‘arresteer’ en in die tronk ‘gegooi.’  Die hoëpriester (Kajafas of Annas, vgl. die verwarring in Hand 4:6) en almal saam met hom (sy ondersteuners), naamlik die godsdienstige party van die Sadduseërs, het uit jaloesie opgestaan. Die deelwoord ‘opstaan’ verwys waarskynlik na die Hoëpriester se opstand teen die groeiende populariteit van die apostels, teen die uitbreiding van die Christusgemeente, en teen hulle ongehoorsaamheid aan die Raad se bevel dat hulle glad nie eers Jesus se naam mag noem nie (Hand 4:18). Die Sadduseërs het mos nie geglo in die opstanding van die dooies nie (Hand 23:8), en Jesus se opstanding was reëlreg teen hulle oortuiging. Daarom gee Lukas die rede vir die hoëpriester se opstaan: hulle was vervul met jaloesie! (zêlos ’n baie sterk gevoel van gegriefdheid en afguns teen iemand). Toe die getal gelowiges, wat gereeld op die tempelterrein vergader het, so vinnig aangegroei het, het die Raad nog nie opgetree nie, moontlik weens die gewone mense se agting vir die gelowiges (Hand 5:13). Maar die skare siekes wat langs die strate op die apostels gewag het en van die buitewyke af aangedra is, het die hoëpriester se geduld met die skare gelowiges wat daagliks op die tempelterein byeengekom het, uitgeput.

5:18 Hulle het die apostels gearresteer (letterlik: hulle hande aan die apostels geslaan) en hulle in die publieke (staats-) tronk gesit, waar gewone misdadigers opgesluit is. Die apostels is deur die mense aanvaar as die leiers van die nuwe godsdienstige beweging. 

5:19 ’n Engel van die Here het egter gedurende die nag die deure van die gevangenis oopgemaak, hulle uitgelei  en gesê:…’    Die engel is die boodskapper wat die Here (Jesus) gestuur het (vgl. Ps 103:20 ‘Prys die HERE, julle wat sy boodskappers is, – Hebreeus: male’ak; Grieks: angelos; ‘engel of boodskapper’ – sterk helde wat sy woord uitvoer om sy bevel te gehoorsaam). Op wonderbaarlike wyse word hulle bevry om hulle opdrag uit te voer, om Jesus se getuies te wees wat in Jerusalem daarmee moet begin.

5:20 ‘Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk al die woorde van hierdie lewe’ – die volle boodskap oor en van Jesus wat uit die dood opgestaan het as die Leidsman tot die lewe (Hand 3:15; vgl. Hebr 12:2 die Leidsman en Voleinder van die geloof). Op die plek waar hulle die vorige aand gearresteer is, moet hulle voortgaan met die verkondiging. In Luk 21:12-13 het Jesus reeds gesê: julle sal in tronke opgesluit word. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om te getuig. Die tempel is die plek waar hulle die boodskap aan die volk moet gaan verkondig. Dit is God se wil en opdrag, want dit is sy huis (Luk 19:46 aangehaal uit Jes 56:7). Die evangelie van Jesus, die boodskap van verlossing, bevestig en oortref die lewende woorde wat Moses van ‘die engel’ op Sinaiberg ontvang het (Hand 7:38). Die engel op Sinaiberg word in Hand 7:30-33 geïdentifiseer as die Here self. Hy is die God van Abraham, Isak en Jakob. Dit is ’n verwysing na Jesus wat nou as mens gekom het, ’n profeet soos Moses (Hand 7:37). Die gemeente van Christusgelowiges is nou die eintlike volk van God, wat aanspraak maak op die tempel as die huis van die lewende God vir wie hulle dien. Sy nuwe volk vervang die ongehoorsame Israel as die volk van God (vgl. Paulus wat in die tempel bid, waar Jesus aan Hom verskyn, Hand 22:17). Vir die woorde van hierdie lewe, vgl. Petrus se woorde aan Jesus in Joh 6:68: U het woorde van die ewige lewe. Paulus verwys daarna in Hand 13:26 as die boodskap van verlossing (13:47-48); ook om aan die woord van die lewe vas te hou (Flp 2:16). Johannes 3:16; en 10:10,28 verwys na die lewe en ewige lewe wat ons reeds het as ons in Jesus glo.

5:21 Gehoorsaam het hulle teen dagbreek – toe die tempeldeure oopgemaak word – die tempel binnegegaan en onderrig gegee – waarskynlik in die voorhof van die heidene, aan die mense wat vroegdag die Here kom aanbid het en na die apostels kom luister het, soos hulle na Jesus kom luister het gedurende die vyf dae voor sy kruisiging (Lukas 21:37-38).

Toe die Hoëpriester en dié saam met hom by die tempel opdaag, het hulle die Sanhedrin saamgeroep met al die oues van die kinders van Israel – die volksleiers. Hulle het dienaars van die tempel na die gevangenis gestuur om die apostels te laat haal. Dit word ’n offisiële vergadering van die Joodse Raad, die hoëpriester met sy dagbestuur en die volksleiers vir wie hulle oproep vir die vergadering. Hulle kom om af te reken met die apostels van Jesus wat aan hulle ongehoorsaam is, en daarom die nag reeds in die gevangenis moes deurbring, maar juis daar in die gevangenis, God se opdrag gehoor het en nou gehoorsaam. 

5:22-23 Maar toe die dienaars van die tempel by die gevangenis opdaag, het hulle hulle nie daar in die tronk gekry nie, omgedraai en verslag kom gee. Verslae het hulle gerapporteer: Ons het die gevangenis met alle sekerheid gesluit gekry – die voltooide verlede tyd van ‘gesluit’ beteken dat die deure sedert die aand net so gesluit gebly het. En die wagte nog steeds staande (voltooide deelwoord) voor die deure. Maar toe ons hulle oopmaak vind ons niemand binne nie – by die gevangnis is alles buite in orde, maar binne nie. Die engel het die tronkdeure oopgemaak en blykbaar weer gesluit sonder dat die wagte dit agtergekom het (5:19; soos in Hand 12:7,10). Die Joodse Raad moes hieruit erken dat God self ingegryp het, met ’n teken uit die hemel, soos hulle destyds van Jesus gevra het (Matt 16:1). 

5:24 Toe die bevelvoerder van die tempel – wat sy wagte se verslag aanhoor (hy was ook die ondervoorsitter van die Raad, 4:1) – en die leierpriesters hierdie verslag hoor was hulle totaal verward oor wat dit kon beteken/waartoe dit kon lei. Die beste van die Joodse denkers was hier bymekaar en hulle kon niks verstaan wat nou gebeur het nie en staan radeloos en magteloos. Maar dat God ingegryp het en téén hulle besluit het, moes eintlik vir hulle duidelik geword het.

5:25 Die Here stuur toe ‘iemand’ om vir hulle te vertel: ‘Kyk! (luister mooi, op hierdie oomblik) die manne wat julle in die tronk gesit het, is in die tempel staande besig om die volk te onderrig – soos die vorige keer (4:2) en soos die engel hulle beveel het (5:21,25). Die ‘iemand’ beklemtoon vir hulle die skreiende teenstelling: die manne wat júlle in die tronk gesít het (om hulle vryheid te beperk), is nou (terwyl julle wag om hulle te oordeel) stáánde in die tempel om die volk vryelik te onderrig. Die raaisel word vir die Raad net groter en gevaarliker. Die Godswonder van hulle verlosssing uit die tronk het die apostels tot ’n nuwe oortreding van die Raad se bevel gelei. Die opdrag wat die Raad aan hulle gegee het, is deur God se opdrag gekanselleer. Dié Jesus wat hulle laat kruisig het, is duidelik besig om deur sy apostels die wêreld vir hulle om te krap met sy goeie boodskap (vgl. Luk 22:69 ‘van nou af sal die Seun van die Mens aan die regterhand van God die Magtige sit’). Om die volk te onderrig is eintlike die werk van die Raad. Ongeletterde vissers het die onderrig van die volk by die Raad oorgeneem.

5:26 Die bevelvoerder van die tempel gaan toe saam met sy wagte om die apostels tussen die skare, wat na hulle luister in die voorhof van die heidene, daar uit te haal om voor die Raad te verskyn. Die wonder het hulle nie oortuig nie. Hulle gaan voort met hulle stryd om hulle invloed onder die volk te behou. Sonder geweld word die apostels gevra om terug te kom na die Raad toe, omdat die lede van die Raad bang was dat die volk hulle sal stenig –  geen vrees vir God of vir Jesus nie, maar vir die volk. Steniging word vir godslastering voorgeskryf (Lev 24:15-16; vgl. Mark. 14:64; Hand 7:58). Die Raad beskou die apostels as godslasteraars. Die volk kan egter teen die Raad begin optree omdat húlle eintlik die godslasteraars is wat God se Seun as ’n godslasteraar verwerp het (Mark 14:64). En nou wil hulle Jesus se volgelinge die swye oplê.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...