NEHEMIA – KONFLIKBESTUUR (1)

image_pdfimage_print

A clay pot sitting in the sun will always be a clay pot. It has to go through the white heat of the furnace to become porcelain. -Mildred Witte Stouven

Nehemia – Konflikbestuur (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #10: Konflikbestuur … gee krag aan jou leierskap

Volgens die gerug wil jy koning word oor hulle … Hulle het almal probeer om ons die skrik op die lyf te ja, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie. Sterk tog my hande, o God (Nehemia 6:6, 9).

 

Tydens sy voorbereidingstyd soek Nehemia inligting oor Jerusalem. Hy ontdek ‘n brief wat 90 jaar oud was waarin ‘n skinderveldtog teen die Joodse gemeenskap om Jerusalem beskryf word. Die konflik tussen die Jode en hulle bure was intens – op ‘n stadium is die bouwerk aan die tempel selfs gestaak. Die goeie nuus is dat God tussenbeide getree het en uiteindelik is die bouwerk aan die tempel voltooi. Nehemia het seker gewonder wat die vyande van hom sou sê. Die konflik van die verlede is nie opgelos nie – daar was steeds spanning tussen die Israeliete en hulle bure.

 

So lank as wat daar sonde in die wêreld is, sal daar konflik wees. In die Bybel lees ons ook van sulke konflikte. Hier is enkeles:

  • Kain en Abel
  • Moses en die farao
  • Miriam, Aäron en Moses (Numeri 12)

 

Nehemia het ook konflikte ondervind. Nehemia se pogings om die muur te herbou het die status quo uitgedaag – veral vir God se vyande. Hulle wou die Jode swak en weerloos hou. Daarom was die herbou van die muur vir hulle ‘n bedreiging. Hulle staan Nehemia by ses geleenthede teë en gebruik ses verskillende metodes

  • Spot: Toe Sanballat en Tobija saamstaan teen die Jode was hulle in ‘n sterk posisie. Toe hulle sien Nehemia en sy mense begin die muur herbou, het hulle ons uitgelag en smalend gevra waarmee hulle besig was. Mense is gemaklik met dit wat hulle ken al is dit nie ideaal nie; mense word deur die onbekende bedreig. In baie gevalle lei dit aanvanklik tot ‘n gespottery. Wat was Nehemia se reaksie? Hoor dit, ons God! Ons word bespotlik gemaak! Laat die smaad op hulle eie kop afkom (4:4)
  • Openlike dreigemente. Toe die vyande sien dat die opbou van die mure van Jerusalem vorder, neem hulle teenstand toe. Nou spot hulle nie meer nie, maar dreig met ‘n militêre aanval (4:7 – 23). Nehemia reageer deur mense in die gapings – waar die muur nog nie hoog genoeg was nie – te plaas. Daarna herinner hy hulle aan God – groot en ontsagwekkend.
  • Afleiding. Sanballat en sy bondgenote laat weet vir Nehemia: Kan ons mekaar  in Kefirim, in die Onolaagte, ontmoet? (6:1 – 4) Die doel is om jou vyande in een rigting te laat dink terwyl jy in ‘n ander rigting beweeg. Jy verloor jou fokus en momentum; jy beland op allerhande syspore. Daarom moet jy doelwitte hê – om seker te maak jy is nog op die regte pad. Luister: Hulle het dieselfde boodskap vier keer gestuur, en elke keer het ek dieselfde antwoord teruggestuur. Die vyand volhard; Nehemia volhard. Ek is besig met ‘n groot werk. Ek kan  nie kom nie. Hoekom moet die werk stilstaan terwyl ek dit laat lê om na julle toe te kom?
  • Laster. Sanballat en sy bondgenote probeer nou ‘n nuwe strategie. Hulle stuur ‘n ope brief. Daarin kla hulle Nehemia van hoogverraad aan. Onder die nasies word ‘n gerug versprei, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs ‘n opstand beplan … Volgens die gerug wil jy koning word oor hulle … (6:6). Laster is dikwels ‘n baie doeltreffende wapen al is die aantygings vals. Al word dit later bewys om vals te wees, kan die aanvanklike impak baie skade berokken. Nehemia se motiewe, sy integriteit en sy invloed word ondermyn. Ongelukkig glo mense baie gou die slegte in ander. Nehemia ontken die bewerings: Ek het hom terug laat weet: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim.” (6:8). Hy sê ook dat hy hulle bedoelings ken: Hulle het almal probeer om ons die skrik op die lyf te jaag, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie. Nehemia weet waarom hulle hom belaster. Wat doen hy? Hy bid – ‘n kort gebedjie: Sterk tog my hande, o God!
  • Bedrog. Die volgende taktiek is intimidasie van binne. Die teenstanders huur ‘n vals profeet (6:12). Hy moes Nehemia na die tempel toe lok onder die voorwendsel dat daar te veel bedreigings is en dat Nehemia veilig in die tempel sou wees. Maar Nehemia was nie ‘n priester nie – hy kon nie sommer in die tempel ingaan nie – hy sou die tempel ontreinig. Hy is omgekoop om my bang te maak sodat ek ‘n misstap sou begaan en hulle die geleentheid gee om my te beskinder en my naam sleg te maak (6:13). Nehemia besef die profeet was vals; hy weet was sy vyande probeer doen; daarna bid hy: My God, onthou wat Tobija en Sanballat gedoen het, en ook die profetes Noadja en die ander profete wat my wou bang maak (6:14)
  • Onderdrukking. Uiteindelik is die werk klaar – binne 52 dae. Uiteindelik kon Nehemia ontspan. Ons lees selfs: Toe al ons vyande dit hoor, en die nasies rondom ons dit sien, was hulle selfversekerdheid daarmee heen (6:16). Oppas! In daardie tyd het daar baie briewe van vooraanstaande Judese burgers na Tobija toe gegaan en briewe van hom af na hulle toe gekom. Baie Judeërs het noue bande met hom gehad, want hy was die skoonseun van Sekanja seun van Arag. Hierdie vooraanstaande burgers wat geweier het om te werk en wat hulle medeburgers uitgebuit het, gaan agter Nehemia se rug en ondermyn hom. Hoe reageer Nehemia? Hulle het gedurig voor my gepraat van Tobija se goeie hoedanighede, en alles wat ek gesê het, aan hom oorgedra. Dan het hy briewe gestuur en my probeer bang praat (6:19). Nehemia erken hulle sameswering, maar doen niks nie.

 

Volgende keer kyk ons na die beginsels van konflikhantering.

image_pdfimage_print

You may also like...