Psalm 13 (1)

image_pdfimage_print

“At the heart of personality is the need to feel a sense of being lovable without having to qualify for that acceptance.” – Paul Tournier

 

Psalm 13 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Hoe lank nog, Here?

Psalm 13 se oorsprong is ‘n gevoel van verlatenheid alhoewel dit met vertroue eindig. Die psalmis word deur sy vyande aangeval, maar sê nie vir ons  of daar iets anders ook verkeerd is nie. Hierdie is ‘n model gebedspsalm:

  • Vers 2 – 3: ‘n Uitroep oor hoe lank nog.
  • Vers 4 – 5: ‘n Pleidooi.
  • Vers 6 – 7: ‘n Verklaring van vertroue en lof aan God.

 

Hier hoor ons die noodroep van ‘n eensame mens. In Psalm 12:9 het die bidder verwys na die gemeenheid tussen mense. In vs 3 vra hy nou: Hoe lank nog sal die vyand oor my heers? So kry ons dikwels assosiasies tussen psalms wat op mekaar volg.

 

Opskrif

Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid.

 

13:2 – 3: Wanhopige vrae: Hoe lank nog?

2Hoe lank nog, Here? Gaan U my vir altyd vergeet? Hoe lank nog gaan U vir my u gesig verberg.

3Hoe lank nog moet ek kwellinge in my binneste dra, elke dag met kommer in my hart deurbring? Hoe lank nog gaan my vyand die oorhand oor my hê?

Hierdie klaaglied val met die deur in die huis: Hoe lank nog, Here? Gaan U my vir altyd vergeet?

Die digter begin met sy vrae oor sy huidige nood. Hy vra:

  • Hoe lank gaan die Here nog afsydig teenoor hom staan – Gaan U my vir altyd vergeet?
  • Hoe lank hy nog alleen moet worstel – kwellinge in my binneste dra.
  • Hoe lank die vyand hom nog gaan verdruk – die oorhand oor my hê.

Deur die vraag hoe lank nog, te herhaal, wys die digter op die intensiteit van sy lyding en die dringendheid van sy gebed om verlossing. Dit voel vir hom of sy swaarkry nooit ‘n einde sal kry nie. Hy is op homself aangewese, want God kyk van hom af weg. God sien nie hoe die vyand hom sonder rede laat ly nie.  Hierdie is ‘n retoriese vraag wat impliseer: “Dit is ondraaglik en moet nou stop.” Natuurlik weet en hoor God, maar Hy reageer nie nou op daardie kennis nie.

 

3:4 – 5: Angstige versoeke: ‘n Pleidooi

4Sien dit tog raak, antwoord my, Here, my God! Verlig tog my oë, anders sink ek in ‘n doodslaap weg,

5anders sê my vyand: “Ek het hom oorweldig,” anders juig my teenstanders omdat ek tot ‘n val gebring word.

 

Na die vrae pleit hy:

  • Sien dit tog raak – moenie dit langer ignoreer nie.
  • Antwoord my, Here – moenie langer stilbly nie.
  • Verlig tog my oë – gee my tog nuwe lewenskrag; bemoedig my.

 

Hoekom hierdie angstige versoeke?

  • Anders sink ek in ‘n doodslaap weg.
  • Sy vyande moet nie spog nie.
  • Sy verdrukkers moet nie juig oor my ondergang

 

13:6: Blymoedige voornemens.

6Maar ék – op u troue liefde vertrou ek; my hart wil juig oor u verlossing.

Ek wil vir die Here sing, omdat Hy aan my goed gedoen het.

 

Die psalm se einde verskil radikaal van sy begin. Die eerste deel praat van wanhoop. Die slot is vol verwagting. Hoekom is daar hierdie verskil? Die digter kyk op twee maniere na sy omstandighede:

  1. Hy staar hom blind teen sy eie nood in die hede. Dan sien hy niks anders as duisternis nie.
  2. Hy kyk na God se weldade in die verlede. Toe hou hy vas aan God se troue liefde, want hy weet God is getrou; toe juig my hart omdat God uitkoms gegee het; toe sing hy tot eer van die Here, omdat God vir hom goed was.

 

Volgende keer kyk ons na die teologiese implikasies van hierdie psalm.

 

image_pdfimage_print