Die Handelinge van die Apostels: In Ikonium (Hand 14:1-7) – Francois Malan

image_pdfimage_print

14:1 ‘In Ikonium het dit net so gebeur.’ Dieselfde patroon van Paulus en Barnabas se optrede speel in Ikonium af:

Verse 1-4 vertel van sukses aan die begin, maar dan kom daar verdeeldheid onder die mense wat vir die Jode is en ander vir die apostels; verse 5-7 vertel van vervolging en vlug van die apostels om elders te gaan werk.

Paulus en Barnabas het in die Joodse sinagoge ingegaan en so gepreek dat ’n groot aantal Jode en Griekse godvresendes in die sinagoge en in die stad gelowig geword het. Dit getuig van die werking van God die Heilige Gees in dié mense se harte om in Jesus as hulle Verlosser te glo (vgl. Joh 16:8).

14:2  Maar die Jode wat die geloof in Jesus verwerp het, het begin om die gedagtes van die heidene teen die broers te laat draai. Die Jode en van die godvresendes kon nie teenstand teen hulle standpunt oor God verdra nie en was duidelik bekommerd oor die groot getal van die sinagoge se lidmate wat in Jesus begin glo het. Hulle begin hulle mede-Jode en mede-godvresendes opsweep teen Paulus en Barnabas, wat hier ‘die broers’ genoem word, mede-lede van die gesin van God, deur wie Jesus getuig (die term ‘broers’ vir die gemeente van die Here Jesus sluit die vroue in).

14:3 Tog het Paulus en Barnabas vir ’n lang tyd daar gebly en met vrymoedigheid oor die Here gepraat. Hulle vrymoedigheid spruit uit hulle oortuiging dat die Here hulle gestuur het. Die Here het ook gesorg dat hulle ’n lang tyd rustig daar kon werk. Die Here Jesus het die apostels se woorde/boodskap oor sy genade deurgaans bevestig deur tekens en wonders deur hulle hande te laat gebeur. So het Jesus ook met die uitsending van die twaalf om die koninkryk van God te gaan verkondig, aan hulle die mag en gesag van God gegee om demone uit te dryf en siekes te genees (Luk 9:1-2). Die wonders het ook ná Jesus se hemelvaart deur die twaalf apostels geskied met hulle werk onder die Jode in Jerusalem (Hand 5:12,15,16). Nou geskied hier ook wonders onder die Joodse en die Griekse/heidense bevolking van Ikonium.

14:4 Die groot getal  inwoners van die stad was egter verdeeld. Sommige was saam met die Jode en sommige saam met die apostels. Die verdeeldheid kom gereeld voor tussen mense wat met Jesus as Verlosser gekonfronteer word. Volgens Lukas 2:34 het Simeon vir Maria gesê: die Kindjie is ’n teken wat betwis sal word. In 1 Kor 1:18 sê Paulus: die boodskap van die kruis is dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God, en in 2 Kor 2:15-16, vir dié wat verlore gaan is ons ’n reuk vanuit die dood tot die dood; vir dié wat verlos word, is ons ’n geur vanuit die lewe tot die lewe. Romeine 9:33 en 1 Petr 2:6 haal Jesaja 18:16 aan as heenwysing na Jesus: ‘Kyk, Ek sit in Sion ’n klip neer om oor te struikel, ’n rots om oor te val; maar wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.’

14:5 Toe het van die heidene en ook van die Jode saam met hulle leiers ’n besluit geneem om hulle (die apostels) brutaal te mishandel en te stenig. Sommige Jode en hulle leiers het die veldtog teen die apostels begin en sommige heidene en van hulle leiers omgepraat gekry om saam met hulle te beplan vir die Joodse straf op ’n godslasteraar, steniging! (Lev 24:14-16). Die Jode van Antiogië het met hulle planne Paulus en Barnabas uit hulle gebied verban. In Ikonium tref hulle ’n verskerping van die Joodse weerstand teen Christus en sy goeie boodskap aan.

14:6 Toe hulle (Paulus en Barnabas) daarvan hoor (van die planne van die Jode en hulle mede-beplanners) het hulle vir veiligheid gevlug na die stede van Likaonië (soos Jesus gesê het oor dorpe waar hulle nie welkom is nie, Luk 10:10-11). Deur hulle verjaging brei die gebied uit, wat deur die evangelie bereik word. So werk die mense se beplanning (13:6) en God se leiding deur die Heilige Gees (13:2) en die vervolging, saam aan die uitbreiding van die evangelie.

  Likaonië was ’n distrik in die Romeinse provinsie Galasië. Listra en Derbe was geleë in die distrik waarheen die apostels vir hulle veiligheid gevlug het. Listra was ongeveer 38 km suid van Ikonium, op ’n kaal hoogland. Op’n heuwel het Augustus in 6 v.C. hier ’n kolonie van soldate gevestig om die land te verdedig teen die strooptogte van rowers uit die Taurusberge. Hier was egter geen sinagoge van die Jode of godvresendes wat iets van die God van die Ou Testament geweet het, by wie Paulus-hulle kon begin met hulle verkondiging nie. Benewens die soldate wat Latyn gepraat het, en Grieke wat vroeër hier gevestig was en hulle taal, kultuur en godsdiens sedert 300 v.C. hier versprei het, was die taal van die plaaslike bevolking Likaonies.

14:7 In dié omgewing en in die stede Listra en Derbe was Paulus en Barnabas verkondigers van die goeie boodskap van en oor Jesus Christus.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...