Die Heilige Gees – Francois Malan

image_pdfimage_print

Katie vra:

Is wedergeboorte n voorvereiste om die Heilige Gees te ontvang of is die heilige gees ook in mense wat gelowig groot geword het maar nie die “oomblik” van wedergeboorte beleef het nie. As die Heilige Gees in ons is, kan dit gebeur dat hy ons ook kan verlaat?Ook: is dit die Heilige gees wat met ons praat in drome. Ook: ek kry skieliik n gedagte en wonder “wat sal gebeur” as ek n sekere ding sien in my gedagtes. Dan gebeur dit wat ek gesien het. Dit gebeur nie daagliks nie. Dae of weke kan verbygaan voordat dit gebeur. Is dit die Heiliige Gees wat met my gepraat het?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Oor jou vraag: Is wedergeboorte ’n voorvereiste om die Heilige Gees te ontvang…

Die Heilige Gees is God wat in ons werk om ons te verbind aan Jesus Christus en sy liefdesoffer vir ons sonde en met sy opstanding uit die dood. Hy skep ons wedergeboorte deur ons tot geloof in Jesus te lei (Joh 15:26 en 16:8). Efesiërs 2:8 ‘Want uit genade is julle verlos deur geloof. En dit kom nie uit julleself nie, dit is die gawe van God.’

Wedergeboorte is God se werk in ons. In Johannes 1:12-13 sê Jesus: aan almal wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word, dié wat uit God gebore is. In Johannes 3:3 sê Jesus: ‘Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie’ (die oorspronklike Griekse woorde gennêthêi ánōthen beteken ‘weer gebore word van bo af’). In Johannes 3:6 ‘wat uit die Gees gebore is, is geestelik.’

Paulus gebruik die Griekse woord palingennesía vir ‘weergeboorte’ in Titus 3:4-7: ‘Maar toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – deur die afwassing deur die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser. So het ons, geregverdig deur sy genade, erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop.’  

In 1 Petrus 1:3 en 23 word die Griekse woord anagennáō ‘weergebore laat word’gebruik:

            1 Petr 1:3-4 ‘Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het sodat ons ’n lewende hoop mag hê op ’n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat vir julle in bewaring gehou word.’ 
            1 Petr 1:23 ‘Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.’ God herskep ons persoonlikheid tot ’n radikale omkeer om nie meer vir onsself te wil lewe nie, maar vir God. En dit doen Hy deur die Heilige Gees wat ons oortuig van die woord van God wat ons hoor of lees, sodat ons in Jesus glo as God wat vir ons sonde gesterf het en dat ons saam met Hom sal opstaan uit die dood.

2 Jou vraag oor mense wat gelowig groot geword het maar nie die “oomblik” van wedergeboorte beleef het nie.

Die Heilige Gees werk in ons om ons tot geloof in Jesus te lei. Dit is nie in die eerste plek ’n belewenis nie, maar ’n saak van geloof. As jy glo in Jesus as jou Verlosser kan jy seker wees dat die Heilige Gees jou daarvan oortuig het. Vir sommige mense is hulle geloof in Jesus as hulle Verlosser ’n vreugdevolle ontdekking. Ander mense het van kindsbeen af in Jesus geglo, omdat die Heilige Gees reeds in babatjies van gelowige ouers kom woon het.

3 Jou vraag: As die Heilige Gees in ons is, kan dit gebeur dat hy ons ook kan verlaat?

Hebreërs 6:4-6: ‘Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse  gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring, aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak.’ Volgehoue verwerping van Jesus as jou Verlosser kan lei tot verlating deur die Heilige Gees.

4 Jou laaste vraag oor die Heilige Gees wat met jou praat: die Heilige Gees kom woon in ons en lei ons elke oomblik van ons lewe, en nie slegs om toekomstige dinge te sien of te verwag nie. Maar dan verwag Hy dat ons op Hom sal wag om ons te lei en nie ons eie wil te probeer deurvoer as dit teen sy wil is nie, maar dat ons sal kyk hoe Hy vir ons deure toemaak en ander oopmaak. Want God is vír ons, Hy het ons vrygespreek, Christus tree vir ons in by God, en geen swaarkry of ellende kan ons skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie (gaan lees Romeine 8:31-39).

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...