Die koninkryk van God: Historiese perspektiewe (1)

image_pdfimage_print

Touching His human nature, Jesus is no longer present with us. Touching his Divine nature, He is never absent from us. —R.C. Sproul

Die koninkryk van God: Historiese perspektiewe (1)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Ons het reeds kortliks gekyk na wat die koninkryk van God is. Nou gaan ons na enkele historiese perspektiewe kyk.

En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom (Matteus 24:14).

For what other end do we propose to ourselves than to attain the kingdom of which there is no end (Augustinus. The City of God)

Die koninkryk van God is woorde wat mense vir eeue al vasgevang het. Baie glo dit is Jesus se sentrale boodskap. Die probleem is dat binne die Christelike tradisie daar verskille is oor die betekenis. Terselfdertyd is daar ‘n besef dat die verstaan van wat die koninkryk van God beteken, implikasies vir die res van ons teologie inhou.

 

 

Vir eeue oorheers die werk van Augustinus ons denke van die koninkryk. Dit het steeds ‘n groot invloed. Augustinus verkies die woord stad – Daar word groot dinge van jou gesê, stad van God (Psalm 87:3). Hiermee bedoel hy nie ‘n geografiese plek nie. Sy siening van die koninkryk is toekomstig – dit kom na die lewe verby is. Die stad van die mens gaan verby en net die stad van God bly bestaan.

 

Martin Luther praat van die twee koninkryke – die koninkryk van God en dié van die wêreld. Alle mense is burgers van een van die koninkryke. Burgers van die koninkryk van God is die ware gelowiges. Christus het juis na die wêreld gekom dat Hy God se koninkryk kon begin en vestig in die wêreld. Soos Augustinus glo Luther dat die uiteindelike verwesentliking van die koninkryk van God  nie van hierdie wêreld sal wees nie.

 

In die tydperk 1880 – 1920 het die koninkryk van God baie aandag geniet.  Uit hierdie tydperk  is daar vier dinge wat ons kan aflei:

  • Die groot klem wat op die eindtyd geplaas word. Profesie en die koninkryk van God was onderwerpe wat die aandag van die mense vasgevang het.
  • Eskatologie (= die leer van die laaste dinge/eindtyd) raak ander gebiede van die teologie. My siening van eskatologie het implikasies vir hoe ek die persoon van Jesus Christus, die evangelie en die aard en roeping van die kerk sien. My siening van die koninkryk van God is nie ‘n geïsoleerde stukkie teologie nie.
  • Daar is breë verskille tussen die verskillende  Christelike tradisies.
  • Eskatologie is breed en raak aan alle aspekte van my interpretasie van die Bybel en my siening van die eindtyd.

 

George Eldon Ladd  kom met die alreeds/nog nie konstruk na vore – die koninkryk is beide huidig (alreeds) en toekomstig (nog nie). Ons moenie kies tussen kommer vir die samelewing en kommer vir die koninkryk nie. In ons kommer oor die samelewing is ons bekommerd oor sy einde en bestemming – die koninkryk van God. Dissipelskap is om te leer in die “alreeds” in die lig van en beheer deur die “nog nie.”

 Mense verskil egter steeds oor wat alreeds en wat nog nie is nie. Mense soos Brian McLaren verloor die “nog nie” in hulle ywer om die alreeds raak te sien. In die volgende blog gaan ons na enkele aspekte van God se koninkryk in vandag se lewe kyk

image_pdfimage_print

You may also like...