Die Krag van God

image_pdfimage_print

 

“When God wants people to suffer, he sends them too much understanding.” ~ Joodse Spreekwoord

 

Die Krag van God

Maar die wat op die Here wag kry nuwe krag (Jesaja 40:31 – OAV).

Binnekort gaan miljoene mense weer Nuwejaarsvoornemens maak vir 2015 – ek gaan fiks word; ek gaan gewig verloor; ek gaan ophou rook; ek gaan die Bybel deurlees; ens. Teen Februarie het miljoene mense reeds van hulle voornemens vergeet. Volgens Prof Nick Chater (Warwick Business School) is wilskrag selde genoeg om ons voornemens uit te voer. Mense wat op hulle eie wilskrag staatmaak, sal feitlik altyd misluk om hulle voornemens uit te voer.

 

Vertroue op ons eie krag lei dikwels tot teleurstelling. Jesaja 40 verduidelik hoekom ons vertroosting in God se krag kan kry. Hierdie hoofstuk begin met: Troos, troos my volk, sê julle God. Hierdie woorde volg op die aankondiging van die naderende ballingskap en die vernietiging van Jerusalem – een van die donkerste tye in Juda se geskiedenis. Maar God gee steeds om vir sy mense. Hy bring steeds aan hulle die goeie boodskap: Hier is julle God (vers 9).

 

Die ontrou van die mens staan teenoor God se soewereine mag en trou. Mense is soos gras en blomme: hulle staan regop vir ‘n tyd lank, maar kan dit nie volhou nie (vers 7 – 8). Maar God hou die hele wêreld in sy hand en sy trou onderhou die hele skepping. Hy word nie moeg of mat nie (vers 28). Hierdie God gee om vir sy kinders: Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm bymekaarmaak en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei (vers 11).

 

Hierdie God wat as regter oor die nasies sit, het sy kinders baie lief. Dieselfde God wat die eilande soos ‘n stoffie ophef (vers 15) vou jou toe in sy arms. Dieselfde God wat nooit moeg word, kan jou krag vernuwe.

 

image_pdfimage_print