Die kruising van twee ideale

image_pdfimage_print

 

No religion is genuine that is not in accordance with truth – Lactantius

 

Die kruising van twee ideale

Daar is min “as … sal’ stellings in die NT. So lees ons dat God na ons uitgereik het toe ons nog sondaars was. Daar is egter een belangrike stelling: As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer (Johannes 14:15). Let daarop dat hierdie nie ‘n voorwaarde vir die ontvang van God se genade is nie, maar ‘n gevolg van ons opregte liefde vir God.

  

Ons wil graag liefde en gehoorsaamheid skei, maar hulle kruis mekaar. Hoekom wil ons hulle skei? Want die wêreldse liefde fokus op ek – dit is selfsugtig. Die hemel se siening van liefde is gehoorsaamheid – kyk maar net na Getsemane en Golgota waar Jesus tot op die einde gehoorsaam was.

 

Toe Jesus gevra is wat die grootste gebod is, antwoord Hy: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Ons verkies om ons eie standaarde te stel as dit by liefde kom. As ons ‘n opdrag kry om lief te hê, sê ons dit is nie ware liefde nie – liefde is spontaan en word nie voorgesê nie. Maar: Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19). God neem die inisiatief en ons reageer daarop.

 

Johannes staan bekend as die dissipel van liefde. Ons lees meer van liefde in sy geskrifte as in die geskrifte van die ander evangelieskrywers saam. In 1 Johannes skryf hy om sekere verkeerde leerstellings reg te stel en om ‘n potensiële skeiding in die kerk te verhoed. Dit doen hy deur op die regte liefde vir God te fokus. As ons gehoorsaam aan die roeping van God is, sal ons die liggaam van Christus liefhê.

 

Die hele wêreld wil graag vir God ken. Hoe kry ons dit reg? As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken (1 Johannes 2:3). Johannes sê dat ons God kan ken, maar dan langs die pad van gehoorsaamheid. Om meer kennis van God te bekom, is nie die pad wat ons moet loop as ons God se liefde wil ondervind nie. Kennis is ‘n neweproduk van ons gehoorsaamheid aan God. Kennis sonder liefde is nutteloos. Dus: Gehoorsaamheid gee aanleiding tot kennis van hoe ons meer gehoorsaam kan wees en dieper kan liefhê.

 

Later vat Johannes dit saam: Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? (1 Johannes 5:3 – 5).

 

image_pdfimage_print