Die oproep om te volhard

image_pdfimage_print

 

The mystery of the incarnation is unfanthomable – J. I. Packer

 

Die oproep om te volhard

Ons word deur die genade van God en deur geloof gered. God se genade stel ons in staat om te glo: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God (Efesiërs 2:8). God gebruik ons geloof as instrument in ons verlossing. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word (1 Petrus 1:5). Ons is afhanklik van God se werk om ons in staat te stel om Christus te volg, maar ons moet in die geloof volhard. Die teken dat ons volledig met God versoen is, is dat ons in die geloof volhard.  Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het (Hebreërs 3:14). Hierdie vers sê dat iets werklik en blywend met ons gebeur het – ons word deel van Christus; ons is deel van Christus se huisgesin. Let wel:  ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard.

 

 

Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en waarin julle ook gevestig staan. Deur die evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom (1 Korintiërs 15:1 – 2). As jy nie vashou aan die evangelie nie, is dit ‘n bewys dat jy nie verlos is nie. Daar is ‘n balans tussen God wat ons vashou en ons verantwoordelikheid om God se genade te aanvaar en om Christus te volg. God onderhou ons, maar Hy doen dit nie sonder ons voortdurende waaksaamheid, toewyding en gebed nie. Almal wat waarlik weergebore is, sal tot die einde volhard. God sê dat ons in die geloof moet volhard en daarom mag ons nie daardie dinge wat God vir ons gesê het belangrik is, verwaarloos nie. Hier dink ons aan sy woord, gebed, diens en die samekomste van die gemeente vir gemeenskaplike onderrig en aanbidding.

 

Hoekom sal ware gelowiges volhard?

  • God belowe in sy woord dat diegene wat waarlik syne is nooit volkome sal val nie.
  • God het ons uitgekies voor die wêreld gemaak is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Efesiërs 1:4). Hiermee begin Hy ‘n proses wat Hy beslis gaan voltooi. Hierdie proses kry ons in Romeine 8:29 – 30: Dié wat Hy lank tevore gekies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. God het  ons gekies en ons bestemming beplan. Dit is ondenkbaar dat reeds voor die skepping Hy iemand uitgekies het. Hulle toekoms staan vas in God se oë – Hy gaan tog nie later hulle verlossing terugtrek nie.

 

God sal ook seker maak dat sy kinders volhard. Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met die woorde daarop gegraveer: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort (2 Tessalonisense 2:19).

image_pdfimage_print