Laat sy Liefde jou Lei: Wat bêre jy op hul onthou rakke?

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Wat bêre jy op hul onthou rakke? – Milanie Vosloo

Wat bêre jy op hul onthou-rakke?

Omdat julle God se kinders is wat Hy liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Ja, leef ‘n lewe van liefde. Efesiёrs 5:1 – 2a

Indien jy vandag te sterwe sou kom, wat sou jy nalaat? Vergeet vir ’n oomblik van die besittings wat jy in jou testament bemaak het en vra jouself: Watter hártsdinge los ek hier agter? Waarvoor sal ander jou méns onthou? Sal hulle aan jou dink as iemand wat ‘n positiewe verskil in hul lewens gemaak het omdat jy aan hulle gewys het hoe God se liefde lyk?

Hoe sal die mense naby aan jou – jou man, kinders, familie, vriende en kollegas – oor jou menswees-nalatenskap voel? Sou hulle dit wat jy is en doen, op hul “mooi herinnerings-rakke” bêre? Sou hulle wil onthou hoe goed jy hulle laat vóél het? Hoe jy hulle opgebeur en positief beïnvloed het? … Of nié?

Hierdie tipe vrae laat ’n mens soms ongemaklik en skuldig voel. Want nie een van ons is engeltjies nie. Ons is almal maar te geneig om uit selfsug dinge te sê en te doen wat ander liewer wil vergeet. Ja, sonder die inwoning van die Gees van God is nie een van ons hoegenaamd in staat om verskilmaakliefde in die harte van ander te laat nie.

Kom ons kniel en vra die Vader om ons elke oggend óór te maak: Om ons hart en siel propvol te maak van sy soort liefde: dié liefde wat ander sal wil onthou.

O Vader, ek wil graag ‘n goeie-onthou-mens wees. Laat u liefde in my leef, asseblief.

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...