Die oue weerklink in die nuwe: Deur die woestyn – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

iii) Op weg deur die woestyn na die beloofde land

Daar is nie net uit die mooi dinge van die ou volk Israel lesse te leer nie. Die ou volk het in die veertig jaar in die woestyn hulleself nie soos die soetste kind gedra nie. Hulle was oor alles ontevrede en het gedurig gekla. Die skrywer van Hebreërs sien vandag se Christene op weg na die ‘beloofde land’, die hemel, soos die ou Israeliete oppad was na hul beloofde land. In beide gevalle gaan dit nie altyd maklik nie en is daar stryd en probleme. Die Hebreërskrywer waarsku die Christene egter om nie soos die ou Israeliete gedurig ontevrede te wees en te kla asof God hulle nie wil help nie: 15Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.” 16Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie? 17En van wie het God veertig jaar lank ’n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie?…19Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie (Heb 3:15-19). Daarom moedig hy die Christene aan om nie soos die ou Israeliete te maak nie, maar getrou aan Jesus te bly, selfs al gaan dit moeilik: 14Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. (Heb 3:17). Die verhaal van die Christene loop parallel met die verhaal van ou Israel, omdat beide dieselfde God aanbid. Daarom kan daar soveel uit die geskiedenis van Israel, goed of sleg, geleer word.

Een ding wat die Israeliete geweet het, is dat God vir hulle in die woestyn gesorg het. Hy het vir hulle manna en kwartels gestuur toe hulle honger was. God het nie verander nie – hy sorg ook vir sy nuwe volk: Hy gee nie vir hulle manna nie, maar die lewende brood – Jesus. Die manna kon die Jode nie vir altyd aan die lewe hou nie, maar wie die lewende brood eet, sal vir altyd leef: 47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe.” (Joh 6:47-51). God sorg steeds vir sy volk; hierdie keer deur Jesus, met een verskil: wat Jesus vir die nuwe volk van God doen, oortref by verre dit wat met die ou Israel gebeur het. God se volheid is hier.

Dit is interessant dat in die Nuwe Testament die woestyn dikwels simbolies gebruik word. Toe die Israeliete deur die woestyn getrek het, was hulle vir alles van God afhanklik… en Hy het vir hulle gesorg. So het die woestyn die simboliese plek geword vir mense wat heeltemal van God afhanklik is en Hom daar in afhanklikheid wil ontmoet. So is die eerste ding wat Jesus doen toe Hy met sy openbare bediening begin nie om na die groot stede te gaan om te preek nie. Hy gaan woestyn toe om daar in afhanklikheid die teenwoordigheid van sy vader op te soek. Natuurlik was die duiwel ook daar om Jesus te versoek en so sy gehoorsame afhanklikheid van God te probeer breek, maar tevergeefs (Mat 4:1-11; Luk 4:1-13; sien ook Mat 15:33 en parallelle; Mk 1:4; Joh 11:54; Open 12:12:6, 14).

So is daar nog baie voorbeelde van hoe die eksodusverhaal eintlik as voorbeeld parallel loop met die Christelike verhaal. So is daar verwysings na die tien plae in Openbaring (bv. Open 8:7, 12; 9:3, 16:2-4, 10),  God verander immers nie. As Johannes Jesus se reddingswerk aan die kruis wil verduidelik, dan vergelyk Hy Jesus met die koperslang wat deur Moses in die woestyn aan die paal gehang is (Joh 3:14-15; vgl Num 21:9). Die Israeliete wat na die slang gekyk het, is gered. So sal Jesus ook aan die kruis verhoog word en aan mense wat in Hom glo die ewige lewe gee. Soos God in die verlede vir sy volk gesorg het, so sorg Hy ook nou nog beter deur Jesus. So help die voetspore wat hy in die verlede getrap het, Christene om te weet waar die voetstappe van God vandag gaan val.

Volgende keer kyk ons na Jesus as Koning.

image_pdfimage_print

You may also like...