Die Handelinge van die Apostels: Saulus se prediking en vervolging (Hand 9:19b-25) – Francois Malan

image_pdfimage_print

9:19b Die getal van die paar dae word nie gemeld nie (hêmeras tinas ’n onbepaalde aantal dae), waarskynlik was dit nie baie dae nie. Gedurende die paar dae was hy, Saulus, saam met die dissipels in Damaskus – die mense wat hy vroeër wou arresteer is nou sy geloofsbroers. Hy word in die gemeente opgeneem, waarskynlik met die voorspraak van Ananias wat die hele verhaal aan die gemeente sou vertel het, soos Barnabas later in Jerusalem (Hand 9:26-27).

9:20 Dadelik, na sy paar dae saam met die dissipels, het hy Jesus begin verkondig in Damaskus se Joodse sinagoges (kêrússō aankondig, vertel, preek). Aan die Jode het hy verkondig dat Jesus die Seun van God is. Toe die hoëpriester Jesus voor die hele Joodse Raad gekonfronteer het met die vraag: ‘Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?’ het Jesus geantwoord: ‘Ek is!’ en hulle het Hom met veragting verwerp, en vir godslastering laat kruisig (Mark 14:61-65). Nadat Jesus egter persoonlik met Saulus uit die hemel gepraat het, was hy oortuig dat Jesus waarlik die Seun van God is! (vgl. 1 Kor 8:6; Kol 1:15-20; Flp 2:9-11; Rom 8:34; Efes 1:2).

9:21 Almal wat Paulus se boodskap gehoor het, was uitermate verstom oor die radikale omswaai van die gevreesde man (eksístamai  so verbaas dat jy amper nie kan verstaan wat jy ondervind nie). Dit was veral die Jode wat so verbaas was, maar sy getuienis het ook die gelowiges verbaas. Die vers bestaan verder uit twee retoriese vrae wat in Grieks die antwoord ‘ja, dit is so!’ veronderstel, en omdat dit twee vrae is, veronderstel dit eintlik die antwoord ‘ja, dit is verseker so!’  ‘Is dit nie hy wat in Jerusalem dié wat daardie Naam noem aangeval het om hulle uit te wis nie? (portheō aanval met die doel om uit te wis; die woord word in die Nuwe Testament net hier en in Gal 1:13,23 gebruik); en het hy nie hierheen gekom om hulle gebind na die hoëpriester toe te vat nie?’ Saulus se reputasie het hom vooruit geloop.

9:22 Saulus het ‘n konsternasie onder die Jode wat in Damaskus gewoon het veroorsaak, deurdat hy aan hulle onteenseglik bewys het dat Jesus die Jode se verwagte Messias/Christus is. Die Here hom gaandeweg al sterker daarvan oortuig. Hy kon skynbaar die Ou Testamentiese woorde oor die Gesalfde van God al duideliker uitlê as profesieë wat in Jesus vervul is. Daarop het die Jode nie ‘n antwoord gehad nie. Daarom het hulle verbasing oor sy bekering in vers 21 ‘n verwarring in hulle gemoed en geloof geword. Hulle wou nie aanvaar dat Jesus hulle Messias is nie, maar kon niks daarteen sê nie.

9:23 Lukas gaan hierna oor na die Jode se vervolging van Saulus in Damaskus na ’n lang tyd (hêmérai hikanaí ‘ná baie dae’). Maar Saulus voeg hier ’n tydperk in waarin hy in Arabië gaan preek het, teruggekom het Damaskus toe, en dat hy eers drie jaar na sy bekering na Jerusalem opgegaan het (Gal 1:11-20). Dit kon alles in die ‘lang tyd’ van Handelinge ingepas wees.

‘Toe baie dae voltooi is (plêróomai om tot die einde van ’n tyd te kom, met die implikasie van die voltooiing van ’n plan)  het die Jode saamgespan (sumbouleuómai om saam te beplan om ’n gemeenskaplike aksie te loods) om Saulus dood te maak (anairéō om van iemand ontslae te raak deur eksekusie). Dit het ’n lang tyd van beplanning geneem voor die Jode se plan om Saulus dood te maak eenstemmige goedkeuring gehad het. In 2 Kor 11:32 voeg Paulus nog ’n ander aspek daarby: ‘In Damaskus het koning Aretas se goewerneur die stad Damaskus bewaak om my te arresteer.’ Of die Jode agter die opdrag van die goewerneur was, word nie gesê nie, maar die Jode kon die goewerneur goedskiks oortuig het om Saulus te laat vang, soos hulle Pilatus oortuig het om Jesus te laat kruisig.

[Aretas  IV het in Petra oor die Nabateërs regeer van 9 v.C. tot 39/40 n.C. Hy was die skoonvader van Herodus Antipas, wat van Aretas se dogter geskei het om met sy halfbroer Filippus se vrou Herodias te trou. Herodias was ook Herodus se halfbroer Aristobulus se dogter. Oor die verstoting van sy dogter het Aretas in’n veldslag Herodus en sy soldate verslaan. Aretas het oor Damaskus regeer van 37-39/40 n.C. in die tyd van keiser Caligula wat hom goedgesind was. Saulus se ontsnapping uit Damaskus kon moontlik gedurende die drie jaar geskied het.]

Dwarsdeur sy loopbaan was die Jode Paulus se mees verbete teenstanders. In hulle oë was hy ’n verraaier van sy volk en van hulle godsdiens. Hy moes uit die weg geruim word (vgl. Hand 21:27-31; 24:5-6). Hier in Damaskus het die Here reeds begin om hom te wys wat hy vir die Naam van Jesus moet ly. Hierdie eerste vernedering word laaste genoem in die lys van sy lydings in 2 Kor 11: 23-33 as ’n laaste van sy swakhede waaroor hy roem. Dit het hom dwarsdeur sy lewe bygebly, maar hy het daaroor geroem as sy verwerping en lyding vir en saam met Jesus (vgl. Hand 21:10-14). 

9:24 Die Here sorg egter dat Saulus hoor van die Jode se komplot, en dit word bekend dat hulle die stad se poorte dag en nag dophou om hom dood te maak.

9:25 Saulus se dissipels het hom egter geneem (dieselfde Griekse woord vir ’n  dissipel mathêtês kom van twee verskillende werkwoorde: manthánō om te leer, en mathêteō om te volg. Daarom kan die woord verwys na leerders of volgelinge van ’n persoon). Saulus het in die lang tyd alreeds ’n aantal volgelinge wat deur hom onderrig word, waarskynlik onder die Jode vir wie hy in hulle sinagoges verkondig het dat Jesus die Seun van God is (Hand 9:20) en nie-Jode, die heidene onder die Arabiere, aan wie hy Jesus verkondig het (Gal 1:16). Hierdie lojale dissipels van Saulus het hom in die nag geneem, geleidelik laat afsak deur die versterkte stadsmuur, af in ’n groot mandjie (spurís). In 2 Kor 11:33 sê Paulus hy is met ’n groot mandjie van tou gevleg (sargánê) deur ’n venster (thurís) in die stadsmuur geleidelik laat afsak. (So het Ragab Josua se twee verkenners met ’n bloedrooi tou deur die venster van haar huis in die stadsmuur van Jerigo laat afsak om te ontvlug (Jos 2:15,18).

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...