Ek spring van gemeente tot gemeente

image_pdfimage_print

 

No error is so gross, that it may not appear most plausible, if you consider it with the reason alone without the aid of the Word. — Martin Luther

 

Ek spring van gemeente tot gemeente

Daar is ‘n nuwe neiging veral onder jongmense – om van die een gemeente na die ander te spring. Hulle word dikwels beskou as oppervlakkige godsdiensverbruikers. Hulle vlieg dikwels onder die radar en hulle ondervind die kerk op hulle eie manier. Daar is ‘n paar baie belangrike dinge wat ons moet besef.

 

  1. Kerk gaan oor verhoudings

Die “kerk” is mense; dit is God se mense. Dit is nie gebeurtenis of diens soos ons gewoonlik daaraan dink nie. Dit is die mense wat graag bymekaar wil kom. Ons moet aan kerk in terme van verhoudings en nie in terme van geboue of style dink nie. Die regte reaksie van God se mense is om lief te hê – maak nie saak hoe dikwels die persoon ‘n erediens bywoon nie. Om van gemeente na gemeente te spring sonder enige verbinding is ‘n ondiens aan wat die gemeente alles vir ons bied. Daar is vryheid en diepte as jy jouself by ‘n geloofsgemeenskap aansluit. Die regte vraag is: Het jy ‘n gemeenskap wat jou ken, jou liefhet, jou uitdaag? Dan maak dit nie saak waar jy Sondae die eredienste bywoon nie.

 

  1. Dit sal wees wat jy daarvan maak

As jy van gemeente na gemeente spring om diversiteit te ondervind, sal jy waarskynlik kry wat jy soek. As jy net wil verbruik of as jy nie in verhoudings belangstel nie, sal jy waarskynlik ook slaag. Ons motiewe en waardes dryf ons in al die besluite wat ons neem. Jy moet verstaan waarom jy van gemeente tot gemeente spring.

 

  1. Oppas vir die swaai van die pendulum

Ons streef na balans – ook as dit by kerkkultuur kom. Gelowiges raak geheg aan ‘n sekere manier van “kerk doen.” Almal van ons het al seergekry en is gewond – soms in die kerk. Ons eerste reaksie is om so ver as moontlik weg te hardloop. Om jou aan ‘n ander gemeente toe te wy, klink na ‘n waagstuk – daarom spring jy maar van gemeente tot gemeente. Balans is goed, maar wees versigtig vir die pendulum wat swaai. Verstaan waarom jy van gemeente tot gemeente spring.

 

  1. Kerk maak ons nie heiliger nie

Die praktyke van die gemeente maak ons nie heiliger nie. As kinders van God is ons heilig en geregverdig deur Christus. As ons dit besef, kan ons mekaar liefhê en gesonde verhoudings binne ‘n gesonde gemeentelewe ontwikkel.

 

Ons moet ophou om met mekaag te baklei oor wat reg en wat verkeerd is. Volg in Jesus se voetspore en leef in liefde met mekaar – Sondae en elke ander dag van die week.

 

image_pdfimage_print