Die Prediker

image_pdfimage_print

 

Holiness is not freedom from temptation, but power to overcome temptation. —G. Campbell Morgan

 

Die Prediker

Soms moet ons stilstaan en nadink oor ons lewens as deel van die soewereine God se storie. ‘n Boek wat ons hierin kan help, is Prediker. Hierdie boek is realisties. Dit leer vir ons dat die lewe dikwels leeg is, maar ons eindig nie op die rotse van wanhoop nie. Die einde van die boek is die lens waardeur ons die hele boek moet lees: Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad (12:13 – 14). Ons moet verstaan dat hierdie wêreld nie ‘n paradys is nie. Die belangrikste is dat niks belangriker is as die regte verhouding met God nie.

 

Prediker herinner ons aan ons beperkings en tydelikheid. God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd (3:11).

 

Thomas Schreiner kyk na ‘n paar aspekte van hierdie lewe soos die Prediker dit sien.

  • Die vreugde van skoonheid

Die lewe is ‘n mengsel van skoonheid en misterie. Ons sien die skoonheid in die natuur om ons. Ons sien die skoonheid van die wêreld wat God gemaak het, maar ons verlang na iets meer – ons voel daar is iets meer as net hierdie lewe.

 

  • Die misterie van die lewe

God het in ons harte ‘n begeerte vir die ewigheid en skoonheid geplaas. Maar tog bevat ons lewe baie dinge wat ons nie verstaan nie. Ons kan nie ons lewens bemeester nie. Die lewe maak nie altyd vir ons sin nie. Kyk na die werk van God: wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het (7:13). Die lewe is vol raaisels en geheime en lyding wat ons nie kan oplos nie. Baie van die diepste lewensvrae kan ons nie beantwoord nie. “Reason’s last step is the recognition that there are an infinite number of things that are beyond it.” (Blaise Pascal).

 

  • Die vreugde van die lewe

Prediker leer vir ons dat die lewe vol lyding en tragedies is. Terselfdertyd word ons opgeroep om die lewe te geniet. Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar ‘n dag van teëspoed kom, sien dit so: Soos die een het God ook die ander een gegee, sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie (7:14); Ek het tot die insig gekom dat daar vir ‘n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God (3:12 – 13). God gee aan ons die tyd om die vrugte van ons arbeid te geniet. Maak nie saak wat ons posisie in die lewe is nie, God beplan vir ons vreugde.

 

  • Die vreugde van nederigheid

Die sleutel vir vreugde is nederigheid. God sê dat ons tevrede moet wees. Ons is skepsels van vleis en bloed. Ons aanvaar elke dag ons dagtaak van God. Ons weet nie alles nie, maar ons kan leef en werk en rus in God. Ons dank God vir dit waarvoor Hy ons geroep het.  Ons bemeester nie die lewe nie en ons weet nie wat vir ons voorlê nie, maar ons vertroue is in God. Ons dank Hom vir ons daaglikse brood. As ons die lewe as God se gawe ontvang, sien ons die heerlikheid in die gewone.

 

  • Buitengewone vreugde in die gewone

Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, die lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld (9:9). G. K. Chesterton stel dit so: “The most extraordinary thing in the world is an ordinary man and his ordinary wife and their ordinary children.” Die Prediker sê dat ons nie alles wat in hierdie wêreld gebeur, moet uitredeneer nie – dit is buite ons vermoë. As die dae goed is, geniet dit. Geniet die dae wat God jou saam met jou vrou, jou gesin en jou vriende gegee het.

 

 

 

 

image_pdfimage_print