Die kerk – Wat is dit?

image_pdfimage_print

If all the ignorant need are paintings and images, why didn’t Jesus send out artists with brushes instead of preachers with words? – Huldrych Zwingli

 

Die kerkWat is dit?

Wat is die kerk?  Die kerk is die gemeenskap van alle ware gelowiges van alle tye (Wayne Grudem). Die woord kerk (Grieks = ekklesia) word in die Nuwe Testament gebruik om te verwys na diegene wat deur geloof in die werk van Jesus Christus in een liggaam, ‘n ewige gemeenskap, verenig is. Dit word nie deur tyd en ruimte beperk nie en sal eendag ‘n volmaakte gemeenskap met God deel – vir ewig.

 

 

Hierdie mense is nie net met mekaar verenig nie, maar ook met Christus self. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul (Efesiërs 1:22 – 23). Paulus gebruik ook die beeld van die huwelik: Christus is die eggenoot van sy bruid – die kerk (Efesiërs 5:31 – 32).

 

Dit is die betekenis van die woord kerk wat primêr in Efesiërs gebruik word, maar ook op ‘n paar ander plekke in die Nuwe Testament (soos Matteus 16:18: Op hierdie rots sal Ek my kerk bou.) Die meeste verwysings na ekklesia in die Nuwe Testament verwys na die diverse plaaslike gemeenskap van Christus. Paulus begin verskeie van sy briewe met: Aan die gemeente (ekklesia) van God in Korinte of die gemeente van die Tessalonisense. Openbaring 2:1 – 3:22 bevat boodskappe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië. Waar na die plaaslike gemeenskap verwys word, word ekklesia gewoonlik met gemeente  vertaal.

 

As ons aan die globale kerk behoort, impliseer dit dat ons ook aan ‘n plaaslike kerk/gemeente behoort en daar aktief betrokke is – ons geloof en gehoorsaamheid hang immers hiervan af.  Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly, soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom (Hebreërs 10:23 – 25).

image_pdfimage_print

You may also like...