Ek cope nie meer nie: ’n Genademens is ’n vredemens – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

“Christus is nou die enigste kragbron van my lewe … My eie swakheid leer my om heeltemal op Christus se groot krag staat te maak” (2 Kor. 12:9, 10, p. 596). In 2 Korintiërs 12 vertel Paulus hoe hy teen sy eie swakhede en swaarkry worstel. Sodra hy vir die Here wil werk, is dit of Satan hom bydam en pimpel en pers slaan. ’n Mens sou byna, as jy na Paulus kyk, kon sê dat as hy op ’n skip geklim het, het dit gesink; as hy in ’n dorp ingestap het, het hulle hom uiteindelik óf met klippe halfdood gegooi of met swepe halfdood geslaan. ’n Paar maal, in verskil­lende lande, was hy in die tronk. (Lees gerus maar Paulus se ge­skie­denis in Handelinge.) Satan het dit vir hom moeilik gemaak, waar hy ook al gegaan het.

Ons moet nie verwag dat dit met ons makliker sal gaan nie. Jy sal miskien besluit om jou lewe beter in te rig en elke dag meer te leef soos Jesus wil. Jy sal jou selfgesprek positiewer probeer maak en God deel van die gesprek maak. Maar Satan sal hom ook in jou selfgesprek kom inwurm. Gedurig sal hy daardie ou negatiewe gedagtes maar weer saai. Hy sal wal gooi en probeer keer dat jy uiteindelik die mens word wat God wil hê jy moet wees. Dit is Satan se werk en dit doen hy die graagste en die beste. Verwag dat Hy jou gaan probeer pootjie en moenie dat dit jou mismoedig maak nie. Paulus het mos vir ons die antwoord gegee. As jy swak voel, gee dit jou al die rede om te besef dat jy sonder die Here eintlik nie verder kan nie. Gaan soek by Hom jou krag. Sy genade sal vir jou ge­-noeg wees. Daaroor meer in die volgende hoofstuk.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print