Die menorah – Francois Malan

image_pdfimage_print

Michele vra:

 Wat stel die Menorah voor in die Bybel?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Menorah is die Hebreeuse woord vir  ‘kandelaar.’  Dit is die goue kandelaar met ses arms wat uit die middelste stam spruit, drie aan elke kant, elkeen met een van die sewe lampies op die arms. Dit het gestaan in Israel se tabernakel en later in die tempel. Dit moes voortdurend brand sodat daar gereeld lig kan wees in die heilige deel van die tent van ontmoeting. Salomo se tempel het vyf menorahs in die heiligdom gehad (1 Konings 7:49). Soos die tafel met die toonbrode en die ark was die menorah die teken van die teenwoordigheid van die Here. Daarom is dit gemaak van suiwer goud. Die patroon van die menorah is ’n beeld van ’n groeiende boom met takke, die tak van ’n amandelboom soos in Jeremia 1:11-12 as teken dat die Here gereed staan om te doen wat Hy gesê het. Die Hebreeuse woord vir ‘gereed staan’ (sjokēd) klink soos die Hebreeuse woord vir amandelboom (sjakēd).

Tydens Israel se uittog uit Egipte het die Here Aäron en sy nageslag as priesters uitgekies uit die twaalf stamme deur sy kierie oornag te laat bot met blare en ryp amandels (Numeri 17:1-10).

Die heilige deel is voor die voorhangsel wat die allerheiligste afgeskort het van die heilige. Terwyl die heilige altyd verlig moet wees, is dit altyd donker in die allerheiligste, waar die Here self as die Lig teenwoordig is (Eksodus 25:31-40; Levitikus 24:2-4). Die lig in die heilige was ’n teken dat God in die allerheiligste teenwoordig is by die ark, waar die volk nie toegelaat was om in te kom of in te kyk nie.

In die tyd ná die tempel weer opgebou is, ná die ballingskap, is die menorah op die Joodse Chanukka-fees, dit is die Tempelinwydingfees, aangesteek, elke dag een lamp meer, as herinnering aan die vernuwing of herinwyding van die tempel (Johannes 10:22).

Die lig van die kandelaar as herinnering aan die ontwakende amandelboom wat eerste van die bome begin blom, getuig dat die Here teenwoordig is en aktief is onder sy volk. Die herhalende blomkelke met blomknoppe (Eks 25:33) stel die amandelboom voor wat besig is om in blomme uit te bars uit sy knoppe. Die vuur en die lig van die sewe lampe herinner die volk daaraan dat die Here in helder lig kom. So getuig die tafel met die toonbrode waarop die lig van die kandelaar val van God se mildadige teenwoordigheid. Die ark is die getuienis van God se teenwoordigheid, en die kandelaar sê dat Hy ewig waaksaam is oor sy volk en oor sy skepping (Ps 121:4: Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie). 

Toe Jesus gekom het, het Hy die plek van die tempel ingeneem (Johannes 2:19-22). Hy is nou die tempel waardeur ons na God toe kan gaan deur sy offerdood aan die kruis vir ons sonde, en sy opstanding wat die dood oorwin en vir ons ’n deur word na die ewige lewe. In Johannes 8:12 sê Jesus: ‘Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in duisternis leef nie, maar sal die lig vir die lewe hê.’ In Johannes 14:15-17 stuur Hy die Heilige Gees om ewig in ons te kom bly; en in Johannes 14:23 sê Hy: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print