Hoekom glo jy?

image_pdfimage_print

 

Young people, you must pray, for your passions are strong, and your wisdom is little.—C.H. Spurgeon

 

Hoekom glo jy?

God verwag van gelowiges om te weet wat hulle glo en hoekom hulle glo. Die wêreld het vandag Christene nodig wat aan ander kan verduidelik wat hulle glo en hoekom hulle glo. Hoekom? Want meeste mense weet nie hoekom hulle glo nie. Ons leef in ‘n wêreld van wêreldsienings wat verskil. In ‘n samelewing met soveel verskillende sienings hoe kan ons die Bybelse siening in die wêreld versterk? Rick Warren noem drie maniere.

 

  1. Leer die waarheid

Jesus eindig sy bekende bergrede met ‘n storie van twee mense wat huise gebou het. Een bou op sand; die ander op soliede rots. Toe die storms kom, stort die een wie se huis op sand gebou was ineen. Die persoon wat op die rots gebou het se huis bly staan. Jy gaan baie aardbewings in jou lewe ondervind: finansieel, geestelik, gesondheid, verhoudings en moreel. As jou fondament nie solied op die waarheid gebou is nie, gaan jou huis ineenstort. As leier is jy verantwoordelik om ander mense te help om hulle lewens op God se waarheid te bou. Hoe meer jy in God se woord kan kom, hoe beter kan jy jouself en ander help.

 

  1. Onderskei wat vals is

Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is (1 Johannes 4:1). Die Bybel is baie reguit as dit oor vals onderrig praat. Dit gee aan ons wysheid om te leer en as ons dit geleer het, bemoedig dit ons om vals lering te verwerp. Dit beteken allermins dat ons nou skepties en sinies moet wees. Sinisisme is die gevolg van bitterheid en seerkry; onderskeiding is op liefde en die waarheid gebou. Leer die waarheid en daarna verwerp jy wat vals is.

 

  1. Draai weg van die wêreld

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie (Romeine 12:2). Hier word na die wêreld se waardesisteem verwys – materialisme, individualisme, genotsug, sekularisme. Paulus gaan verder: Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Die denke het te doen met die vernuwing van jou wêreldsiening. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. In Spreuke 15:14 lees ons: ‘n Verstandige mens is op soek na kennis; ‘n dwaas voed homself met dwaasheid. Jy het ‘n keuse: die waarheid of dwaasheid. As jy jou lewe wil verander moet jy ophou om jou met dwaasheid te voed en jou eerder met wysheid voed.

 

Ons nuus laat dit lyk asof alles belangrik is. Jy kan ‘n week of twee sonder die nuus oorleef, maar jy kan nie sonder God se waarheid oorleef nie. Die pad na vreugde is deur alles uit God se perspektief te sien. Dit kan ons slegs doen as ons ons wêreldsiening op die waarheid van die Bybel bou.

 

image_pdfimage_print