Die regverdige spruit (3)

image_pdfimage_print

People fall in private, long before they fall in public. —J.C. Ryle

 

Die regverdige spruit  (3)

Conrad Mbewe het onlangs na aanleiding van Jeremia 23:1 – 8 ‘n artikel oor leierskap geskryf. Hier is enkele belangrike idees uit hierdie artikel.

 

Die Here se belofte

Die uiteindelike leier van God se mense is ‘n nuwe koning – die Here Jesus Christus. Die hele Bybel gaan oor Hom. In die Ou Testament  sien ons Hom onder andere in God se beloftes wat Hy maak as die situasie in Israel moeilik is.

 

5Die Here sê verder: “Daar kom ’n tyd wanneer Ek weer ’n koning wat regtig deel is van Dawid se familie koning sal maak. Hy sal ’n verstandige koning wees. Hy sal sorg dat almal in die land regverdig behandel word. Hy sal ook doen wat reg is. 6Sy naam sal wees: ‘Die Here wat aan ons reg doen.’ Terwyl hy regeer, sal Juda vry wees van hulle vyande en Israel sal veilig voel.”

 

As God net mense as leiers aanstel, sal sonde nie verdwyn nie – iewers langs die pad gaan hulle val. Hier is God se grootste belofte aan die mens: Hy gaan iemand Anders stuur vir sy mense. Hy sal anders as die gewone leiers werk en sy mense in ‘n nuwe lewensfase inlei. Hoe sal Hy van die ander leiers verskil? Hy sal verstandig wees; Hy sal regverdig wees; Hy sal doen wat reg is. In die NAV word na Hom as ‘n regverdige spruit verwys.

 

Regverdigheid word beklemtoon, want dit is juis ‘n gebrek aan regverdigheid wat die volk in ballingskap laat beland het. Hierdie koning bring permanente herstel, maar hy sal ook die skuld moet betaal vir die ongeregtigheid van sy mense. Wie is hierdie persoon?

 

Van hierdie persoon lees ons in Jesaja 9:5 – 7:

5Daar is vir ons ’n Kind gebore! Dit is ’n Seun wat aan ons gegee is! Hy sal oor ons regeer en sy koninklike titels sal wees: Spesiale Raadsman, God wat sterk is, Ewige Vader, Koning van Vrede. 6Sy koninkryk en mag sal aanhou uitbrei en Hy sal vir altyd vrede bring. Hy sal vir altyd op Dawid se troon sit en sy koninkryk met regverdigheid en billikheid regeer. Daarvoor sal die absolute goedheid van die Here die Almagtige sorg.

7Die Here het vir Israel ’n waarskuwingsboodskap gestuur. Die dinge waaroor Hy hulle gewaarsku het, gaan hierdie nageslag van Jakob beslis tref.

 

Hier leer ons heelwat van hierdie koning. Die eerste: Hy is God wat sterk is. Hy word nie net as ‘n spesiale Raadsman beskryf nie, maar ook as God. Die persoon wat as baba die wêreld ingekom het, kom as ‘n oneindige heerlike wese. Deur sy hande het alles in die wêreld tot stand gekom; Hy heers oor alles in die heelal – selfs die kleinste besonderheidjie. Uiteindelik sal Hy die lewendes en dooies oordeel. Hy sal regverdig en billik regeer: Daarvoor sal die absolute goedheid van die Here die Almagtige sorg.

 

Hierdie Koning het nie gekom om vir ons ‘n paar beginsels te leer nie; Hy het nie gekom om vir ons ‘n goeie rolmodel te wees nie. Nee, Hy het gekom om ons te verlos. Daarvoor het Hy gely en aan die kruis gesterf. Net Jesus Christus voldoen aan hierdie beskrywing.

image_pdfimage_print

You may also like...