Die Tabernakel

image_pdfimage_print

 

The greater our progress in theology, the simpler and more child-like will be our faith. —J. Gresham Machen

 

Die Tabernakel

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

 

God het by die mense van Israel in die tabernakel gebly. Dit is ‘n voorafskaduwing van die teenwoordigeid van God in Christus in sy kerk.

 

Hier sien ons die ontsaglike teenwoordigheid van God. God, in sy genade, kies om by sy mense te bly; Hy was nie ‘n afwesige vader nie; Hy was intens betrokke by die lewens van sy mense. Sy teenwoordigheid boesem vertroue, maar ook vrees, by hulle in. Sy teenwoordigheid onderskei Israel van al die ander nasies.

 

Bydraes vir die heiligdom

[Eksodus 25:1 – 9]

Voordat God die opdragte oor die bou van die tabernakel gee, kontroleer Hy eers die harte van die volk – Hy versoek ‘n bydrae van sy mense. Hulle moet ‘n bydrae maak tot wat sy woonplek sal wees. Julle moet die offergawes aanvaar soos dit vir My aangebied word. Hier is geen voorskrifte oor wat of hoeveel elke persoon moet gee nie. God dwing ons nie om Hom te aanbid en vir Hom te gee nie – Hy vra daarvoor. Dit vra vir ‘n offer – mense moes opoffer en die pad volg wat God vir hulle aangedui het.

 

God vra spesifieke bydraes, want die materiaal wat vir die bou van die tabernakel gebruik gaan word is uniek en waardevol. Dit sluit in goud, silwer, brons, wolstof, linne, bokhaar, ens. Jy nader nie vir God op jou eie voorwaardes nie, want Hy is die Almagtige, die Skepper en die Verlosser. God het hierdie goedere voorsien – voor die Israeliete Egipte verlaat het, het die Egiptenare dit vir hulle gegee. Nou moes sy mense ‘n deel daarvan aan God teruggee.

 

Niks het nog verander nie. Ons gee aan God van ons hulpbronne wat God aan ons toevertrou het. Die probleem is dat ons nie aanvaar dat Hy vir ons die geld, tyd en energie gegee het nie; dat ons slegs rentmeesters is nie. As ons besef ons is net rentmeesters sal ons blymoedig gee.

 

Wat was die doel van die tabernakel? Hulle moet vir My ‘n heiligdom oprig dat Ek tussen  hulle kan woon. Hoekom was dit ‘n heiligdom? Omdat dit God se woonplek was. God, nie mense nie, maak die plek heilig. As dit eers heilig is, mag dit net gebruik word soos God dit bedoel het.

 

Ons kan God nader, want Hy het ‘n verhouding deur Jesus Christus met ons geïnisieer. Ons kan Hom net in genade deur geloof in Christus en deur die krag van die Heilige Gees nader. Hy het Hom ook aan ons in die Skrif geopenbaar

 

Uiteindelik wys die tabernakel ons na Iemand – na die ware teenwoordigheid van God wat by ons woon: Christus. Die Woord van God het mens geword en onder ons kom woon (Johannes 1:14). Jesus is die ware lig wat elke mens verlig (Johannes 1:9).

 

 

image_pdfimage_print