Exousia’ en ‘dunamis’ – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Wat is die verskil tussen die twee Griekse woord ‘exousia’  en ‘dunamis’, want beide word in die Nuwe Testament met krag vertaal?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraer is heeltemal reg: Dit lyk of die twee woorde in die Nuwe Testament byna sinonieme is. Kyk na die volgende voorbeelde:

Joh 1:12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg (exousia) gegee om kinders van God te word.

Open 11:6 Hulle het die mag (exousia) om die hemel toe te sluit.

Mk 12:24 “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag (dunamis) van God nie?

Luk 14:31 Of watter koning wat met ’n ander koning in ’n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg (= mag het; dunatos) is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie?

In die amptelike woordeboek van die Internasionale Bybelgenootskap (Lexicon of the New Testament – J.P. Louw and E.A. Nida – al die Bybelgenootskapvertalers wêreldwyd  gebruik die woordeboek) word die twee woorde in dieselfde semantiese (betekenis-) veld ingedeel. ‘n Semantiese veld beteken dat die woorde min of meer dieselfde betekenis het (in die geval power/ force volgens die woordeboek), maar tog elkeen sy eie beklemtoning het. Dit is die geval met exousia en dunamis ook. Beide dra min of meer die betekenis van die mag, krag, reg om iets te doen, maar elkeen het tog sy eie klem. Kom ons kyk wat is dit:

  1. Die woord exousia lê meer klem op die kontrole oor of reg wat iemand het om iets te doen, byvoorbeeld, iemand het die reg (tipe mag) om iets te besluit, beveel of te sê. Dit impliseer dat die persoon die outoriteit (gekry) het (wat van iewers kom – God gee mense bv. die reg of mag om kinders van God genoem te word – Joh 1:12).
  2. Met die woord dunamis verskuif die betekenis effens. Hier lê die klem op die feit dat iemand iets kan doen omdat hy die vermoë (krag, kapasiteit) het om dit te kan doen. ’n Mens sal dus sê Jesus het die krag/ vermoë om wonders te kan doen. Die klem lê nie op die reg wat Hy van iewers kry nie, maar op sy vermoë om dit te kan doen en dit word dan duidelik in die aksie wat volg.

Die grense tussen die twee woorde se betekenis is nie absoluut nie en die woorde kan tog ook effens anders gebruik word, soos heersers of engele wat optree, afhangende van die kontekste, maar dit is nie so algemeen in die Nuwe Testament nie.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...