Alle Paaie lei na Jesus: God Drie-enig in die Ou Testament (2)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: God Drie-enig in die Ou Testament (2) – Adrio König

10.4.2 Die “Gees” in Genesis 1:2

In Genesis 1:2 lees ons in die 1983-vertaling: “maar die Gees van God het oor die waters gesweef”. Ons kon hierdie teks ook behandel het in die hoofstuk oor die skepping (hoofstuk 4.13). Ons doen dit egter liewer hier juis omdat dit gesien word as duidelike  getuienis dat die Gees alreeds as ’n aparte, selfstandige Persoon in die Ou Testament optree. Daarom kyk ons nou hier daarna.

Kom ons kyk eers na ’n aantal vertalings van hierdie sin: “maar die Gees van God het oor die waters gesweef.” Dit sal dan duidelik word dat dit nie so seker is wat regtig hier bedoel word nie.

  • Die NAB vertaal: “while a mighty wind swept over the waters.”
  • NEB: “And a mighty wind swept over the surface of the waters.”
  • GN gee twee moontlike vertalings: “Die Gees van God het oor die waters gesweef,” of: “’n Geweldige storm het oor die water gebruis.”
  • TEV gee vier moontlike vertalings: “and the power of God was moving over the water”, “the spirit of God … ”, “a wind from God … ”, “an awesome wind … ”
  • Die NLV maak ’n parafrase van hierdie teks, maar dit het nie enige grond in die Hebreeus nie: “Tog het die kragtige, skeppende Gees van God oor die oppervlakte van die water gesweef.”

Hoe is dit moontlik dat vertalings so kan verskil en vertalers so onseker kan wees? Eenvoudig omdat dit nie altyd sonder meer duidelik is wat die Hebreeus (of die Grieks in die Nuwe Testament) beteken nie.

 

Wat is die probleem? Dat die Hebreeus inderdaad op verskillende maniere vertaal kan word. Daar is twee woorde wat die onsekerheid skep. Die een woord (ruag) is die Hebreeuse woord wat in verskillende betekenisse in die Ou Testament gebruik word:

  • Gees (as die Gees van God),
  • of gees (as die gees van die mens),
  • of lewe,
  • of wind,
  • of asem.

Dit beteken dat die verband sal moet help om te bepaal watter betekenis gepas is.

 

Die ander woord wat onsekerheid veroorsaak, is die gewone woord vir God (elohim). Die probleem met elohim is dat dit ook dikwels gebruik word as ’n superlatief, ’n vergrotende of oortreffende trap. Ons het byvoorbeeld die keuse om elohim in Jona 3:3 ook op twee maniere te vertaal: “Nineve was ’n geweldige groot stad” of: “Nineve was ’n stad so groot soos God.” Maar ek kry geen enkele vertaling van die Bybel wat vertaal met: “Nineve is so groot soos God” nie. Ons sal tog nie van New York sê die stad is so groot soos God nie. New York is vreeslik groot.

 

In Afrikaans ken ons die vergrotende trap ook in verband met die duiwel. Ons sê: “Hy gee geen duiwel om nie” wat beteken hoegenaamd niks, of “die probleem is duiwelsgroot” – vreeslik groot. Die verband moet dus bepaal of die woord elohim met “God” of met “baie groot” vertaal moet word. In Nineve se geval is dit redelik maklik. Maar hoe nou in Genesis? Ook hier sal die verband moet bepaal. Maar die blote feit dat groot geleerdes van mekaar verskil, wys die verband is ook nie só duidelik nie.

 

Maar waarom in die geheel dan so begaan oor die betekenis van hierdie teks? Omdat dit die enigste teks in die hele Bybel is wat, as dit met “die Gees van God” vertaal word, ’n duidelike verband lê tussen die Gees en die skepping. En tweedens sou dit ’n baie sterk getuienis vir die Gees as ’n aparte Goddelike Persoon wees.

 

Wat is die verband? Die eerste vraag is wat die betekenis is van die eerste sinnetjie in vers 1: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep”?

  • Is dit ’n opskrif vir hierdie hoofstuk, sodat dit beteken die skepping van hemel en aarde gaan nou in die volgende verse beskryf word, met die skepping van lig as die eerste skeppingsdaad?
  • Of is vers 1 self reeds die eerste skeppingsdaad, wat beteken dit vertel dat hemel en aarde geskep is, sodat die skepping van lig (v 3) ’n voortsetting van God se skeppingswerk is en nie die begin nie?

As ’n mens die eerste betekenis aanvaar, dat vers 1 net die opskrif is vir die skeppingswerk van God wat eers van vers 3 af beskryf word, is dit moeilik om vers 2 daarby in te pas. Dit sou immers beteken dat daar niks spesifieks gesê word oor die skepping van die hemel en die aarde nie. Die skeppingswerk van God sou dan eenvoudig begin met die skepping van lig op aarde. Waar kom die hemel en die aarde dan vandaan?

 

Maar dis net so moeilik om die tweede betekenis te aanvaar, dat vers 1 beskryf dat God die hemel en die aarde geskep het. Dit sou immers beteken dat God ’n woeste, donker, onbewoonbare aarde geskep het.

 

Dit is nie sonder meer duidelik wat om te kies nie. Beide het argumente vir en teen. Miskien is hier ’n kort opmerking nodig oor ’n interpretasie wat hierdie tweede moontlike betekenis aanvaar, dat vers 1 inderdaad beskryf dat God hemel en aarde skep, maar vers 2 dan sê die aarde was woes en onbewoonbaar.

 

Daar is mense wat meen dat daar in werklikheid ’n geweldige lang tyd tussen vers 1 en vers 2 lê. God sou vreeslik lank gelede hemel en aarde geskep het, daarna sou alles op ’n stadium op aarde skeef geloop het, God sou alles toe vernietig het sodat die aarde toe woes en onbewoonbaar geword het. Dit is dan die toestand wat in vers 2 beskryf word. En van vers 3 af het ons dan in werklikheid die herskepping van die verwoeste aarde. Met hierdie teorie probeer mense hulle interpretasie van Genesis 1 beskerm. Hulle is oortuig dat Genesis se skeppingsverhaal leer dat dit wat ons vandag as die skepping ken, omtrent 6 000 jaar gelede geskep is. Maar hulle sit met die probleem van fossiele en gesteentes wat volgens natuurwetenskaplikes miljoene jare oud is. Nou is hulle oortuig hierdie wesens en gesteentes het inderdaad soveel miljoene jare gelede geleef, tydens die “eerste” skepping. Maar om watter rede ook al het God dit verwoes, en toe eers weer 6 000 jaar gelede die aarde herskep soos ons dit vandag ken. Die ou fossiele is dus oorblyfsels van hierdie “eerste” skepping.

 

’n Mens moet erken dat dit regtig ’n oorspronklike gedagte is, maar dit is miskien darem ’n bietjie “dik vir ’n daalder”. Daar is nêrens in die Bybel enige aanduiding van so ’n vervloë “eerste” skepping nie. Die motief agter hierdie vreemde siening is dan ook nie iets wat ons in die Bybel kry nie, maar net die poging om hulle siening van die betekenis van Genesis 1 te verdedig. Maar ons het al in hoofstuk 4.2 gesien dat die Bybelskrywers ’n baie beperkte voorstelling van sowel ruimte as tyd gehad het, en dat dit nie deel van die boodskap van die Bybel is nie, sodat ons dit kan aanvaar as deel van die ou wêreldbeskouing.

 

Maar nou terug na ons eintlik probleem. Ons weet nie regtig met sekerheid of vers 1 as ’n opskrif vir die hele hoofstuk bedoel is, of as beskrywing van God se eerste skeppingsdaad nie. Ons sal verder sien dat dit nie regtig enige finale hulp bied vir die vertaling van ruag nie. Maar ons het tyd hieraan gegee om die besef tuis te bring dat dit dikwels baie moeilik is om uit te maak wat die oorspronklike tale regtig in ’n bepaalde konteks bedoel.

 

Hoe ons ook al vers 1 verstaan, moet ons aanvaar dat vers 2 iets sê oor die aarde se toestand, en dit is baie negatief. Vers 2 bestaan uit drie frases:

  • Die aarde was heeltemal onbewoonbaar.
  • Dit was donker op die diep waters.
  • Die Gees van God het oor die waters gesweef, of: ’n Vreeslike wind het oor die waters gewaai/gewoed.

Die eerste twee frases beskryf die negatiewe toestand van die aarde. Die vraag is nou of die derde frase daarmee voortgaan, en of dit ’n draai maak na die positiewe kant. Immers, as ons vertaal met: “Die Gees van God,” beteken dit dat daar ná die twee negatiewe stellings, nou ’n positiewe een kom. Maar as ons vertaal met ’n “vreeslike wind” beteken dit ook die derde stelling is negatief.

 

Daar is ’n paar argumente teen die positiewe interpretasie: die Gees van God.

  • Eerstens word nooit weer in die hele verhaal na die Gees verwys nie. Waarom hier so insidenteel?
  • Verder die vraag waarom juis die Gees as teenvoeter teen die negatiwiteit ingevoer sal word as die hele vervolg van die verhaal van vers 3 af op God konsentreer juis om sy grootheid te beskryf.
  • Derdens is die funksie van die Gees nie duidelik nie. Waarom is Hy hier? Wat doen Hy? Watter verskil maak Hy? Wat help dit in hierdie chaos dat Hy oor die waters sweef? Sy effekloosheid staan teenoor God wat van vers 3 af dadelik ’n radikale verskil maak deur lig in die woeste duisternis te skep.

 

Dit lyk dus eerder of die derde frase net die negatiewe toestand op aarde tot ’n klimaks voer:

  • eers die onbewoonbaarheid,
  • dan die duisternis,
  • en dan nog die vreeslike wind ook.

En as hierdie totale negatiwiteit dan sy toppunt met die derde frase bereik het, kom God na vore om die chaos op te ruim. Dit lyk my dus bevredigender om die negatiewe vertaling te kies: “’n geweldige wind het oor die water gewaai/gewoed.”

 

Maar dit beteken dat ons dan ook hier nie regtig ’n verwysing het na die Gees as ’n aparte Goddelike persoon nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...