Maria se geloof

image_pdfimage_print

 

We are irritable, o Lord. Until we make our peace with you –  Lewis Smedes

 

Maria se geloof

Ons het gesien dat tydens Kersfees God groot dinge aan ons gegee het. Hoe moet ons reageer op dit wat Hy vir ons gegee het. ‘n Goeie model is Maria. Wat kan ons by haar leer?

 

  1. Sy reageer deur na te dink

Toe die engel by Maria kom en sê dat sy swanger sal word en aan ‘n Seun geboorte sal gee, reageer sy nie met blinde geloof nie. Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kan beteken (Lukas 1:29). Sy was bekommerd. Is dit waarlik ‘n engel wat met my praat? Sy aanvaar nie onmiddellik die boodskap nie, maar vra eers: Hoe is so iets moontlik? Om in geloof te reageer sluit ook die intellek in. Ons kultuur leer vir ons om nie in die bonatuurlike te glo nie. Maria se kultuur het haar geleer dat God nooit ‘n mens kan word nie. Die kombinasie van bewyse en ondervinding breek hierdie hindernisse tot geloof. Sy twyfel, sy vra, sy gebruik haar rede – net soos ons vandag moet doen. Daar is ‘n soort twyfel wat dui op ‘n geslote denke. Sekere vorms van twyfel soek egter antwoorde. Soos Maria moet ons oop vir die waarheid wees – al verskil die waarheid van dit wat ons verwag het.

 

  1. Maria reageer geleidelik

Die Christelike geloof eis ons hele lewens. Baie van ons is sommer onmiddellik volkome toegewyd. Natuurlik verskil dit van mens tot mens. John Bunyan het 18 maande gestry voordat hy God se liefde en genade ontvang het. Die bewaarder in Filippi, daarenteen, het onmiddellik vir God volledig aanvaar (Handelinge 16:22 – 40). Bekering en aanvaarding kom na mense teen ‘n verskillende spoed. Deur na Maria se proses te kyk, kan ons baie leer.

  • Maria reageer met ’n mate van skeptisisme. Hoe is so iets moontlik? Sy stop nie onmiddellik die gesprek nie – sy vra meer inligting.
  • Sy aanvaar. Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het. Ons moet ook vertrou ten spyte van twyfel en voorbehoude.
  • Sy beoefen haar geloof vanuit haar hart. Maria gaan by Elisabet kuier. Dié sê vir haar: Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? Die kennis en insig wat Elisabet het, bevestig wat die engel gesê het. Sy word dus meer van haar geloof verseker. Ware geloof is ‘n proses, maar nie ‘n proses waaroor ons beheer het nie. Hy moet Hom aan ons openbaar anders sal ons Hom nie kry nie.

 

  1. Sy reageer met verwondering

In Lukas 1:46ev kry ons die loflied van Maria. Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God my Verlosser. Sy is ook verbaas dat juis sy gekies is. God het eeue lank aan hierdie dag voorberei oor hoe Hy die wêreld deur ’n eenvoudige, arm, ongetroude tiener gaan red. Die geloof is iets wat vir jou, aan jou en in jou gedoen word. Daarom die verwondering.

 

  1. Sy reageer met gewillige oorgawe

Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het. Hierdie is ‘n stelling van gehoorsaamheid. Haar gehoorsaamheid berus op die werklikheid dat Hy God is en daarom verdien Hy ons diens. Hy het die reg om te sê wat ons moet doen.

 

Hierdie opdrag om ons oor te gee, is teen ons kultuur. Persoonlike outonomie is vandag alles. Die engel sê vir Maria: Niks is vir God onmoontlik nie. Die geskiedenis wys dat die engel reg was. Gee oor aan Christus en moet nooit onderskat wat Hy in en deur jou kan doen nie.

 

 

image_pdfimage_print